{ARGIEF}

 

 

 

2 Sept 2012 ~ Veertiende Sondag in Koninkrykstyd: Mark 7:1–23 – ‘n Kerk sonder maniere

Die gedeelte is een van talle twisgesprekke oor Joodse reinheidsgebruike in Markus.  In die verdere nadenke oor die gedeelte is dit dus belangrik om te vra waarom die reinheidsgebruike vir die Jode, en Jesus, só belangrik was?  

In kort was die reinheidsgebruike, soos uiteengesit in Lev. 11 en 17, ‘n belangrike identiteit- en grensmerker vir die Jode gewees.  Dit het omskryf wie hulle was, en hoe hulle teenoor ander moes leef.  Terwyl die Ou Testament net van priesters verwag het om hulle hande te was (Eks. 30:18-21; 40:30-32) het die Fariseërs dié vereiste op alle Jode van toepassing gemaak in navolging van Lev. 20:26 (“Julle moet heilig lewe, want Ek die Here is heilig. Ek het julle afgesonder uit die volke om aan My te behoort”).  Die gevolg van hul uitleg van die Ou Testament was dat die reinheidsgebruike nie net Israel se identiteit bepaal het nie, maar hulle ook van ander afgegrens het.  Die reinheidslogika van die Fariseërs was eenvoudig: onrein mense en dinge het rein mense onrein gemaak.  Daarom moes alle onreinheid vermy word.  

Jesus se reinheidslogika was egter anders.  Hy, as die heilige van God, het gekom om alles wat onrein is te reinig.  Daarom het hy die reinheidsreëls wat mense van God en sy volk afgegrens het doelbewus verontagsaam.  Jesus het geglo dat Hy nie deur kontak met onreinheid ook onrein sou word nie.  Hy sou eerder reinig wat onrein was.  Die dat Hy ‘n melaatse kon aanraak (1:41), saam met ”onreines” kon eet (2:16), dooies kon aanraak (5:41), toelaat dat ‘n ”onrein” vrou aan Hom vat (5:27-28) en in ‘n heidense streek kon optree (5:1-20).  Jesus het geglo in ‘n kerk sonder mure of maniere (mensgemaakte reëls en etikette) waarin almal welkom was.  

Waarom het Jesus doelbewus sy maniere – die reinheids-etiket van sy tyd – vergeet?

● Jesus se probleem met die heersende reinheidsreëls was eerstens dat dit mensgemaak was.  Volgens vers 5 was dit volgens die tradisie van die oudstes (en dus van mense – vers 7b & 8), teenoor Jesus se leer wat in lyn met die gebod van God was (vers 8).  

● Tweedens het dit tot ‘n oppervlakkige verstaan van hoe geloof uitgeleef moes word gelei.  In vers 6 maak Jesus naamlik Jesaja 29:13 (LXX) op sy teenstanders van toepassing deur daarop te wys dat soos Jesaja se teenstanders, die Fariseërs en die Skrifgeleerdes net lippediens aan God se gebooie getoon het.  Hulle harte was egter ver van God af (vers 6).  

● Derdens het dit nie-Jode van enige geloofsgemeenskap met God en sy volk uitgesluit.  Die vraag na hoe Joodse en nie-Joodse Christene kon saam eet en aanbid was dan ook in die vroeë kerk dié belangrikste teologiese vraagstuk wat opgelos moes word.  Só kom die problematiek ter sprake in Hand. 10-11, 15; Gal. 2:11-14 en Rom. 14:14, 20.  Jesus het reinheid, soos omskryf deur die Fariseërs as ‘n grensmerker wat nie-Jode uitgesluit het uit God se volk, vir ewig verwyder.  

Dit is belangrik om te onthou dat Jesus nie geleer het dat reinheid nie vir God van belang is nie.  Inteendeel, Hy het die eis van reinheid geradikaliseer deur daarop te wys dat God soek nie bloot uiterlike reinheid nie, maar morele (innerlike) reinheid.  Jesus het eerder geleer dat ‘n mens onrein gemaak word deur dit wat uit ‘n mens kom en nie wat jy inneem nie (vers 13-14).  Laasgenoemde raak immers net ons ingewande en nie ons harte nie (vers 19).  Ons word onrein deur wat ons bedink (wat in ons harte leef) en nie waaraan ons raak nie.  Alles en almal is volgens Jesus nie rein omdat daar nie iets soos rein en onrein bestaan nie.  Dit is rein omdat die bloed van Jesus en die werk van die Heilige Gees alle mense – ons en ander – na woord en daad, innerlik en uiterlik volkome reinig.  Daarom is almal welkom in God se nuwe familie, want in die kerk is water (die doop en alles waarop dit dui) dikker as bloed (natuurlike herkoms).

Die implikasie van Markus 7 is dat gelowiges se uiterlike gedrag nie geskei kan word van hulle innerlike oortuigings nie.  Jesus leer nie dat Christene nie heilig of volgens sy wil moet leef nie.  Hy leer eerder dat ons in alle fasette van ons lewens – ons innerlike en uiterlike lewe – juis daarvolgens moet leef.  Die een (innerlike oortuiging) kan egter nie sonder die ander (etiese gedrag en reëls) nie.    Wie in liefde en genade glo mag daarom nie grense en skanse teenoorander oprig nie.

Marius Nel

Geen preekriglyn in Argief

 

Markus 7:1-9, 14-15, 21-23 – 14de Sondag in Koninkrykstyd (Skepping 1) – 2 September 2012

Markus7_1-23Kinders sal mal wees oor die idee dat Jesus nie soveel omgee oor hoe vuil iets (hulle) aan die buitekant is nie, maar dat dit vir Hom gaan oor wat in ons harte aangaan. Verduidelik dat ’n goeie (rein) mens nie iemand is wat skoon is nie, maar iemand wat van binne goed is. Dit gee ’n uitstekende invalshoek om aan die hand van die verhaal van Nancy Ortberg te praat oor ons eie onreinheid van hart wat deur ons gedagtes en woorde gereflekteer word. Nog dieper as dit bring Markus ons met hierdie gesprek oor reinheid (en onreinheid) by ‘n groter waarheid uit, dat hierdie perspektief ook op ons verhoudinge met ander mense van toepassing is. Ons mag nooit mense uitsluit of van ons isoleer op grond van uitwendige kenmerke nie. Mense hoef nie eers rein te wees in ons eie oë voordat hulle kwalifiseer vir ons liefde, aandag en belangstelling nie.

Markus 7:1-23.ppt 1014 KB Aug 26, 2012 22:26 Download 35
Markus 7:1-23.pptx 841.17 KB Aug 26, 2012 22:24 Download 24
Markus 7:1-23.doc 101.5 KB Aug 26, 2012 22:23 Download