{ARGIEF}

9 Mei 2013 ~ Hemelvaart ~ Hand 1:1-11

Dit is so sewe uur die aand en ek is op pad na een van die voorstedelike gemeentes.  Die verkeer  vloei, maar stadig.  Al die bane is vol motors.
Hoekom is al die mense op die paaie en nie by hulle huise nie?  Dan besef ek, hulle is op pad na hulle huise!  Vanoggend donker daar weg en al weer donker en nou eers weer op pad terug.  Na alle waarskynlikheid moeg na ‘n lang dag se werk. 
 
Die gedagte kom by my op, hoe kan die kerk/gemeente vanaand iets van hulle verwag. En na vyf – ses sulke dae hoe kan die kerk/gemeente Sondag iets van hulle verwag? Moeë mense soek rus en vrede.  Immigreer na binne om net asem te skep.  Om te herlaai vir die aanslag van môre. Dan besef ek net, ons sal aan ‘n ander manier moet dink om gemeente en kerk te wees!

Nie net vir die stad en sy mense nie, maar ook vir die mense in die afgeleë dele van die land.  Alleenheid, eensaamheid, moeilik bekombaarheid, droogte, verlange na kinders in koshuise op ver plekke – dit alles maak jou op ‘n ander manier moeg en laat jou soek na ‘n uitkoms.

By die gemeente gekom (die opgeroeptes is tog daar!) wandel ons in die Woord. Wat vir my uitspring is vers 8:  “Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom …”
Ek wonder oor die krag.  Om te kan konsentreer en nie ‘n ongeluk te maak nie.  Om by die huis te kom en kos te maak.  Kinders te help met skoolwerk. Vergadering by te woon.  Reg te maak vir môre se werkdag?  Dankie Heilige Gees vir die krag vir elke dag!

Maar dan val my oog op die res van die sin: “   en julle sal my getuies wees in …”

Wat ‘n verrassing.  Nie (net) krag vir die daaglikse katastrofes nie, maar om getuie te wees.  Sommer hier waar ek is – in my motor, by die huis en tussen die mense waar ek my bevind en tot in die verste hoekie waar ek nog sal kom.   ‘n Getuie dat God mens geword het.  Dat Jesus aan die kruis gesterf het en opgestaan en opgevaar het.   Sodat ons in die krag en uit die krag en van die krag van die Heilige Gees kan leef en kan getuig van sy onbeskryflike liefde vir ons.

Dit is waarin die eintlike betekenis van ons lewens lê.  Die diepste doel van ons menswees.   Bemagtig deur die hemelvaart van Christus en bekragtig deur die Heilige Gees kan ons Sy kragtige getuies wees.

Hy die God vir ons.  Hy Immanuel.

Pierre Goosen

Preekriglyn in Argief _1: http://www.communitas.co.za/leesrooster/nt/44-Handelinge/Handelinge%2001_1-11%20eerste%20weergawe.htm

Preekriglyn in Argief _2: http://www.communitas.co.za/leesrooster/nt/44-Handelinge/Handelinge%2001_1-11%20tweede%20weergawe.htm

Seisoen van Luister PowerPoint: http://communitas.co.za/wp-content/uploads/2013/05/Handelinge1_1-11.jpg