{ARGIEF}

Sondag 4 November 2013 ~  23e Sondag in die Koninkrykstyd ~ Deut 6:1-9

Hierdie skrifgedeelte is, met verwysing na Gen 3, die boom van die lewe. Wie van sy vrugte eet, sal vir ewig lewe. Om dit saam met Markus 12: 28-34 te lees soos die Preekstudie-eksegese voorstel, maak sin. Omdat die bekende “Groot Gebod” oor die liefde tot God en die naaste die kern van ons verhouding tot God en die wêreld verwoord, is die toepassingsveld van die preek en die aktueel maak daarvan so wyd en oop soos ʼn Kalahari horison.

ʼn Indeling van die perikoop kan verwys na Vers 1: die bevel om te leer; Vers 2-3: die belofte wat vas staan vir elke leerder: LEWE (let op hoe die woordjie lewe hier figureer: leefplek (v 1); leeftyd (v 2); leefwyse (v 3 en 6-9). Vers 4-5: die inhoud van wat geleer moet word, die gebod van die liefde. Let wel, hierdie liefde kom na ons toe in die Woord en openbaring van die drie-enige God. Wat ons moet leer, is die regte reaksie op God se genade … synde gehoorsaamheid.

Vers 6-9 kan jy as die kurrikulum en pedagogie van onderrig beskryf.

Een idee is om ʼn collage te maak van koerantberigte oor die huwelik, gesin, egskeiding, kinder-opvoeding opskrifte en dit op PowerPoint of so iets in te bring. Sosiologies beskou, leef ons in ʼn tyd waarin huwelike en gesinne uitmekaarval. Die statistiek van enkelouers, van die persentasie kinders wat buite die huwelik gebore word, die spanning waaraan huwelike en gesinne blootgestel word in die globale samelewing waarin ons tans leef, is skrikwekkend. My lewe is radikaal beïnvloed deur:Castells, Manuel. 2004. The power of identity. The information age: economy, society and culture, volume II. 2nd ed. Oxford: Blackwell.
Castells, Manuel.2000. End of Millennium. The information age: economy, society and culture, volume III. 2nd Ed. Oxford: Blackwell

In die eerste boek is daar ʼn afdeling oor End of Patriargalism wat kontinent vir kontinent met statistiek die inploffing van die huwelik en gesinskultuur beskryf. In die tweede een is daar ʼn afdeling oor misdaad wat beskryf hoe onder andere mensehandel, die uitbuiting van vroue en kinders en die omvangryke seks-industrie ʼn globale besigheid geword het wat teen ʼn angswekkende tempo groei. Geen gesin in die hele wêreld, geen huwelik, geen gemeente is van die invloed hiervan vry nie.

Daar is baie internet materiaal hieroor beskikbaar. Jy sien oral hoe die Gees van die Here alternatiewe gemeenskappe skep waar mense, gesinne, gemeentes kan oorleef in terme van die ongelooflike kulturele aanslag teen skriftuurlike waardes en norme. Die literatuur van die Emergent Church (vgl Tickle, Phyllis. 2012. Emergent Christianity: What it is, where it is going and why it matters. Grand Rapids: Baker) vertel van nuwe lewe. Daar is organisasies soos The world needs a Father wat help (http://theworldneedsafather.com/ ).

As jy die teksgedeelte gebruik om oor Christelike Opvoeding te preek, sal daar nie een onaangeraakte persoon in die diens wees nie. Doen dit met baie nederigheid en liefde, nie veroordelend nie, want daar is soveel seer dat ons dit nie kan meet nie.

Die teksgedeelte word in die koningstyd gepreek en sê dat God, sy Woord, sy gebooie, voorskrifte en bepalings geleer en gehoorsaam moet word. Daarin is die geheim van die lewe opgesluit. Daar is net een Here, die God wie se wese liefde is. Om God te volg en in liefde te leef is nie ʼn kits-keuse en kitsoplossing nie. Dis ʼn leefwyse en ʼn kultuur. Dis waarvoor ons gemeentes nodig het … verhoudings en vriende met wie jy in die wêreld maar anders as die wêreld, moet leer leef. Familie is ongelooflik belangrik. ʼn Verbondsgeslag is families wat verse 6 tot 9 oor geslagte leer leef het. Dis die kosbaarste erfenis wat jy jou kinders kan gee. En as alles stukkend is? My oupa was ʼn alkoholis. Maar my pa het daarmee gebreek en sy gesin was vry, my gesin is vry en my kleinkinders word groot in vry huise waar die vloek gebreek is. Deut 6:1-9 is oor die lewe.

Jurgens Hendriks
hjh@sun.ac.za

Geen Preekriglyn in Argief

 

Seisoen van Luister

Deuteronomium 6:1-9 – 23ste Sondag in Koninkrykstyd – 4 November 2012

Deuteronomium6 1-9In Familietyd kan aangesluit word by die Mezuzah wat met die Shema gebed uit dié teks werk. Dit gee ’n uitstekende invalshoek om die teks vir familie- en gesinsvernuwing te gebruik. Deuteronomium 6 laat ons besef dat God vir ons is, ’n lewensbelangrike bewussyn. Dit motiveer ons om die opdrag wat Hy vir ons het, om Sy verteenwoordigers te wees, met passie aan te gryp. Ons word daarin ondersteun met die wete dat God self graag wil hê dat ons sal slaag om Sy karaktereienskappe aan die wêreld te vertoon. Hy wil Homself sien in wie ons is en hoe ons leef en optree. Daarom kan ons op Hom staatmaak om ons te ondersteun en help. Een van die primêre plekke waar Hy ons daarmee wil help, is die familie en gesin. Ma’s en pa’s, oumas en oupas is immers die belangrikste geloofsvormende invloede in kinders se lewens. Met vier belangrike gesinsvernuwing sleutels om in die praktyk te gebruik, kan hierdie ruimte weer sy primêre rol speel in elkeen van ons se families en gesinne.

Deuteronomium 6:1-9.ppt 1.1 MB Oct 29, 2012 10:50 Download
Deuteronomium 6:1-9.pptx 993.76 KB Oct 29, 2012 10:48 Download
Deuteronomium 6:1-9.doc 90 KB Oct 29, 2012 10:47 Download