{ARGIEF}

Ek het nou lank daaroor gewonder waarom ons in Koninkrykstyd Genesis 2:19-24 moet lees. Ons almal ken die woorde daarvan baie goed, want ons hoor dit gereeld by paartietyd. Hoe goed ken ons nie die woorde nie. Ons onthou dit uit ons jongmens-droomtyd en dus uit die ou 1933-vertaling: Dis God self wat sê: “Dis nie goed dat die mens alleen is nie”. Daarmee het ons almal saamgestem. Nee, kyk, daardie outjie wat my uitvat, moet nou net besef hoe sleg dit vir hom is om alleen te wees, en my vra om met hom te trou. En dan maak God ‘n vrou uit die man se rib, en ons praat almal met romanse en bewondering daarvan dat God dit goed gedink het om die vrou so na ‘n man se hart te maak. En dan sê die man iets so moois oor die vrou, ons wil sommer huil. Hy sê: “Dit is nou eindelik been van my gebeente en vlees van my vlees.”

 

So gee die man erkenning aan die eenheid wat tussen hom en sy vrou bestaan. O dis so mooi. En dan die hoogtepunt van verliefde woorde: “Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees.”

Wat sal ons nou vir mekaar sê oor hierdie bekende woorde, wat by elkeen van ons iets deernisvol oproep uit ‘n tyd toe ons nog kon droom?

Eksegete en teoloë het hierdie verse al genadeloos ontleed. Baie is al geskryf oor die politiek wat agter “Dis nou been van my gebeente en vlees van my vlees” lê. Hoeveel konings het dit nie al gebruik om mense aan hulle lojaliteit teenoor die “regering” van die dag te herinner nie? En wat van vers 24: “Die man sal sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef”? Waar kom dit vandaan? Dit is gladnie hoe dit in oud-Israel gegaan het nie, want daar het die vrou als gelos om by haar man se familie aan te sluit. En die stukkie “En hulle sal een vlees wees”? Is dit daar gesit om monogamie te ondersteun, dat elke man net een vrou sal hê? Maar dis ook nie hoe dit in oud-Israel gegaan het nie.

En wat moet ons vandag met hierdie inligting maak? Kan ons hierdie vers vandag gebruik om te sê mense moet trou en nie sommer saamwoon nie? Kan ons die versgedeelte “En hulle sal een vlees wees” gebruik om te sê dat mense nie mag skei nie, want hulle is nou “een vlees”. Of wil die vers maar net sê man en vrou sal altyd na mekaar hunker en ons moet dit maar net erken?

En wat van die vers wat sê die vrou is as die man se “helper” gemaak? Kan ons dit vandag gebruik om te sê vroue moet onderdanig en gehoorsaam aan hulle mans wees en – al is hulle baas by die werk – hulle aan die man se wil in die huwelik onderwerp? Ek wil maar net bysê dat die woord “helper” wat hier gebruik word, negentien keer in die Ou Testament voorkom, en dat dit twaalf keer na God verwys! En God is tog nie ons mindere omdat hy ons helper is nie, nie waar nie?
Maar kom ons praat vandag nie oor hierdie dinge nie. Kom ons praat nie oor wie is sterker en beter en belangriker in ‘n verhouding nie. Kom ons praat oor hoe ‘n man en ‘n vrou wat in ‘n intieme verhouding is, met mekaar kan omgaan soos dit kan wees in die Koninkryk van God.

Hoe leef man en vrou saam in die koninkryk van God? Dit kan ons mekaar vandag prakties afvra, juis terwyl ons nou in Koninkrykstyd is (‘n tyd wat natuurlik nie ophou met Kersfees of Paasfees nie!)

Die eerste ding wat belangrik is in ‘n verhouding, is dat ‘n mens jou emosies moet kan uitdruk. Die vyf basiese emosies is mos pyn, woede, vrees – en dan ook liefde en blydskap.

Kom ons kyk na daardie eerste drietjies – pyn, woede en vrees – die drie wat ‘n verhouding kan verwoes as dit verkeerd uitgedruk word. Jy moet met jou maat kan praat oor die pyn wat jou maat jou aangedoen het, en die woede wat jy daaroor voel, en ook oor vrese wat jy het wat die verhouding betref – maar jy moet dit so doen sonder om jou maat aan te val of te verwyt. En jy moet ook kan luister wanneer jou maat pyn het, en kwaad is, en bang is … sonder dat jy wil toemaak en weghardloop, of terug wil seermaak.

Ek dink ‘n mens kan dit opsom deur te sê julle moet vir mekaar ‘n emosioneel veilige plek skep. Maar om so te wees dat jou maat emosioneel veilig by jou voel… daarvoor moet jy baie versigtig met sy of haar emosies omgaan. Wys jy het respek vir sy of haar gevoelens. En jy moet nie verwag dat sy meer respek vir jou gevoelens het as wat jy vir hare het nie. Dis ‘n gelyke ding hierdie.

Tweedens moet julle in julle verhouding grense trek. Dit sluit aan by die eerste punt. Jy moet nie sommer enigiets vir jou maat kan sê en sy of hy moet dit maar sluk nie. En julle moet ooreenkom wie watter besluite neem, en watter julle saam neem. En ek gaan nie hieroor uitbrei nie, want dis ‘n baie persoonlike ding en uniek aan elke verhouding. Wat party pare saamdoen, besluit ander om nie saam te doen nie. Party pare het net gesamentlike vriende, terwyl ander hulle eie vriende en vriendinne het. Ek sou dink dis goed as ‘n vrou haar eie vriendinne het met wie sy alleen kuier. En mans seker ook.

Derdens dink ek ‘n mens moet bewuste keuses maak om ‘n verhouding aan die gang te hou en te voed. Ek noem ‘n paar. Jy moet kies om te speel. Jy moet kies om saam met jou maat lekker dinge te doen, speelse dinge te doen, kreatief te wees, te kuier en te doen watookal vir julle lekker is om saam te doen.

Ek dink ook elkeen van julle moet julle reg opgee om altyd reg te wees. Dis vreeslik om saam met iemand te lewe wat altyd reg moet wees. Kies liewer om mekaar te vertrou en te respekteer. Dis baie beter as om altyd reg te moet wees. En spreek waardering uit vir wat jou maat doen, al is hy of sy nie volmaak nie. En al is jy reg en hy of sy is nie reg nie.

Dis maar net ‘n paar dingetjies. Daar is nog baie ander vaardighede wat ‘n mens moet aanleer om ‘n verhouding volhoubaar te maak en om soos Koninkrykskinders in God se Koninkryk met mekaar saam te leef. Maar voorspoed daarmee. Onthou, ‘n mens word nie in ‘n verhouding gebore nie, jy moet daarin skud.

Genesis 2:18-24– 19de Sondag in Koninkrykstyd– 7 Oktober 2012

Genesis2 18-24Dit is ’n goeie tyd om op die wonder van die huwelik te fokus, en ouers met hulle kinders te laat gesels oor God se rol in hulle verbintenis aan mekaar. Of jy kan die storie vertel van “Swemmertjie” aan die hand van ‘n ekstra PowerPoint (skakel in die riglyn). Vir die preekriglyn kan jy aansluit by die ouer verhaal van Robinson Crusoe of die meer resente verhaal van Tom Hanks in Cast Away wat die tema op die tafel sit dat ‘n mens ‘n metgesel nodig het om te kan oorleef. Ons is vir mekaar gemaak. Dit is wat Genesis 2 vir ons wil sê: so is ons regtig gemaak. Alleen is dus nog nie klaar nie. Ons is geskep vir verhoudings. Daarom sê die Here “Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan help, sy gelyke” (sy eweknie). Ons teks maak ook ‘n venster oop op die karakter van God. Hy is die metgesel-God.

Genesis 2:18-24.ppt 807.5 KB Oct 01, 2012 10:12 Download
Genesis 2:18-24.pptx 620.78 KB Oct 01, 2012 10:11 Download
Genesis 2:18-24.doc 100 KB Oct 01, 2012 10:10 Download