{ARGIEF}

Sondag 17 Februarie 2013 ~ Eerste Sondag in Lydenstyd: Romeine 10:8b-13

Ons identiteit word gekwalifiseer deur ongekwalifiseerde bevryding en inklusiwiteit.

Die 2013-lydenstyd word met geloof/vertroue ingelei!

‘’Soms is dit vir Protestante só moeilik om met een van hul eie kernbeginsels om te gaan. Paulus skryf in Rom 1:17: ‘Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe.’ Geloof alleen is dus wat saak maak. Die mens wat glo, is bevry van alle ander vereistes/verpligtinge om sy/haar saligheid op die een of ander wyse te ‘verdien’. Ongekwalifiseerde bevryding binne hierdie konteks beteken dus terselfdertyd ongekwalifiseerde inklusiwiteit. Almal wat opreg glo, is welkom! “ Chris Jones in By 19/01/2013.

Almal is in tel by God, niemand word uitgesluit nie.
Maar geloofreise mag verskil:

Kyk na geloof deur ander bril

Ná jare kom twee broers in die Kerstyd weer byeen. Die oudste vertel hoe belangrik die Bybel in sy lewe geword het. Hy verstaan die “Woord van God” – en alles daarin – so letterlik moontlik en wil dit nie laat verwater met iets mensliks nie.

Dié oortuiging help hom om God se bonatuurlike wonders vandag nog raak te sien. Hy weet dat talle mense sonder ge-loof ankerloos ronddobber, en weier daarom om die Bybel anders as met die tradisionele skemas uit die geskiedenis te interpreteer.

Die jongste broer voel veilig genoeg om te erken dat die Bybel eers onlangs vir hom begin sin maak het. Vir hom word die ervaring wat sommige mense in antieke tye met God gehad het die “Woord van God” genoem en hulle is geïnspireer om dit oor te vertel.

Dié oortuiging help hom om hom te verwonder dat God steeds ook in ons alledaagse gebeure teenwoordig is. Hy weet dat talle mense die geloofslewe ver-laat omdat hulle nie langer hul verstand kan bly opoffer nie. Hy bid dat hulle ook kan vrykom van die 18de-eeuse opvatting wat “waarheid” beperk tot dit wat letter-lik gebeur het. Is vroeër nie aanvaar dat groot lewenswaarhede juis in verhale, beelde en mites lewend gehou word nie?

Van waar die dankbare pa sy twee seuns dophou, kan hy sien dat elkeen deur sy eie bril na alles om hom kyk. Trouens, elkeen beskou die ander deur sy eiesoortige bril. Die oudste is al so gewoond aan sy bril dat hy dit min afhaal om dit skoon te maak. Die jongste is oorbewus van sy bril. Hy haal dit kort-kort af asof hy dit skoner kan kry.

Die pa wens hulle kon vir ’n wyle brille omruil. Hy bly bekommerd oor waarheen die gesprek gaan lei. Hy weet immers hoe nodig hulle mekaar het. Sy frons gaan oor in ’n ondeunde glimlag toe hy dink: “Ai, dié twee van my het goeie harte. Ek sal hulle graag eendag wil hoor as hulle besef dat alles veel wonderliker is.” – André van Niekerk in Beeld 2013-01-11

“Sy (Laurie Gaum) eie geloofsreis met die siekte is egter anders as dié van sy pa. ‘Ek moet myself dikwels afvra presies waar ek met my geloof staan. Dit lei my na daardie konfrontasie met God, waarvan ongeloof dan ‘n deel is. Dit is ook vir my ’n troos dat ek weet ander glo vir my part indien ek soms sukkel daarmee’. Syne is nie meer ‘n geloof wat ‘gemaklik is en in die meeste tradisionele ruimtes tuishoort nie’” (Willemien Brümmer in gesprek met Laurie Gaum in By 9/02/2013)

Met ons torinkies…
“Maar wat staan in die pad van hulle (Israel) redding? Letterlik staan daar byna: hulle ‘toring hulle eie geregtigheid op’ – soos die toentertydse toringbouers van Babel. Dan pas dit ook dat Paulus verder skryf dat ons nie (met óns torinkies) na die hemel hoef te probeer opklim nie, omdat God in Christus na ons toe afgeklim het.” – Murray Janson.

Gebed
“Here God, … Ek weet nie aldag wie ek is nie. Maar, Here, wie ek ook al is, ek weet dat ek U s’n is. En ek dank U dat U my aanvaar, met al my teenstrydighede en komplekse mengsel van motiewe. Daarom sal ek nie voor U sit en voorgee wat ek nié is nie, maar myself voor U oopstel. Daarom sal ek ook nie weghardloop van u teenwoordigheid nie, omdat ek weet: in u teenwoordigheid word ek gesond. Lê u Vaderhande op my en op ons en seën my, seën ons. Amen” (Richard Foster)

Pieter  van Niekerk

Preekriglyn in Argief: http://communitas.co.za/wp-content/uploads/2013/02/Romeine%2010_8b-13.doc

Seisoen van Luister PowerPoint: http://www.seisoenvanluister.co.za/produkte/powerpoint-en-word/kerkjaar-volgorde/kerkjaar-2012-13/files-download/697_bc3910a7c4adf706202f1d759652f3f6