{ARGIEF}

1. Toe die krans omval by die Uniegebou
Was ek ses en ‘n half en klein gebou
Met ‘n oog vir ‘n spook en ‘n oor in die wind
Wat jou toor en blindmaak soos ‘n kind
Vir die winter van die woord
In ‘n koukie prent en ‘n wattewolk
Hou ‘n stokkieman sy mecurochrome dolk
Maar my hart, juffrou Krause
In ‘n kosblik en die pouse
En die peanutbotterbrood en die rooi granaat
Maar die stem van ‘n oom wat my bangmaak
In my ore praat
Gee jy wat jy neem? (x3)

2. Met my eerste dans was ek van balans af
Maar kort na funcky town reeds man
Met ‘n bier in die hand en ‘n woord of twee
Oor die sondagkoerant en Gerrie Coetzee
Wat almal platgeslaan het
Maar later alleen in die Vrystaatnag
In Vermeulenstraat sê die grafplaas wag
Ek stap saam tot by die blou kerk
En my pall mall stompie flou trek
Hy sê ek kan die noodlot nie vertrou nie
En ek kan dit God weet nie meer hou nie
Ek gee alles wat ek het
Gee jy wat jy neem? (x3)

3. In siesta-land word ek opgepas
Druk my foto-album teen my vas
Ek wou jou lankal waarsku
Maar my tong is oud en praatsku
Van eensaamheid en vrees
Hier van my ambulans af
Nog steeds van balans af
Met die spataar op my kuite
En my kosblik vol verwyte
Want in die market van my lewe
Was dit toonbank hoog en ek lewe
As ek my pennies oorgee
Vir die oomblik vir melk en vetseep
En baie ander goed …
Gee jy wat jy neem? (x3)

Hierdie lied wat handel oor ‘n ou man wat sterwend is en terugkyk op sy lewe, het my diep geraak. Wonder elkeen van ons nie maar soos ons ouer word, of jou lewe die moeite werd was nie?

Die omval van die krans by die Uniegebou sou kon dui op die ineenstorting van mag en orde soos ons dit in die ou bedeling geken het. Hierdie persoon oor wie Steve sing, verlang ook terug na sy kinderdae en ander mooi goed wat daarmee saamgegaan het. Dit wys verder op die negatiewe gevolge van naïwiteit.

Hier sou ‘n mens kon nadink oor mag, wet en orde vandag. Ook oor sommige negatiewe dinge in die land en in ons elkeen se lewe. Wat word bedoel met “Gee jy wat jy neem?”. Wat kan gedoen word om van SA ‘n nog beter plek te maak? (sien vrug van die Gees – verlede week)

In vers 2 word vertel van hierdie persoon se losbandige jongdae. Hoe hy morele verval beleef het, maar hoe dit vir hom niks in die sak gebring het nie. Ook van die korte duur van Gerrie Coetzee se vreugde, en die latere alleenheid op ‘n Vrystaataand – hy was vir net 1 geveg wêreldkampioen. Is dit wat ons kry, nie maar van korte duur nie? Ook word vertel van die feit dat ‘n mens betekenis soek in die lewe, maar dikwels op die verkeerde plekke – let op die kontras tussen die blou kerkie en pall mall sigarette.

Hier sou gedink kon word aan wat die dinge is wat ons vandag doen, maar wat nie noodwendig opbouend is nie – in ons eie lewe, maar ook in die wêreld. Watter sinloosheid jaag ons soms na? Waar/hoe kry ‘n mens sin en betekenis? Voel ons nie ook soms dat God weet ons sekere negatiewe goed net nie meer kan verduur nie?

In die 3de vers word vertel van die alleenheid van oudwees. Hoe mense in hulle lewe ander (wie dikwels kosbaar is!) seermaak en wegstoot, en wanneer hulle oud geword het, gevolglik alleen is. Dit handel oor hoe ‘n mens jou geld moet oorgee. ‘n Mens ontdek dikwels te laat dat geld en die bymekaar maak van besittings nié belangriker as verhoudings mag wees nie!

Hier sou ‘n mens kon nadink oor wat jy kan doen om nie “alleen” oud te word nie. Hoe kan ons omgee vir hulle wat wel alleen is? Hoe kan ‘n mens jou besittings sinvol bestuur? Gee jy wat jy neem, ten opsigte van jou familie, land, die skool, die kerk, ens.?

Wat Paulus sê, is darem baie waar. Dit wat ‘n mens saai, sal jy oes! As jy nie verantwoordelik leef nie, sal jy die gevolge dra. Maar as jy positief leef, sal jou lewe wonderlike vrug dra.

(Bron: Waardes wat werk – Lux Verbi.Bm)

Chris Jones