{ARGIEF}

11 Maart 2012 ~ Derde Sondag in Lydenstyd ~ Joh 12:13- 22

Ek ervaar weinig deernis in die kerk

Hoekom is Jesus so kwaad?

Elke mens het tog afdae en mense raak kwaad. Maar ‘n mens skrik om Jesus kwaad te sien. Die evangeliste Matteus en Markus beskryf Jesus se optrede in nog meer detail. Hy is woedend. Hy gooi tafels en stoele om. Hy verjaag mense selfs met ‘n sweep. Dis so vreemd om Jesus wat soveel deernis het en so sag voorkom, so hard te sien optree. Het Jesus ‘n afdag gehad? Was Hy moeg en geïrriteerd dat Hy so optree, mag jy dalk wonder? Of kan dit wees dat Jesus nie van handeldryf by die tempel hou nie? Dat Hy vandag beswaar teen kerkbasaars sou aanteken. Nee, dit was oor iets anders gewees.

Dit was normaal dat handelaars offerdiere aan tempelgangers verkoop. Daar was ook geldwisselaars. Hulle het die vreemde munte vir Joodse munte geruil. Dié geld was in die offerkiste gegooi en veral duiwe en soms ander en groter diere soos lammers was daarmee gekoop. Die handelaars het net Joodse geld aanvaar. ‘n Deel van die winste uit die verkope het vir die instandhouding van die tempeldiens gegaan. Dinge het tog soos gewoonlik sy gang gegaan. Waarom het Jesus so reageer?  Hy noem die tempel in die ander evangelies ‘n “rowersnes”.

Oor mense uitgesluit word.
Die verklaring lê in Jesus se woorde. Hy haal uit Jesaja 56:7 aan. In Jesaja 56:7 droom God van  toegang aan alle mense, nie net Jode wat in die tempel aanbid nie, maar almal wat met God identifiseer. Hy sê in sy huis van gebed sal Hy vreugde aan alle volke gee, hulle offers sal vir Hom aanneemlik wees.

Die area tussen die buitemure en die eintlike tempel was bekend as die binnehof. Dis waar die vreemdelinge en verstotenes, geringstes en gebreklikes, siekes en slawe, die bywoners en buitelanders op dié stadium toegelaat was. Hulle mag God daar aanbid. Maar die area was met die handelaars se stalletjies en geldwisselaars se tafels gevul. Daar was geen plek vir die mense wat anders was nie. Dié aanbidders was daardeur nou heeltemal van die plek van aanbidding uitgesluit.

In die Apartheidsjare was garage-dienste vir swart mense in wit woonbuurtes bekend gewees. Later met ‘n groot gespook het sommige wit gemeentes hul kerksale vir dienste beskikbaar gestel. Die binnehof van die tempel sou mens vandag met die kerksale vergelyk. Indien ‘n kerksaal gebruik sou word om fondse vir die instandhouding van die gemeente te gebruik en nie meer vir swart gelowiges toeganklik is nie, sou mens dit met die omstandighede wat Jesus in die tempel ontstel het, kan vergelyk.

Die godsdienstige aktiwiteite het eksklusief en na-binne gerig geraak. Die instandhouding van die Joodse godsdiens het die ander mense van hul aanbiddingsruimte beroof.

Oor mense uitgebuit word
Waarskynlik was Jesus verder die josie in vir die geldwisselaars wat die wisselkoers tot hul eie voordeel gemanipuleer het. Die buitelanders was hierdeur uitgebuit. Hulle het baie geld verloor. G’n wonder Jesus noem die huis van gebed ‘n rowersnes nie. Hy verwys na Jeremia 7:11. Jeremia het by die ingang van die tempel die mense van Juda  en Jerusalem gewaarsku dat God nie daar is waar die tempel staan nie. God is daar waar daar reg geskied. Hulle geloof word deur hul lewe en dade getoon. Hulle moet die onreg teenoor vreemdelinge, weeskinders, weduwees en onskuldiges stop. Dit en ander gruwelike dinge soos moord, steel en egbreuk het die huis wat die Here se Naam dra ‘n rowerspelonk gemaak.  

Hoe oop is ons gemeente regtig vir ander?
Waarmee hou ons as gemeente onsself besig? Hoe oop is ons rêrig vir ander mense. Is ons besig om tradisies in stand te hou en ons aan gebruike blind te staar wat verhinder dat ons God se wil onderskei en raaksien? Of is ons ‘n gestuurde gemeente, op weg na die buitestaanders en oop vir alle mense wat na God soek of na wie God ons stuur.

Jesus wat die tempel reinig, het nie ‘n af dag gehad nie. Hy was op en wakker. Hy het ‘n fyn aanvoeling vir geregtigheid. Dit gaan oor sy alles insluitende genade wat alles oortref. Dis deur Hom wat almal, swart en wit, man en vrou, ryk en arm, vrye toegang tot God kry. Die muur van skeiding wat mense van mekaar skei, is afgebreek of dis hoe ek ten minste Jesus se dade lees.

Bron: ‘n Nuwe tyd vir gewone mense. CLF, 2010

Naskrif. Hoeveel onse op jou pond? Sou ons ma dikwels vra – en presies dít bedoel. Wie sluit ons in en wie nié? Wie tel ons bý en vir wie gee ons nié om nie? DJS, Die Burger 3/3/2012 

“Ek ervaar weinig deernis van dominees, en verwag niks van kerkstukture nie. Ek beleef ‘n kerkfamilie wat op een kleur floreer en teenoor gekraakte kleipotte diskrimineer en hulle in vrede tot stof wegkrummel”

Pieter van Niekerk

Seisoen van Luister Ppoint

Geen Preekriglyn in Argief