{ARGIEF}

Sondag 26 Februarie 2012 ~ Eerste Sondag in Lydingstyd ~ Die verbond met Noag – Genesis 9:8-17

Sondae in die Lydingseisoen het ‘n bykans tweeledige karakter. Aan die een kant, in lyn met die algemene karakter van die seisoen is dit ‘n noodsaaklike tyd van refleksie en nadenke. Dit sou goed wees om stil geleenthede te skep in die liturgie sodat die kontemplatiewe karakter van die seisoen nie verlore gaan nie. Aan die ander kant bly dit ‘n feesgeleentheid waarin die gemeente weer herinner word aan God se trou en die hoop wat as gevolg daarvan ‘n onblusbare realiteit is. Lydenstyd is die seisoen wat ons by uitstek bewus maak van God se betrokkenheid by die wêreld.

Die verbondsmoment tussen God en Noag staan sentraal in ons nadenke met die oog op Sondag se erediens. Die teks bied aan ons as geloofsgemeenskap ‘n merkwaardige geleentheid om, in die lig van die verbond, hier aan die begin van Lydenstyd weer te dink oor hierdie seisoen. Die moment waarvan Genesis 9:8-17 vertel is ingebed in ‘n groter narratiewe konteks. Ek dink die Noag-verhaal kan met groot vrug gebruik word om die gewig van die moment te verhelder.

Die teks illustreer iets van die vreemde logika van die evangelie. Die verbondsvolk, die wat God in Abraham uitgekies het en met wie God in ‘n naby verbondenheid leef, het verword. Sosiale verval, korrupsie, onreg en leuens voer die botoon. Oorsaak-gevolg denke sou vir hierdie situasie ‘n eenvoudige oplossing bied. Die uitverkorenes is ongehoorsaam, hulle draai op God die rug en die noodwendige natuurlike gevolge daarvoor is straf. Die dood. Vernietiging.

In die middel van hierdie optelsom gebeur daar egter iets merkwaardigs. God buig neer. God gryp in. God maak weer opnuut bemoeienis. In die 2003 preekstudie oor hierdie teks verwys die skrywer na die werk van die Duitse Teoloog D. Sölle wat ‘n skeppingsteologie (God heeft mensen nodig) ontwikkel in die vorm van ‘n bevrydingsteologie: “Volgens haar is die God van die Bybel ‘n bevryder-god. Die mens kan sy godsbeelde verander omdat God self van gedagte verander. Die reënboog, sê Sölle, is simbool van God se ommekeer. Die reënboog bevestig dat God, soos die Ou Testament oor Hom praat, van gedagte verander en sy vloek oor die aarde teruggetrek het. God het die oorlogsboog neergelê en in ‘n boog van die verbond verander. Dit is nou ‘n simbool van vrede. Die reënboog is volgens haar ‘n teken van vrede tussen God en aarde. Die aarde sal nooit weer vervloek word nie. Die reënboog herinner aan potensiële vrede, die beloofde vrede, die vrede wat die mens self moet bewerk. Hierin word die mens se rol as mede-skepper van God beklemtoon. Dié interpretasie van die Noagitiese verbond kan lei tot geringskatting van God se genade, maar open ‘n perspektief op die mens se verantwoordelikheid teenoor die skepping.”

Die verbond word vernuwe met Noag. God kom sê weer opnuut: “Ek wil vir jou ‘n God wees (ek wil jou beskerm, ek wil met jou onderweg gaan, ek wil met jou bemoeienis maak, ek wil met jou die lewe doen), wees jy vir my ‘n kind (wees gehoorsaam aan my gebod, bewys liefde, soek my in jou onsekerheid, roep my aan in jou nood, beoefen geregtigheid aan hulle wat jou pad kruis)”. Omdat God getrou is aan Sy woord, het die verbondsvolk hoop en word ‘n lewe van geregtigheid moontlik. Die verbond dring ons om nie gerus te raak nie, om nie stil te raak nie, om juis nie te rus solank as wat onreg/geweld/wanhoop geskied nie.

Charlene van der Walt

Seisoen van Luister Ppoint

Preekriglyn in Argief