{ARGIEF}

Sondag 14 Maart: Vierde Lydensondag ~ Vier jou vergifnis Ps 32

Psalm 32 was die kerkvader Augustinus se mees geliefde psalm. Augustinus het tot so ongeveer die jaar 420 nC gelewe. Vandag is hy bekend daarvoor dat hy graag boete gedoen het oor sy sondes voordat hy ‘n goeie Christen geword het. Hy het ‘n houvrou gehad, ‘n buite-egtelike kind, en – iets wat hy homself beswaarlik kon vergewe – ontugtig verkeer met die filosofieë van sy tyd! En inderdaad, toe Augustinus hom bekeer het, het hy openlik en aanhoudend om vergifnis gevra vir hierdie sondes.
Maar dis nie eintlik hoe ons Augustinus moet onthou nie. Ons moet nie aan hom dink as die ewigdurende boeteling, die droewige skuldenaar wat hom net in sy eie sondes vasgestaar het nie. En daarom is dit belangrik om te weet dat Augustinus veral lief was vir Psalm 32. Want Psalm 32 is nie ‘n tipiese boete-psalm nie. Inteendeel. Hier vier die Psalmis sy vergifnis!
Met verloop van tyd, so van die sesde eeu af, het die kerk amptelik sewe boete-psalms erken en in haar liturgie gebruik. Hierdie psalms is, net vir die rekord, Psalm 6, 32, 38, 51, 102, 130 en 143.
Ons doen ook elke Sondag boete in die kerk. Nou nie so dat ons onsself op die grond uitstrek of onsself met ‘n sweep slaan, soos boetelinge in die geskiedenis al gedoen het nie. Ons bely ons skuld en sing ‘n lied. Dikwels is die lied een van die boete-psalms wat ons hierbo genoem het. Uit ‘n mens se kinderdae onthou jy veral Psalm 38 se droewe tone: “Straf tog nie in ongenade, my misdade…”. En wat van Psalm 130 se “Uit dieptes gans verlore…”?
En dis goed vir ‘n mens om jou skuld te bely. Die waarheid maak jou vry, sê ons altyd.
Maar die grootste wonder van belydenis is dit: dit eindig nie daar nie. Boete-doen is ‘n soort closure, ja, maar dit maak ook die deur oop na die toekoms toe.
En daarvan getuig Psalm 32 uitstekend.
Om die waarheid te sê, selfs Psalm 32 se struktuur dui daarop dat dit erns maak met boete-doen – maar nie daarin vassteek nie. Dit werk so:
Die boete-deel van die Psalm staan in die middel van die Psalm. Dit is nou verse 3 tot 7. Daarin vertel die Psalmis op ‘n aangrypende manier hoe siek hy geword het omdat hy nie sy sonde in die oë wou kyk nie. En hoe dit sy krag uit hom uit gesuig het. Maar hoe sterk hy geword het nadat hy sy sonde by God bely het. En hoe God hom vergewe het. En hom beskerm.
In plaas van siek voel, voel die Psalmis nou veilig.
Hierdie verse oor die Psalmis se boetedoening, word omring deur twee dele. Hierdie dele wys juis vorentoe, verby die boete-doen. Ja, daar is lewe na belydenis.
Die eerste deel is verse 1 en 2 – en bevat twee saligsprekinge. Dit staan hier as “Dit gaan goed met die mens” – maar dis eintlik die “Welgeluksalig” waarmee Psalm 1:1 begin. Welgeluksalig is die mens wat sy skuldbelydenis agter hom het. Welgeluksalig is die mens wat vergifnis ontvang het. Ja, Psalm 32 word ingelei met woorde waarin die Psalmis die lewe na die skuldbelydenis vier.
Hy vier sy vergifnis.
Psalm 32, dan, word omarm deur hierdie eerste verse met saligsprekinge, en dan ook met ‘n laaste gedeelte wat vanaf vers 8 tot 10 strek. Hierdie is ‘n wysheidsgedeelte. Die Psalmis het geleer uit sy foute. Noudat hy boete gedoen het, kan hy ander onderrig in die wysheid wat hy opgedoen het. “Ek wil jou onderrig…ek wil jou raadgee…”, sê die boeteling. Ek wil jou help om aan jou swak punte te werk.
Psalm 32 is ‘n boete-psalm waarin die Psalmis vertel hoe hy weer gesond geword het nadat hy sy foute bely het. Maar, soos ons nou gesien het, Psalm 32 het ook twee verdere temas. Psalm 32 handel ook, eerstens, oor die viering van jou vergifnis. En tweedens, oor die kans om jou foute reg te maak.
Ek sit nou die dag in die kerksaal waar ‘n motiveringspreker praat. Hy praat regtig goed. Die jongklomp geniet hom stukke, en spring elke nou en dan op om te juig. Een van die dinge wat die man sê, laat hulle spesiaal juig. Hy sê: “Werk aan jou swakhede”.
En dis ook die wysheid van Psalm 32. Jy kan nie toelaat dat die foute van die verlede jou lamlê nie. Jy moet werk aan jou swakhede. Jy is nie gebore met swakhede wat altyd by jou sal bly soos krulhare en ‘n groot neus nie. Jy het jou swakhede aangeleer – jy kan hulle ook weer afleer.
Volgende Sondag is die vierde Sondag in Lydenstyd. Waarom lees en preek ons dan Psalm 32? 
Ons kan nooit aan Jesus se lyding dink, sonder dat ons ook aan sy opstanding dink nie. Jesus het ons gewys dat jy jou swakhede kan oorkom. Jesus het gely, nie eers weens sy eie swakhede nie, maar dié van ander. En daaruit opgestaan.
Psalm 32 beskryf vir ons hoe om met ons swakhede se gal te werk: bely jou swakhede; vier jou vergifnis; word wys uit jou foute.
Staan op en loop die pad as ‘n geneesde Christen.

Christina Landman

Seisoen van Luister Powerpoint

Geen verdere Preekriglyne oor Ps 32 in preekargief