{ARGIEF}

Sondag 20 September 2009

Loop, staan en sit soos ‘n wyse mens

Psalm 1:1 wil ons laat loop, staan en sit.

Kom ons doen twee dinge met Psalm 1.  Hierdie twee dinge klink dalk baie outyds. Maar dit kan net maak dat die psalm met ons praat.

Eerste ding, kom ons lees Psalm 1:1 in die ou 1933-vertaling.  Dié is so heerlik letterlik, en so naby aan die Hebreeus.  En dis waarskynlik naaste aan die bedoeling van die vers:  om nie te loop (“wandel” is darem té oud) met goddeloses, te staan met sondaars, en te sit met spotters nie. 

Tweede ding, kom ons lees Psalm 1:1 nie met ‘n klem op goddeloses, sondaars en spotters nie.  Kom ons los die naamwoorde, en kyk na die werkwoorde:  loop, staan en sit.

Ja, Psalm 1:1 nooi ons uit om letterlik te let op waarheen ons loop, waar ons staan, en saam met wie ons sit.
En dit is die wysheid van Psalm 1:1:  Dit sal goedgaan met ‘n persoon wat – letterlik – reg loop, staan en sit.  So, ‘n persoon kan reken op welgeluksaligheid.  Om gesond te wees, gelukkig, en vredig.  Kortom:  wel-geluk-salig.
Ja, ons kan inderdaad aan mense se loop sien of hulle besig is met gesonde dinge of nie.  As hulle suutjies loop, of draaie loop, dan kan ons vermoed dat hulle besig is met ondeursigtige dinge.  En ons kan onsself ook maar bekyk, of ons reguit en openlik loop.

Party mense loop met selfvertroue.  Hulle hardloop en skop ‘n doel deur die pale, en teken punte in die lewe aan.  Hulle is gelukkig.

Maar party mense, kan ons sien aan hulle stap, het pyn.  Hulle loop sê vir ons hulle is eensaam, of depressief, of bitter. Ja, iets weerhou hulle daarvan om salig en vredig te lewe.

En dieselfde met mense se staan.  Jy kan sommer sien hulle beplan kattekwaad wanneer hulle staan en loer, of staan en drink, of staan en niksdoen.  Jy kan aan hulle staan sien hulle is dronk of kwaad.

En ander mense, weer, staan so dat jy kan sien hulle wen.  Hulle staan soos ‘n netbalspeler wat besig is om te korrel om ‘n doel aan te teken.  Hulle staan trots en menswaardig.

En partykeer sien jy aan iemand se staan dat die persoon seer het.  Hulle staan so dat dit lyk of hulle askies vra om te leef.  Of hulle staan eenkant teen die muur omdat hulle dink dat hulle tog nêrens inpas nie. 

Ja, en dan het sit nogal ‘n ding geword vandag.  Party mense sit lang ure voor die rekenaar, en ander voor die TV.  En dit doen hulle partykeer goed, en partykeer kwaad.  Ander sit met hulle hande op die knie van iemand waar dit dalk nie hoort nie.  Nog ander sit met hulle hande in die maatskappy of die regering se koekieblik.

Party mense sit en dobbel.  Ander sit en gee dwelms onder die tafel aan.

Aan party mense se sit kan jy sien hulle is boos.  En aan ander s’n dat hulle broos is.  Party mense sit so, dat jy sien hulle wil hulleself isoleer.  Hulle wil vir die mensdom sê:  Julle wil my nie hê nie, nou wil ek julle ook nie hê nie.
Psalm 1:1, dan, waarsku ons om “reg” te loop, staan en sit.  Ons moet só loop, staan en sit dat ons gesond bly, gelukkig kan wees, en salig kan word. 

En, sou ek graag wou byvoeg, ons moet ook ‘n oog kan ontwikkel vir mense wat graag “reg” sou wou loop, staan en sit – maar dalk nie vry is om dit te doen nie.

Wat laat ons staan en ons sit verkeerd loop?
Wat, dan, maak dat mense “verkeerd” loop, staan en sit?

Partykeer is mense so eensaam, dat hulle verkeerde vriendskappe aanknoop net om van die eensaamheid weg te kom.
Partykeer is mense so sonder hoop op ‘n toekoms, dat hulle dwelms of drank gebruik om net vir ‘n rukkie van hulle ellende te vergeet.

Partykeer voel mense so magteloos dat hulle probeer sterk word deur verkeerde raad en “quick fixes”.
Partykeer voel mense dat hulle nie gerespekteer word nie, en dan doen hulle buitensporige dinge, kriminele dinge, om aansien in ander se oë te kry.

En dikwels dink mense, veral tieners, dat hulle gerespekteer sal word en geleenthede in die lewe sal kry, as hulle baie geld het.  En dan loop, staan en sit hulle op verkeerde plekke om hierdie geld in die hande te kry.

En hoe kan ons ons staan en ons sit laat regloop?

Psalm 1:1 is amper soos ‘n slagspreuk.  Kort en kragtig vertel dit jou om reg te loop, te staan en te sit.  ‘n Mens kan dit amper agter op jou motor se modderskerm sit.

Kom ons dink aan nog ‘n paar slagspreuke wat mense kan help om reg te loop, te staan en te sit.  Hierby kan elkeen van ons natuurlik ‘n hele klomp byvoeg.  Ek het aan die volgende gedink:

  1. Ontdek jou innerlike krag. God deel Sy krag met ons, en het dit in ons gesit toe Hy ons net minder as hemelse wesens gemaak het (Psalm 8).
  2. Groei verby jou pyn. Pyn gaan nie sommer weg as hy lekker by jou bly nie.  Jy moet beplan om daarby verby te groei, stappie vir stappie.  Sodat die pyn nie jou baas word, en jou laat loop, staan en sit waar jy nie wil wees nie.
  3. Sien skoonheid raak. Die werklikheid om ons is gebroke, daarom moet jy jouself dissiplineer om die skoonheid om jou raak te sien.  As jy skoonheid kan sien vanwaar jy loop, staan of sit, dan is jy tog op die regte plek.
  4.  Hoop is ‘n werkwoord. Hoop is nie iets wat op jou neerdaal nie.  Jy word nie vanself daarmee wakker in die oggend nie.  Dis iets wat jy moet doen.  Jy moet daarmee loop, staan en sit.
  5. Lei ‘n gebalanseerde lewe.  ‘n Mens kan nie net loop nie.  Jy moet staan en dink ook.  Jy kan ook nie net staan nie.  Jy moet sit en rus ook.  Jy kan nie net sit nie.  Jy moet opstaan en lewe.  Gebalanseerd.

Psalm 1:1 is egter in die negatief geskryf.  Moenie loop… moenie staan… moenie sit… En daarom, kom ons sluit af met ‘n paar moenie-slagspreuke.  Weer eens is hierdie net my eie, en kan elkeen hieraan toevoeg:

  1. 1. Moenie ‘n tragiese figuur word nie.  Al is jou omstandighede swaar, moenie ‘n identiteit van lyding, die identiteit van ‘n ewige slagoffer aanneem nie.  Ons kry almal swaar, maar jy kan kies om ‘n oorwinnaar te wees.
  2.  Moenie afgestomp of roekeloos word nie.  Partykeer is ‘n mens se seer so groot, dat jy jou gevoelens afstomp, of jou instinkte ignoreer en roekelose dinge doen. Moenie.  Bly in beheer van jou loop, staan en sit.
  3. Moenie goed by mekaar uitbring wat niks met mekaar te doen het nie.  Partykeer maak ons ons eie lewens misrabel omdat ons mense van dinge verdink of komplotte teen ons vermoed, wat uiteindelik niks met ons te doen het nie.  Hou ‘n gesonde uitkyk op jou medemens se loop, staan en sit.  Los maar die agterdog. 
  4. Los maar die “surrender mentality”.  Party mense gee sommer boedel oor.  Ander weet weer nie wanneer om te laat los nie.  Iewers tussenin moet ons ons loop, staan en sit ken.
  5. Soek hulp op die regte plek… Dominee, hier kan jy tog vir die mense sê waarheen hulle kan gaan (“loop”) om hulp te kry.

Mag u in die lente weer nuwe insig kry oor hoe om só te loop, te staan en te sit dat u gesond, gelukkig en salig kan lewe.

Christina Landman

Seisoen van Luister Powerpoint

Geen preekriglyn oor Psalm 1:1 in argief beskikbaar