{ARGIEF}

“God wants you to have it – and He wants you to have it now!” Dit is die nou al oorbekende slagspreuk van sommige van die voorstanders van die Afro-Amerikaanse “Health, Wealth and Prosperity Theology”. Voorstanders van hierdie teologie maak ook van tyd tot tyd, in die persoon van byvoorbeeld T D Jakes en Benny Hinn, hulle verskyning op ons televisieskerms. In die lig van die skeefgetrekte verwagtinge wat dié soort teologie by arm mense veral in ontwikkelende lande kan skep en aan die ander kant die hebsug waartoe dit die rykes kan aanpor, rus daar ’n groot verantwoordelikheid op die kerk om weer behoorlik na te dink oor wat die Bybel ten opsigte van rykdom en armoede, volhoubare ontwikke-ling en verantwoordelike rentmeesterskap, leer. Die kerk behoort dan duidelike leiding daaroor te gee binne die gemeenskap waarin die haar bevind.

Dit is duidelik dat hierdie soort teologie hebsug en gierigheid aan die hand werk eerder as om dit te beveg en dit is goed dat die preekstudie dit uitlig. Ek het gewonder of ons nie ook met skerper onderskeiding moet kyk na ons ekonomiese omgewing in Suider Afrika nie.  ‘n Dieper kyk hierna sal ons almal uitdaag om na te dink oor die ekonomiese realiteite waarin ons vandag sit en waaraan ons deelneem:

  • Is hebsug nie ook ‘n groot aanleidende faktor vir die finansiële krisis wat ons wêreldwyd getref het die afgelope paar jare nie?
  • Watter aandeel het gierigheid aan die korrupsie wat oa in ons staatsmasjinerie gevestig geraak het nie? In die afgelope week het COSATO die regering aangespreek omdat hulle blykbaar tandloos toekyk hoedat korrupsie toegelaat word in baie staatsdepartemente. In die sakeafdeling word verwys na ongebreidelde korrupsie in die Kongo.
  • Is gierigheid die rede, vra Anna-Marie Lombard in Rapport, waarom derduisende klerewerkers in die klerebedryf minder as ‘n minimumloon verdien?
  • Net ‘n paar blaaie verder vra Sunét Kitshoff waarom dit so duur geraak het om siek te word vandag.

Onderliggend aan die berigte is ‘n samelewing waarin daar skewe waardes is. Waar gierigheid byna die norm geraak het. Waarin die uitputting van die bronne van die natuur ons by ‘n ekologiese ramp gebring het.

Ons teks maak ‘n skerp kontras tussen geldgierigheid en lewe vanuit die geloof waar opregtheid, toewyding aan God, geloof, liefde, volharding en minsaamheid (v11) as waardes gestel word.  Hierdie waardes is gebou op ‘n lewenshouding van tevredenheid (v8) met wat ons het en die belydenis dat wat ons het uit God se hand kom waaroor ons as rentmeesters aangestel is. As ons hierdie waardes die riglyne maak van ons ekonomiese en finansiële ideale sou die berigte in ons koerante dalk meer kon vertel van nyweraars wat hulle arbeiders ‘n menswaardige loon betaal, dat korrupsie gewen word omdat daar in die Staat eerlike amptenare is wat tevrede is om diens te lewer ens

Ek het onlangs met ‘n groep dosente van Hefsiba teologiese skool in Mosambiek ‘n analise gemaak van die groot uitdagings in hulle gemeenskap. Hulle was van oordeel dat nie armoede en ook nie MIV-Vigs die grootste oorsake van ellende in Mosambiek is nie, maar ‘n gebrek aan integriteit en sober waardes in die Staat en besigheid van hulle land. Ons gaan nie in Suider-Afrika ‘n werklike verskil kan maak indien ons nie die waarheid van 1 Tim 6 in die oë kyk nie – gierigheid is die wortel van alle kwaad.

Seisoen van Luister PowerPoint

Vorige riglyn in Preekargief