{ARGIEF}

Sesde Sondag in Koninkrykstyd ~ Markus 6:1-13

Die sleutelteks vir Sondag se erediens bestaan uit twee, op die oog af onafhanklike, narratiewe eenhede. Die eerste verhaal (vers 1-6a) vertel van Jesus wat terugkeer na sy geboortedorp om daar die Skrif uit te lê. Hoewel die mense aanvanklik aangeraak word deur sy woorde en met groot verwondering na Hom luister, verander hulle reaksie teenoor Hom gaandeweg in ‘n vyandige een. In die tweede verhaal eenheid (vers 6b-13) stuur Jesus die 12 dissipels uit om die evangelie te gaan verkondig aan mense in die omliggende gebiede. Jesus maan die dissipels om nie reissakke en kieries met hulle saam te neem nie, maar om eerder in eenvoud die bose te verdryf waar hulle ookal kom.

Verskeie kommentatore meen dat die twee gedeeltes ten beste onafhanklik hanteer moet word in die erediens, aangesien dit besondere ryk materiaal is en ten einde reg te laat geskied aan die onderskeie gedeeltes. Vir my persoonlik lê daar iets kosbaars opgesluit in die verband wat daar bestaan tussen die twee gedeeltes. ‘n Verband wat met die eerste lees dalk nie so voor die hand liggend is nie.

Die teksgedeelte lei ‘n volledig nuwe konteks in. In die voorafgaande gedeeltes het Jesus groot wonders gedoen en is Hy goed deur mense ontvang en met resprek hanteer. Nou is Jesus terug op sy geboortedorp en die mense wat Hom ken, wat Hom van kindsbeen af geken het, reageer vyandig en met weerstand. Merkwaardig om te dink dat die tema van lyding en verwerping wat Jesus se aardse bediening kenmerk in hierdie konteks ontspring. Jesus se lydensweg begin as’t ware in sy geboortedorp. As Hy ná die gedeelte Nasaret verlaat, kom hy nooit weer daarheen terug nie.

Hoewel die mense van Nasaret aanvanklik na Hom luister en met verwondering vervul is vir sy wysheid en insig in die verduideliking van die Skrif, verander hulle houding vinnig na vyandigheid en verset. Daar word drie redes gegee vir die hartsverandering van die dorpenaars. Ten eeste weet hulle dat Jesus ‘n timmerman is. In die sosio-kulturele konteks van Jesus se leefwêreld is daar ‘n groot verwyding tussen mense wat met hulle hande werk, met ander woorde in bepaalde ambagte, en dié wat nie met hulle hande werk nie. Eer en aansien is hoofsaaklik gereserveer vir die tweede groep. Hoewel Hy met groot insig en wysheid praat, strook dit nie met die persepsie wat daar bestaan rondom die posisie van ambagsmanne in die sosiale konteks nie. Jesus is, ten tweede, nie opgelei as ‘n Rabbi of ‘n Skrifgeleerde nie. Hierdie taak is hoofsaaklik gereserveer vir 5% van die bevolking wat wel geletterd was. Ten derde word daar na Jesus verwys as die ‘Seun van Maria’ en nie die meer algemene ‘Seun van Josef’ nie. Hierdie verwysing lê vermoedelik klem op Jesus se geboorte wat buite die eg plaasgevind het. In kort strook wie Jesus is, nie met die verwagting aangaande die Messias in sy eie tuisdorp nie. Jesus is te eenvoudig, te gewoon, byna nie statig genoeg om die Messias te wees nie. Hierdie Jesus, ‘n ongeletterde timmerman, Maria se seun, kan eenvoudig nie die Messias wees nie. Die mense van Nasaret verwerp Hom dus.

Net na hierdie ervaring stuur Jesus die twaalf dissipels uit om in eenvoud, met as’t ware niks in hulle hande, die bose te gaan verdryf waar hulle ookal kom. Jesus stuur die dissipels op dieselfde sosiaal onaanvaarbare weg as wat Hy bewandel het. Die medium word in hierdie geval die boodskap. Eenvoudige, brose mense word die boodskappers van die evangelie. Die evangelie wat dikwels anders lyk as wat die wêreld verwag. Dalk anders as wat selfs die kerk soms dink.

Jesus roep dissipels om Hom te volg op sy lydensweg. Om getrou aan die evangelie altyd eerder te kies vir minder wees, vir deernis, vir gebokenheid, vir gasvryheid, vir met ander wees. Nie waardes wat die wêreld altyd so hoog aanskryf nie. Jesus voel dit aan sy lyf as sy mense Hom verwerp. Seker voor die hand liggend dat sy dissipels dit ook sal ervaar.

Die teks laat mens met die vraag of ons as dissipes van Jesus regtig so vreemd in hierdie wêreld vertoon.

Charlene van der Walt