{ARGIEF}

29 Mei 2012 ~ Vierde Sondag van Paastyd ~ Goeie Herder Sondag: Psalm 23

Om ‘n erediens in te rig met Psalm 23 as fokusteks hou unieke en eiesoortige uitdagings in. Die teks  is so bekend en geliefd dat die moontlikheid bestaan dat dit vir gelowiges  byna oorbekend kan word, en dat ‘n nuwe of ‘n vars blik op die teks onmoontlik raak.

Die styl en aard van die Psalm is intiem en persoonlik. God word in metaforiese taal beskryf as oorwegend ‘n herder, maar ook as gids en gasheer. Die aanvanklike derde persoon beskrywing soos in verse 1-3, word in verse 4-5 uitgebou tot ‘n dialoog in die tweede persoon. In vers 6 praat die digter weer oor God maar die keer as die dieptepunt van ‘n belydenis van God se sorg en trou. ‘n belydenis van die wonder van God se sorg en beskerming vir die skrywer persoonlik.

Hoewel die skrywer getuig van God se trou en sorg, en oor die feit dat niks tekort skiet nie, is die omstandighede van die skrywer vermoedelik nie so rooskleurig nie. Die Psalm is ‘n belydenis vanuit die belewing en ervaring van gebrek, gevaar, geweld en eensaamheid. Tog put die Psalmskrywer genoeg vanuit die seker  wete van God se standvastige trou en sorg dat selfs in die realiteit van gebrek, die ervaring van oorvloed kan oorheers.

Die dringende vraag wat vir moderne lesers agter die immer bekende trooswoorde skuil, is egter: Is God genoeg? In ons verbruikerskultuur is welstand en ‘n ervaring van genoegsaamheid dikwels gekoppel aan die goed wat ons het, die veilige vestings wat ons bewoon en die sekerheid gekoppel aan ‘n bankbelans en beleggings. Is hierdie woorde van die Psalm skrywer regtig nog vir ons ‘n moontlike belydenis? Kan ek werklik sê in die lig van my wete van God se trou en sorg dat ek niks kort nie?

Die Psalm hou besondere waarde in vir heroriëntasie. Dit bied weer aan ons die kans om te vra: Waaraan hang my hart? Waar vind ek rus? Waar lê my heil?

Mag Psalm 23 die valse sekerhede ontbloot waarvan ons lewe so dikwels afhang en mag ons rus vind in die God wat teenwoordig is in ons lewe. Die God wat ons leer ken as herder, gids en gasheer.
 
Charlene van der Walt

Seisoen van Luister Powerpoint

Geen Preekriglyn in Argief