{ARGIEF}

Maar Jesus het die lewe kom populariseer. Hy het vir almal toegang tot ‘n diep lewe kom gee.

En dis iets waaroor ons nou kan dink op die eerste Sondag na Paasfees: Watter diepte het Jesus aan ons lewens kom gee, ons wat nou almal toegang tot die lewe het?

Geen wonder dat kerke op hierdie Sondag na Paasfees Psalm 16 lees nie. Want daar het die Psalmis al besef hoe dit is om ‘n pad saam met God te stap. Hoe om ‘n diep lewe saam met God te lewe – ‘n diepte wat weer met Jesus se koms duidelik aan ons voorgehou is.

En die diepte van hierdie lewe met God lê in die verbond wat ons met Hom het, die ooreenkoms wat God met ons het om die lewe vir ons oop te maak. Dis ‘n vanselfsprekende ooreenkoms waarop ons ons net eenvoudig aanhoudend kan beroep.

Hoe, sê Psalm 16 vir ons, lyk so ‘n lewe wat God met ons ooreengekom het?

Vers 1 sê dis ‘n lewe van beskerming. Die Psalmis aanvaar eenvoudig dat God lojaal aan hom is. En hy wy homself dan ook met groot gerustheid aan God toe.

Vers 2 sê dat die lewe saam met God ‘n goeie lewe is. Dit het ‘n dimensie en ‘n diepte wat niks of niemand anders jou kan bied nie. Ek dink die Psalmis praat hier van daardie spirituele dimensie waarvoor die man wat ons hierbo aangehaal het, nie tyd het nie. Maar dis juis dit wat die lewe goed maak: om meer as net ‘n liggaam te wees, meer as net ‘n geskapene. Dit beteken om ook te kan vergewe en uit te reik en goed te doen aan die wêreld om jou.

Vers 5 sê dis ‘n lewe van versorging. En daar is iets vreeslik moois aan as God vir jou sorg. Jy erf iets van die God wat vir jou sorg. Iets van God word deel van jou.

Vers 7 sê dat die lewe saam met God nie net ‘n goeie gevoel is nie. Dit is iets wat jou wys maak. Saam met God stap jy ‘n pad waarop jy insig kry, en nie oor jou voete val van domheid nie. Ja, die Psalms is mos tog deel van die Wysheidsliteratuur. Dit sê altyd: Saam met God is jy slimmer as die ou wat hom nie aan God steur nie.

En dan kom ons by die beroemde vers 10 van Psalm 16. Dit sê dat God jou nie eers alleen laat na jou dood nie. Selfs nie in die graf laat God jou los nie.

Dis hierdie vers 10 wat later deur Petrus aangehaal word wanneer hy op pinksterdag ‘n toespraak lewer. In Handelinge 2:27 haal Petrus Psalm 16:10 aan om te wys dat wat die Psalmis toentertyd gesê het, inderdaad (weer) waar geword het in Jesus se opstanding: God laat ons selfs nie in die dood alleen nie. Hy laat ons weer opstaan.

Vers 11 som die boodskap van die hele psalm op: By God gaan dit oor lewe. God is ‘n God van lewe. En ons kan God vertrou om vir ons ‘n lewe te gee wat gelukkig is, en mooi is.

En daarom het Jesus se opstanding baie met Psalm 16 te doen. Psalm 16 is ‘n Ode aan die Lewe. En dis ook ‘n bevestiging van die persoonlike verhouding wat ons met God kan hê – ‘n verhouding wat op vertroue gebou is. Ons kan God vertrou met die lewe. Vir God gaan dit om lewe.

Met sy opstanding het Jesus dit weer mode gemaak om te lewe. Om diep te lewe. Om in ‘n diep, geestelike verhouding met God te lewe. Om gelukkig te lewe, om ‘n lewe te lewe wat mooi is.

Ek weet nie van julle nie, maar dis die dinge wat ek in die lewe soek: beskerming, hoop, sorg, insig, wysheid, en skoonheid.

En dis wat Psalm 16 sê ons kry wanneer ons ‘n lewe saam met God lewe. Jesus het opgestaan sodat ons vir ewig saam met God kan lewe. Nie eers in die graf sal ons sonder God wees nie.

Christina Landman

Seisoen van Luister PowerPoint