{ARGIEF}

Goeie Vrydag 2 April 2010 ~ Ps 22: 1-18  Optelkind …

‘n Tragiese verhaal uit die Griekse mitologie vertel van koning Laios, die koning van Thebe, en sy vrou Jokaste, wat ‘n kind verwag het. Hulle wou graag weet wat van hierdie kind sou word as hy groot is. Daarom raadpleeg hulle ‘n waarsêer te Delphi vir ‘n antwoord. Hier word hulle meegedeel dat die kind sy pa sou vermoor en met sy ma sou trou. Hulle was geskok en met afgryse vervul. Hulle het besluit om van die kind ontslae te raak as hy gebore word.

Daar het ‘n praktyk bestaan waar ouers hul kinders te vondeling kon lê. Hulle kon hiervolgens hul kind op die ashope buite die mure van die stad gaan neerlê. Mense wat graag kinders wou hê, het maar altyd hier rondgeloer vir ‘n optelkind om aan te neem.

Om te verhoed dat hulle kind opgetel word, het Laios ’n pen deur sy kind se twee enkels gesteek en sy voetjies op hierdie wyse saamgebind.

‘n Skaapboer van ‘n aangrensende land was in dié tyd op besoek in koning Laios se land, Thebe. Hy en sy vrou kon nie kinders hê nie en het vir jare na een gesmag. Byna soos ‘n geskenk, kom hy op hierdie babaseuntjie met die pen deur sy voete, af. Hy gryp die kind, trek die pen uit, en die kind kry die naam Oedipus, wat in Grieks “opgeswelde voet” beteken. Hy neem die seuntjie na sy land waar hy opgroei tot ‘n groot man.

Een dag op pad na Thebe, loop Oedipus ‘n aantal ruiters raak wat aggressief is. Hy raak in ‘n skermutseling betrokke en dood die leier van die groep met sy swaard. In Thebe aangekom, is daar ‘n monster, half dier en half vrou, bekend as die Sphinks, wat die stad tiranisseer en elke verbyganger dood wat nie haar raaisel kan antwoord nie. Oedipus ken egter die oplossing vir die raaisel en maak die Sphinks onskadelik. Hy word oornag die held.

Omdat Thebe se koning kort vantevore oorlede is, word Oedipus die nuwe koning. Hy trou met die koning se weduwee, Jokaste, by wie hy 4 kinders het. As hy en Jokaste uiteindelik besef dat hulle moeder en seun is, verblind Oedipus homself en pleeg Jokaste selfmoord.

Waarom hierdie tragiese verhaal? Omdat dit een van die beste voorbeelde van die vondelingspraktyk is.

In Suid-Afrika gebeur iets hiervan steeds. Ons lees gereeld van mense wat ‘n pasgebore baba in ‘n vullisdrom kry. Of in ‘n rioolpyp. Of sommer net op ‘n vullishoop iewers. Onlangs het ‘n kerk ‘n plek ingerig waar mense hul kinders kan kom “weggooi” met die versekering dat daar na so ‘n kind omgesien sal word.

In Ps 22 vind ons seker van die diepgrypendste woorde in die OT. “My God, my God! Waarom het U my verlaat?”

Van Uchelen wys daarop dat hier gebruik gemaak word van beeldspraak wat sterk herinner aan die vondelingspraktyk. Die psalmskrywer voel dat God Hom weggegooi het. In Ps 22:13-17 word eintlik simbolies beskryf hoe hy op die vullishoop buite die stad lê.   

 Voel ons nie ook soms so nie? In ons persoonlike lewe, maar ook wat ons pragtige land betref?

Dis hoe Jesus gevoel het. Aan die kruis haal Hy juis hierdie woorde van Ps 22 aan. Iemand wat aan ‘n kruis gesterf het, het tussen hemel en aarde gehang – weggegooi, deur God én mens! Só het die Jode immers geglo.

In vers 22 sê die psalmis dat God sy gebed verhoor het. Ná Ps 22, ná Jesus se kruisiging, kan ons as weggooikinders  weet God het ons opgetel. Ons is nooit van Hom verlaat nie. Hy is oral.

Gert Steyn skryf mooi hieroor: “Iewers in die onmeetlike heelal in ‘n duisternis van ruimte en tyd tussen die sirkelgange van planete en sonnestelsels is Hy – die ewige God!

Iewers in die vaste baan van ‘n chaos-planeet tussen stringe berge en eindelose vlaktes omring deur watermassas, is Hy – alomteenwoordige God!

Iewers in die doolhof van ‘n koue betonstad versmoor deur rook en roet tussen die skelette van lewensmoeë mense, is Hy – die lewende God!

Iewers in die vullishoop tussen die oorskiet en afval van my lewe is Hy – tog ook my God!” 

Wanneer gaste kom kuier, was ons nie net die kinders se gesig nie, maar vee ons ook soms die vullis onder die mat in, hoor ek iemand sê. Een van die dae gaan ons gaste van dwarsoor die wêreld ontvang. Mag ons nié ons weggooi-kinders vir hulle probeer wegsteek nie, maar mag ons op grond van Ps 22 en die kruisiging van Jesus met nuwe oë na hulle kyk – hulle probeer “optel”. Koester. Ook hulle wat in die geloof weggegooi mag voel … 

Chris Jones

 Verdere Preekriglyn_1

Verdere Preekriglyn_2