{ARGIEF}

1 April 2012 ~ Sesde Sondag in Lydenstyd ~ Joh 12:12-16

Heuwels Fantasties en Heuwel Golgota

Ek lees baie onlangs dat Heuwels Fantasties die eerste rock-groep in Suid-Afrika is om ‘n rockkonsert op die dak van ’n 20 verdieping hoë gebou in die Johannesburgse middestad te hou. ‘n Fantastiese aand!

As ‘n mens ‘n stad werklik wil ken, moet jy dit vanuit verskillende hoeke bekyk.

Jesus se lewe op aarde kan in ‘n sekere sin as ‘n verstedelikingsproses beskryf word. Hy beweeg vanaf ‘n geringe plattelandse dorpie Nasaret, na die grootste stad in Palestina – Jerusalem.

‘n Stad word deur sy mense bepaal. Jy het jou kriminele, jou rykes, jou armes, jou lag en hartseer. Juis hierom het enige stad verlossing nodig.

Só leer Jesus die stad ken vanaf ‘n donkie se rug. Die mense in tel, die gepeupel, die geleerdes, die gewone mense. Partykeer is dit moeilik om ‘n stad vanuit sy strate te leer ken. Jy moet soms ‘n bietjie afstand kry. Partykeer is dit goed om na ‘n stad te kyk vanaf die hoogste verdieping van ‘n gebou! Vandaar sien jy nie net die stad nie, maar ook die hemel. Jy kry net ‘n ander perspektief van “bo-af”.

Ek onthou toe ek in die Lugmag my diensplig gedoen het, het die vlieëniers, wanneer hulle grensdiens verrig het, “low flying” gedoen. Die “vyand” kon hul dan nie so maklik afskiet nie. Maar, het hulle altyd gesê, jou perspektief is so beperk. Alles skiet hieronder by jou verby, totdat jy hoër vlieg – dan kry jy weer daardie wonderlike perspektief op alles onder jou.

‘n Mens het “hoogte” in hierdie lewe nodig. Dis dikwels wat God met ons wil maak. Hy wil ons oplig, optel sodat ons ‘n beter perspektief op Hom, op die lewe, op die mens kan kry. Dis wat gebeur as ‘n mens bo-op ‘n gebou in die stad staan.

Jy sien die hospitaal waar mense siek lê, ly en partykeer doodgaan. Jy sien die vreugde en pyn. Die goeie en slegte mense.
As jy opkyk, sien jy die hemel – so rustig en kalm – ten spyte van die roet en rook en hartseer van die stad. Jy kan in ‘n stad bly sónder om die hemel te sien. Goedversierde winkelvensters en lokkende stadsliggies en klanke kan die hemel oorbodig maak.

Van bo-af is dit egter vir die christen makliker om ‘n stad te vergewe vir sy kwaadwilligheid en geslepenheid, omdat jy die
hemel kan sien. Selfs jou werkplek lyk anders! 

Maar, jy besef ook dat jy nie beheer oor die dinge daaronder het nie. Jy voel dikwels magteloos. Maar juis dít laat jou bid. Jy ontwikkel medelye vir die bedelaar, vir die sterwende. Al voel dit vir jou jy kan nie veel doen nie, kan jy bid vir die seer, stukkende mense in die strate van die stad.

Van die boonste verdieping besef jy dis net die Gees wat mense en hul stukkende kontekste kan genees. En dis weer suiwer genade. Hongersnood is ons buurman. Ons verstik aan ons afval. Die lug word al swarter, ons omgewing al gevaarliker. Hierdie dinge lê ons siel bloot. Dit sê hoe ons van binne is. En dán besef jy dat ons geloof moet herontdek. Ons moet weer leer wie ons naaste is. Ons moet weer leer om vir die stad te voel, vir die stad te bid.

Hiervoor het God “afgekom” aarde toe. Hy het medelye met ons. Dis waarom Jesus stad toe toe beweeg, kruis toe. Hy rus ons toe. Ons bou tevergeefs as Hy nie met ons saambou nie. Ons waak tevergeefs as Hy nie met ons waak nie. Op die boonste verdieping besef jy jy moet bid, maar ook dat jy hard moet werk, dat jy iets moet begin doen. Dat jy mede-skepper van God is.
Jesus het eenkeer die stad Jerusalem op ‘n donkie binnegery. Hy het die stad vanaf die rug van ‘n donkie leer ken. Dit het Hom ‘n bepaalde perspektief op die stad en sy mense gegee. En toe Hy dit alles sien, het Hy begin huil. (Luk 19:41)

Dis nodig om afstand te kry – soos Jesus daardie dag. Gaan daarom na die boonste verdieping van ‘n gebou.
Kort hierna het Jesus ‘n kruis teen die heuwel Golgota buite Jerusalem uitgedra. Daarop vasgespyker, het Hy ‘n besonder goeie perspektief, uitsig op die stad en sy mense gehad …

Chris Jones

Seisoen van Luister Powerpoint

Geen Preekriglyn in argief