{ARGIEF}

En vandag, sê ek, sing die Here vir ons ‘n mooi lied. Hy sing van hoe hy ‘n wingerd geplant het. Ek vra wie in die gemeente ‘n wingerd het. Niemand nie. Ek vra wie in hulle tuine werk. Niemand het ‘n tuin nie. Ek kyk by die venster uit na die troostelose huisies wat in rye staan. Nee, beslis is daar nie plek vir tuine nie. Buitendien vreet die bokke wat rondloop, alles op en die draad om die huisies hou niks uit nie. Die drade is net goed om wasgoed oor te hang.

Wil julle graag hoor hoe die Here tuin maak? vra ek. Ja, sê almal. Die Here soek vrugbare grond uit, begin ek Jesaja 5:1-7 oor te vertel. En dan spit Hy die grond, die rooigrond om. En dan haal Hy die klippe uit. Nou plant Hy die beste druiwestokke wat daar is. En Hy bou ook ‘n wagtoring. Dis iets soos ‘n voëlverskrikker, om al die voëls weg te hou. Hoe die Here die bokke gaan uithou, weet ek nie, sê ek. En dan kap Hy ‘n parskuip uit. Ek weet nie wat ‘n parskuip is nie, en die gemeente ook nie, maar ons dink toe dit beteken die Here het water aangelê na Sy wingerd toe.

Ek beduie so van hierdie hele plantproses dat my toga – wat ek moet aantrek – skoon in ‘n onbetaamlike rigting begin staan. Die gemeente lyk in hulle skik met my vertoning, en met die Here se lied.

Maar nou word die Here se lied treurig en kwaai, sê ek skielik. Die gemeente skrik.

Die Here sing dat Hy ons uitgekies het, en dat ons vrugbare grond is. Hy het ons omgespit. Hy het die klippe uit ons lewe uitgehaal. Hy het ons beplant met edele dinge. Hy het oor ons die wag gehou. Hy het water na ons toe aangelê.

En wat maak ons? Die Here het verwag dat ons goeie lekker soet druiwe sou dra. Maar ons het stink bessies gedra! G’n wonder die Here se mooi lied het treurig en kwaai geword nie. Die Zoeloe vir “treurig en kwaai” is lidumele, en ek beduie vir die gemeente dat die Here van ons ‘n laduma verwag het, om ‘n doel te skop, maar ons het hom net lidumele gemaak, hartseer en kwaai.

Ek kyk uit die hoek van my oog na die leierouderling. Hy is nou sommer baie gelukkig met my.

Kom ons luister vandag na die lied wat die Here vir Sakhelwe sing, sê ek. Wat is die Here se lied vir Sakhelwe?

Ek is nou by Jesaja 5 vers 7. Drie keer in Jesaja 5:1-7 sê die Here dat Hy iets verwag het, en dat Hy teleurgesteld is. Hy het verwag dat ons topklas druiwe sal dra, maar ons het wilde druiwe gedra. En hier in vers 7 gee die Here inhoud aan wat goeie druiwe is, druiwe soos wat Hy van ons verwag. Hy het verwag dat ons in vrede met mekaar sal saamleef, maar kyk net wat doen ons met mekaar? Die mans slaan die vroue. Die mense drink en vloek mekaar. Die jongmeisies en die jongmanne slaap sommer so wild met mekaar. Die kinders word weggegooi by die oumas.

En dan het die Here nog ‘n ding van ons verwag. Hy het verwag dat ons goed sal wees vir mekaar, en vir mekaar sal omgee. Maar kyk hoe lewe ons? Ons steek nie eers ons vinger uit na die mense wat honger is, en wat doodgaan van vigs nie. En wat van al die mense wat koud kry, en natreën. Ja, Sakhelwe weet van koudkry en natreën. Dis die hoogste dorp in die land. En kry min of meer die meeste reën. Dis nie ‘n lekker plek om in te bly in die winter as dit koud is nie, en ook nie in die somer as dit nat is nie.

Met die laaste gebed bid die leierouderling altyd wat hy dink ek ook nog moes gepreek het. Hy bedank die Here vir die preek, en voeg by dat die mense ook meer geld vir die kerk sal gee. Op ander plekke eet die mense bone, maar gee geld vir die kerk. Maar hier in Sakhelwe eet die mense elke week vleis, maar hulle gee nie genoeg geld vir die kerk nie, sê die ouderling en dan amen.

Ek wonder oppad huis toe wat Jesaja van hierdie preek sou sê. Jesaja 5:1-7 is ‘n gelykenis, oftewel, ‘n juridiese gelykenis. Dis ‘n storie wat vertel word, en wanneer die skuldige dan daarop reageer, word dit op hom toegepas. Dis soos Natan wat vir Dawid vertel van die ryk man wat baie vee het, maar wat die arm man se enigste lammertjie slag vir sy gaste. En wanneer Dawid verontwaardig daarop reageer, sê Natan: Maar dis u, o koning, wat baie vroue het maar Uria se enigste vrou vir hom gevat het.

Waar het Jesaja hierdie lied namens die Here gesing, en vir wie het hy dit gesing? Kan ek dit sommer so op Sakhelwe toepas?
Miskien het Jesaja hierdie lied by die Loofhutte-fees gesing, wanneer almal drink en dans en bly is oor die oes wat ingesamel is. En dan wil Jesaja vir hulle sê: Mense, onthou net, dit gaan nie regtig so goed tussen julle en die Here nie. Kyk ‘n bietjie hoe suur is julle wyn eintlik. Kyk hoe lyk die ongeregtigheid, die liefdeloosheid en die gierigheid onder julle!

Ja, miskien het Jesaja tog hierdie lied vir die mense gesing om hulle lewens reg te ruk en weer na hulle waardes te kyk. Hoe hulle mekaar behandel. Soos wat ek in Sakhelwe probeer doen het. Of miskien het hy dit vir die groot landeienaars van sy tyd gesing. Wat die kleinboere se grond belas het, totdat hulle dit self kon inpalm. En nog meer wyn en olie vir die uitvoermark kon verbou. En dit terwyl die kleinboer self nou op die grond van sy voorsate as ‘n arbeider moet werk. En spreek Jesaja die mense aan wat die samelewing verarm en vermink ter wille van hulle eie gierigheid.
Maar miskien sing die Here hier ‘n lied vir ons gemeentes wat ons op altwee vlakke kan toepas, die persoonlike vlak en op die vlak van die samelewing.

Op persoonlike vlak kan ons gerus elkeen weer kyk na ons waardes. Is ons ‘gewelddadig’ teenoor mekaar in ons dade en ons woorde? En is ons gierig? Gedra ons ons soos mense wat in ‘n samelewing leef “where dog eats dog”, of is ons as Christene anders in hoe ons mekaar behandel?
En dan is ons sommer al klaar op die samelewingsvlak. Bou ons as Christene aan ‘n samelewing waar “goedwees vir mekaar” en “mekaar nie uitsuig en uitbuit nie” ons waardes is?

Miskien kan ons as gemeente elk ‘n lys maak van die waardes wat ons elkeen en as ‘n gemeenskap wil najaag. En dan elke week voor mekaar ‘meet’ hoe ons daarmee gevorder het.

En dit dink ek sou beslis Jesaja se goedkeuring weggedra het!

Immers het Jesus self hierdie gelykenis van Jesaja gebruik in een van sy eie gelykenisse (Markus 12:1-12) juis om ook vir sy hoorders aan te moedig om die goeie onder hulle te erken, en uit te bou.

Christina Landman

Seisoen van Luister Powerpoint

Geen verdere preekriglyne in Argief