{ARGIEF}

23 September 2012 ~ Sewentiene Sondag in Koninkrykstyd ~ Markus 9:30-37

Om te sien, om werklik te sien is nie altyd so ‘n eenvoudige aangeleentheid nie. Soms leef mens vir ‘n lang tyd ‘n werklikheid sonder om dit waarlik goed te sien, sonder om dit waarlik te begryp. Soms is daar goed, ook goeie goed, reg onder ‘n mens se oë en tog neem mens dit nie in nie, sien mens dit nie goed nie. Soms is al die tekens daar en tog sien ‘n mens dit nie want jy wil dit eenvoudig nie sien nie of kan dit nie onder fokus hou nie.

Hierdie week se sleutelteks vorm deel van ‘n groter geheel wat omarm word deur die genesingsverhale van twee blinde mense (Markus 8:22-26 en Markus 10:46-52). In die midde van hierdie omarming gaan dit egter nie oor hulle wat fisies blind is nie, maar eerder oor hulle wat nie kan sien nie of dalk nie wil sien nie.

Jesus kondig driemaal aan dat sy weg een van pyn, lyding, smart en dood sal wees. Hy sê driemaal dat Hy deur die dood heen die lewe sal verkry, maar dat die weg daarheen hoegenaamd nie rooskleurig sal wees nie.

Driemaal verstaan sy naaste mense Hom verkeerd; sien hulle nie goed waarop dit aankom nie. Telkens na hierdie misverstande gebruik Jesus die geleentheid om sy dissipels te leer oor wat dit waarlik beteken om ‘n dissipel te wees. Jesus maak dit deurgaans besonder duidelik: om ‘n dissipel te wees beteken om minder te wees, om weg te gee, om prys te gee, om laaste te wees.

As Jesus hier vir ‘n tweede maal sy eie dood aankondig reageer die dissipels in stilte omdat hulle na bewering bang was om Jesus te vra oor die presiese konsekwensies van sy woorde. Eerder as om met Jesus in gesprek te gaan, raak hulle onderling aan die stry oor wie die belangrikste is in die Koninkryk. Jesus antwoord hulle onbegrip in deernis as Hy weer saam met hulle gaan sit en weer vir hulle verduidelik dat die waardes van die Koninkryk anders lyk as dié van die wêreld.

As moderne lesers, wat iets meer van die geheel sien as die dissipels wat daar om Jesus leef, vra ons dalk: Hoe dit moontlik is dat die dissipels nie kan begryp wat Jesus telkens vir hulle probeer verduidelik oor sy eie weg en per implikasie oor hulle lewenspad nie? Hoe is dit dat hulle nie kan sien nie?

Om iets daarvan beter te verstaan het ons nodig om die dissipels binne hulle konteks te begryp. Jesus se beskrywing van die Messias strook nie met die dominante verwagting van die dag nie. Die Messias van die dissipels se verwagting kom om te heers en om met mag te lei en met glorie te regeer. Nou praat Jesus van ‘n weg van lyding en die dood. Dalk moet ons oë sagter op die dissipels wees, dalk moet ons oordeel nie so streng wees nie. Dit wat hulle wil sien, maak dit onmoontlik om dit wat waarlik is te sien.

Die herhaling van die wanbegrip maak van die dissipels se onkunde ‘n uitstaan kenmerk. Lesers van die evangelie kan dit nie miskyk nie. Tog, in ag genome, die bykans verswelgende strewe na mag, eer, aansien, gewildheid en bekendheid wat ons eie samelewing kenmerk, kan mens amper nie anders as om te vra of ons regtig enigsins beter verstaan as die dissipels wat daar om Jesus geleef het nie. Weet ons regtig wat die koste van dissipelskap is, hoe ‘n lewe lyk waar die Koninkryk van God belangriker is as ek self? Weet ek regtig wat dit beteken om leeg te word van myself sodat God deur my ander wat selfs minder as ek het, kan aanraak.

Voor ons te krities is oor hulle wat nie kan sien nie, moet ons dalk vra of ons nie ook sienende blind is nie?

Charlene van der Walt

Preekriglyn in Argief: http://www.communitas.co.za/leesrooster/nt/41-Markus/Markus%2009_30-37.htm

 

Seisoen van Luister

Markus 9:30-37– 17de Sondag in Koninkrykstyd (Skepping 4) – 23 September 2012

Markus9 30-37Kinders kan maklik identifiseer met die gesprek oor wie die grootste is. Jesus sê dat die grootste onder ons is dié een wat die beste vir ander sorg en omgee. Enige van Max Lucado se Wemmel-stories sal gepas wees hier, veral Jy is Myne of Jy is Spesiaal in sy Oë. Daar is ook baie animasie flieks waarvan die tema goed aansluit hierby: The Tale of Despereaux of The Ant Bully. Die beste opsie is waarskynlik om Max Lucado se boek “The Tallest of Smalls” te koop en vir die kinders te lees – inligting in die Word dokument. Vir die preekriglyn is die invalshoek die navorsing van Northwestern, Duke en Harvard-Universiteit wat beleggers verlede jaar gevra het hoe hul beleggingsfondse oor die afgelope jaar gevaar het. ‘n Kontroletoets dui aan dat ‘n volle 88% van die fondse wat meen hulle het die mark oortref, hul prestasie oorskat het: “almal glo hulle is heelwat beter as die gemiddelde.” Dít is ook ’n siekte waaraan die dissipels gely het. Die meetinstrument vir die dissipels is hulle eie persoonlike belangrikheid. In reaksie op die futiele stryery help Jesus die dissipels om hulself reg te oriënteer met vier oriënteringspunte. 1) Om op reis te wees; 2) om jou lewe in diens van ander weg te gee – soos Jesus; 3) om nederige diens te verrig; 4) om soos ’n kindjie die koninkryk van God te ontvang.

Markus 9:30-37.ppt 1.35 MB Sep 17, 2012 07:45 Download 47
Markus 9:30-37.pptx 1.09 MB Sep 17, 2012 07:43 Download 27
Markus 9:30-37.doc 108 KB Sep 17, 2012 07:39 Download 54