{ARGIEF}

19 Februarie 2012 ~ Sondag van die verheerliking ~ 2 Kon 2: 1-12

Ek is beïndruk met die Preekstudies (Leesrooster) se hantering van hierdie teksgedeelte. Dis ‘n  voorreg om so ‘n preekhulp te hê. Na my oordeel moet ‘n mens 2 Kon 2 tot ten minste vers 14 lees, en beslis Markus 9:2-9 daarmee saam. Mense sonder Bybelkennis gaan nie die verband tussen die twee gedeeltes ken nie, en jou preek sal sonder twyfel van albei gedeeltes gebruik moet maak.

Vir die skryf van die preek, sou ek voorstel dat jy die “Hooflyne vir ‘n preek” op bl 74 volg asook die preekvoorstel self wat daarop volg. Dit is gelaai met aktuele aanknopingspunte. Ek verwys na ‘n paar.

In “my” gemeente is ons missie of roeping om ‘n missionêre gemeente te word en ons fokus/ leuse is:  ʼn Lewe wat iets beteken. Dink aan die moontlikheid om na Moses, Elia en Jesus te verwys, en te praat oor roeping, oor gehoorsaamheid, oor ‘n lewe wat iets beteken. Hoe gaan jy terugkyk oor jou lewe? Vat jou gemeente se storie en vra die vraag oor roeping, oor volharding-gehoorsaamheid en oor voleinding. Watter stories gaan jou familie en gemeenskap oor jou lewe vertel? Watter stories vertel mense van julle gemeente? ‘n Lewe en ‘n gemeente wat God verheerlik, moet getransformeer word, moet altyd in ‘n transformasie reis betrokke wees – illustreer dit met voorbeelde uit die lewe van Moses, Elia en Jesus.

Verheerliking staan sentraal oor ons drie voorbeeld-mense se lewe geskryf. Waarin soek ons wêreld verheerliking? Die metamorpheo (leesrooster bl 70 links onder) wat die wêreld najaag is só siek! Jy kan voorbeelde uit die nuus en geskiedenis neem wat jou gemeenskap verstaan en mee kan assosieer. Jy gaan die versoeking beleef om te veel tyd hieraan te spandeer! Moenie. Vat die fokus terug na die teks.

Nog ‘n gedagte (en dis nou tipies van ‘n oupa met naamgenote): Let op hoe sterk die beginsels van dissipelskap-agtergrond, gegewe 2 Kon 2 en Mark 9, is. Let dan op hoe ouers deesdae vir hulle kinders name gee. In watter storielyn wil jy jou kind veranker as jy haar of hom vernoem? Waaraan bind – verbond jy hulle? Elia en Elisa het iets verstaan van hoe seën werk. Ek dink aan die koerantberigte wat ek gisteraand lê en lees het en hoe feitlik elke storie om menslike selfsug gesentreerd is … om die drie groot versoekings waarmee Satan Jesus (Matt 4) probeer vang het. Sonder ‘n helder missionale roeping word jy gevang. Moses, Elia en Jesus se behoud was dat hulle lewe ‘n reis was. Dit was lewens wat iets beteken het omdat hulle missionaal geroep was, behoort het!

Nog ʼn  gedagte: Sonder die community van die Drie-eenheid sou Jesus nie kon doen wat Hy gedoen het nie. Sonder die community op die berg van verheerliking sou Jesus nie sy reis kon voortsit nie. Elisa bly solank moontlik in die community van Elia … die seën van community is die fondament van alle verheerliking, van ‘n lewe wat die moeite werd is, van ‘n lewe wat iets beteken. Is vandag se community nie grotendeels TV en al die ander elektroniese gadgets, op Facebook en Twitter vlak nie? Het jy ‘n Elia mentor in jou lewe? Met wie spandeer jy tyd “op die berg”?

Jurgens Hendriks

Seisoen van Luister Powerpoint

Preekriglyn in Argief