{ARGIEF}

22 April 2012 ~ Derde Sondag van Paastyd ~ Handelinge 3:12-19

1. Ken ek die volle verhaal van God?
2. Het jy jou al laat bekeer?
3. Leef ek ‘n “verskraalde bekering” of is ek deel van die volle verhaal van God?

1ste Vraag: Die groot verhaal
Die skare se plek in die groot verhaal
Petrus doen groot moeite om sy toehoorders onmiddellik te herinner aan die groter verhaal (trouens in elke toespraak in Handelinge), een waarmee hulle eintlik baie goed bekend was. Trek kortliks weer die lyne van die verhaal tot en met hier. Skepping, sondeval, God se reddingsplan in die Ou Testament, wat voleindig word met die wederkoms van Jesus. Petrus verwys in vers 17 op die skare se onkunde en die gevolg daarvan. Hy roep hulle opnuut op om nie net die groot verhaal te erken nie, maar om ‘n doelbewuste keuse uit te oefen ten opsigte van hulle eie posisie, nl. bekeer julle!

My plek in die groot verhaal
God se verhaal/plan met die wêreld leef dikwels net in ‘n verkorte weergawe in mense se gedagtes. God skep alles goed; mense kom tot ‘n val; God kondig reddingsplan aan; mense kom tot bekering en gaan hemel toe; Jesus kom weer. Hierdie verhaal is nie verkeerd nie, maar is steeds nie die volle verhaal nie. Uiteindelik bepaal die volle verhaal dit waarmee ons nou dink ons besig moet wees en waartoe mense dink hulle hulle moet laat bekeer. Die gevolg hiervan is dat gelowiges soms met ‘n verskraalde idee leef van waaroor God se heil gaan. Mense is baie kere net begaan oor of God vir hulle sal sorg en hulle sal red. Dink maar aan die geykte uitdrukking: Geloof is ‘n persoonlike saak.

Everyone has to believe in something…I believe I’ll have another beer – William Claude Fields.

2de Vraag: Het jy jou al laat bekeer?
In die vorige eeu was bekering byna op almal se lippe. Hierdie preke was dikwels in hulle kern net afgestem op die vraag of ek sekerheid het van die Ewige Lewe. In ‘n sogenaamde Christelike land hoor mens heelwat minder “bekeringspreke” as in die verlede. Die kommunikasiestyl is ook heelwat minder konfronterend. Petrus is egter in hierdie toespraak (vgl. v.19) baie direktief en konfronterend. Die oproep is onomwonde: Bekeer julle! Dit is ‘n oproep wat ons nie kan ontduik nie. Die gehoor sal uit die aard van die saak bepaal of daar langer stilgestaan word by die vraag of ek al gekies het om deel te wees van God se verhaal.

3de Vraag: Leef ek ‘n “verskraalde bekering” of is ek deel van die volle verhaal van God?
Dit is tog ironies dat mense vandag nog, net soos ten tye van hierdie gebeure, die fout maak deur te dink dat die wonderwerk wat plaasgevind het agv Petrus en Johannes se eie toedoen was. “Ware bekering” word dikwels steeds gekoppel aan wonderwerke, “kragtoertjies”, spesiale gawes en vermoëns. Daarom weer die verwysing na die groter verhaal. Uiteindelik maak God vir Hom ‘n volk bymekaar wat Hom verheerlik en sy nuwe wêreld vestig – nou reeds. Ons word geroep om anders te leef. Dink na oor die impak van die kerk in die wêreld – polities, ekonomies, maatskaplik. Mense is soms meer begaan oor die vraag of ek eendag hemel toe gaan, as oor die vraag of ek nou help skryf aan God se verhaal van redding vir die wêreld. Hier is dit dalk juis nodig om verse 25-26 by te trek – die “bottom line” van God se plan vir die wêreld, deur almal wat Hy roep, is om nuut te maak (v. 21) en tot seën te wees (vv. 25-26). Wie deel aan hierdie roeping, het deel aan God se volle verhaal. Watter impak maak die kerk in die wêreld vandag? Hoe kan ek deel wees hiervan?

Those who believe in God but without passion in the heart, without anguish of mind, without uncertainty, without doubt, and even without despair, believe only in the idea of God, and not in God himself. ~  Miguel de Unamuno

Jampie Nel