{ARGIEF}

Goeie Vrydag ~ 29 Maart 2013 ~ Joh 18:1–19:42 

Die afgelope naweek het die Wes-Kaap se Stormers duidelik 80 minute rugby teen die Brumbies gespeel, en só die wedstryd oortuigend gewen. As ondersteuners het ons al baie keer gekla dat hulle juis nie al hul wedstryde voluit speel nie en is die kritiek dat hulle dikwels net 40 minute speel. Goeie Vrydag is die eerste helfte van die hoofwedstryd – die Paasnaweek-wedstryd, waarvan Paassondag die tweede helfte uitmaak. Christus Jesus word gekruisig om die verlossingswerk (ons van sonde te verlos), te inisieer en Hy sterf op Goeie Vrydag, maar staan dan juis die derde dag uit die dood uit op om die verlossingswerk te voltooi. Sonder die opstanding is die wedstryd nie afgehandel, het die kruis nie betekenis nie en word ons enersyds geroep om te glo in Jesus as die Seun van God en andersyds om onsself voluit diensbaar in sy Koninkryk te stel. Dit is soos Adrio König op Kruis en Dwars verlede Sondagaand oor die opstanding sê: “al relevansie van die opstanding vir ons vandag is dat die evangelie waar is.”

Wat die kruisdood ons wil leer is om die volle wedstryd van verlossing te speel – bedoelende ons moet ons ten volle toewy aan die verlossingsverhaal. Ons word geroep om enduit ons deelname aan die verlossing wat Jesus kom bewerk het, op te neem. Christenskap kan nie halfhartig aangepak word nie en ons getuienis kan nie deeltyds uitgedra word nie. Ons moet in die voorbeeld van Jesus wat enduit gegaan het, volg.

Die kruisdood van Jesus moet in ons hele lewe, ten spyte van ons besige programme, voluit tot uitdrukking kom. Jesus se kruisdood bevestig dat ons nie pyn en lyding in ons getuienislewering kan vermy of omseil nie, of net sekere tye van toepassing kan maak nie.

Veral in ons moreelvervalle en geweldgeteisterde samelewing kan ons nie bekostig om Vrydag-christene of Saterdag-christene te wees nie, nee ons moet volle Paasfees-christene wees, ons moet elkedag-christene wees, ons moet kontekstuele en praktiese Christene wees, Maandag-tot-Maandag-christene wees. Dit kan ons wees juis omdat ons weet Sondag kom, die opstandig-sondag kom, die leë graf kom, die oorwinningsdag kom.

Dit beteken dat ons in ons eie persoonlike lewe dié dinge moet kruisig wat ons geloofslewe in vertwyfeling bring, moet ons dié dinge kruisig wat die geloofwaardigheid van ons Christenskap onder verdenking plaas, moet ons afsterf van die dinge wat mense aanstoot gee tot die opneem van die kruis van Jesus en hulle verhinder om volle oorgawe aan die man aan die kruis te maak.

Die Duitse teoloog, Bonhoeffer, herinner ons in sy boek ‘The Cost of Discipleship’ dat “when Christ calls us, He calls us to die.” Vir my beteken dit ek moet die volle wedstryd van Christenskap speel, ek moet tot die einde volhard – alles gee. Ek moet bereid wees om die prys daarvoor te betaal, naamlik opoffering, oorgawe, volle vertroue, hoop op die opstanding en die vooruitsig van die ewige lewe.

Kruisiging bring wel die realiteit van pyn, lyding, God-verlatenheid en selfs dood aan die orde, maar hou ook die realiteit van hoop, van oorwinning en opstanding in ons visier. Daarom kan ons moed skep om die lewensiklus van Christenskap heelhartig op te neem, dit onder moeilike omstandighede van eensaamheid, verworpenheid, geweld, korrupsie, armoede en noem maar op, te vergestalt – juis omdat Christus nie net verneder was nie, maar verhoog was; nie net uitgelewer was nie, maar herenig was; nie net gekruisig is nie, maar ook opgestaan het; nie net dood was nie, maar lewend gemaak is. Dit behels die volle wedstryd van Christenskap en kan ons dit enduit speel wanneer Christus, Here van ons lewe en ons sterwe word en ons daardeur in staat gestel word om ook ons deelname enduit by te dra. Moenie tou opgooi nie. Moenie ‘n slagoffer word van mismoedigheid, neerslagtigheid en wanhopigheid nie, want ‘Vrydag’ gaan verby en ‘Sondag’, dié Sondag van die Opstanding, Paassondag, die Sondag van hoop en lewe, die Sondag van Oorwinning kom, ja die Sondag van die Here se verskyning kom. Amen.

Donald Katts

Seisoen van Luister powerpoint: http://www.seisoenvanluister.co.za/produkte/powerpoint-en-word/kerkjaar-volgorde/kerkjaar-2012-13/files-download/715_ad73f9b30ffdad6d68e037136b7264fe