{ARGIEF}

deur Pieter van Jaarsveld
Ons het in die laaste uitgawe gekyk na die mites oor wat jou gelukkig maak. Nou gaan ons vir die volgende paar uitgawes kyk na wat maak mens gelukkig. Hierdie aktiwiteite waaroor ons gaan gesels, kom nie uit populêre vrouetydskrifte nie. Nee, dit is deeglik nagevorste vaardighede en tegnieke en jy gaan verbaas wees dat die meeste van hierdie aktiwiteite reeds in die Bybel genoem word.
happy
Miskien kan jy onthou dat daar navorsing gedoen is om te vind wat maak mens gelukkig? Hierdie navorsers het vasgestel dat 50% van jou geluk geneties is. As jy ‘n befoeterde oupa gehad het, het dit ongelukkig ‘n invloed op jou; 10% van jou geluk hang van omstandighede af soos bv. jou man wat afgelê is, jou kind wat matriek gedruip het (is dit nog hoegenaamd moontlik?!), maar 40% lê in jou hande! Jy kan dus jou vlak van geluk opskuif, want dit gaan nie net jou verhoudinge verbeter nie, maar ook jou gesondheid en langer laat leef! Voordat ons verder gesels, bepaal eers jou geluksvlak
hier reg in die begin van die reeks:
GELUKSKAAL
Instruksies: Omsirkel die nommer op die skaal wat jy dink jou die beste beskryf. (Let op dat die betekenis van die nommers vir al hierdie items verskillend is)
1. Ek sien myself as:
1    2    3    4    5    6    7
Nie baie gelukkig baie gelukkig
2. As ek my met my tydgenote vergelyk, beskou ek myself as:
1    2    3    4    5    6    7
Minder gelukkig meer gelukkig
3. Sommige mense is oor die algemeen baie gelukkig. Hulle geniet die lewe ten spyte van wat gebeur. Hulle maak die beste van elke oomblik. Tot watter mate is dit beskrywend van jou?
1    2    3    4    5    6    7
Glad nie grotendeels
4. Sommige mense is oor die algemeen nie baie gelukkig nie. Alhoewel hulle nie depressief is nie, lyk hulle nooit regtig gelukkig nie. Tot watter mate
is dit beskrywend van jou?
1    2    3    4    5    6    7
Grootliks glad nie
Hoe om jou telling te bepaal:
Stap 1: TOTAAL Tel op Item 1: _____ +
Item 2: _____ +
Item 3” _____ + Item 4: _____ = _____
Stap 2: Jou gelukspunt = Totaal ÷ 4: ______
Datum: _____
Gelukspunt (na 3 weke): _____ Datum: _____
Gelukspunt (einde vd reeks): ______ Datum:_____
Jy sal sien dat die hoogste telling wat jy kan kry sewe is en die laagste een. Die gemiddeld van meeste mense is so tussen 4.5 en 5.5 en dié van studente so bietjie onder 5 terwyl meer volwassenes rondom 5.6 lê. As jy dus 5.5 kry, is jy so gelukkig soos 50% van die mense. As jy meer as 5.5 kry, is jy meer gelukkig as die gemiddelde persoon. Natuurlik is die uitdaging om hoër as 5.5 te kry en jou nuwe reis begin nou om dit moont-lik te maak! Toets jouself oor 3 weke en kyk of jy al verbeter het.
Na die reeks toets jou weer.
Ons gaan in hierdie reeks kyk na 12 aktiwiteite wat jou geluk kan verbeter. Pas sommer met elke uitgawe die een wat ons bespreek toe, maar aan die einde kan jy uit die 12, drie kies wat die beste by jou menswees pas.
GELUKSAKTIWITIEIT 1: DANKBAARHEID
Seligman, die Vader van Positiewe Sielkunde, het ‘n geluks-aktiwiteit aan ‘n aantal uiters depressiewe pasiënte geleer. Party van hulle was so erg dat hulle nie uit die bed kon opstaan nie. Hulle moes elke dag drie dinge neerskryf waaroor hulle dank-baar was. Eenvoudige goed soos: ”My seun het my vandag gebel; Ek het die boek wat my terapeut voorgeskryf het, gelees; “Ek het met bewondering na die sonsopkoms gekyk.”
Binne 15 dae het hulle van uiters ernstige depressie na ligte en matige depressie verander. Nie minder as 94% het verligting ervaar. ‘n Wonderlike bewys dat dankbaarheid geluk verhoog en selfs depressie verminder! Dis nie verniet dat die Bybel dankbaarheid beklemtoon nie! Gaan lees Fil. 4:4: “Verbly jou in die Here.” Sê jou mos dat wat die navorsing nou bewys, ‘n verskil in die lewe kan maak. Dis lankal deur die Bybel voorspel!
Dankbaarheid verskyn meer as 150 keer in die Ou en Nuwe Testament en die bevel om “dankbaarheid te toon” verskyn 33 keer. Martin Luther het
dank-baarheid as die basiese Christelike ingesteldheid beskou.
Om dankbaar te wees, is veel meer as om “dankie te sê”. Dit is om ‘n lewe van dankbaarheid te leef. Daar is gevind dat mense wat ‘n lewe van dankbaarheid lei, meer energie het, gelukkiger en meer hoopvol is, meer godsdienstig en meer vergewens-gesind, asook minder materialisties. Die gevolg is dat hulle minder depressief is, minder angstig, minder neuroties of minder alleen is. Maniere van dankbaarheid om jou geluk te laat
floreer.
1. Dink dankbaarheid! Dit is letterlik om jou alledaagse ervaringe in die lig te sien van hoe dankbaar jy is om dit te beleef. Wanneer jy jou baba aan die slaap sus, om te beleef hoe wonderlik dit is om hierdie klein prinsessie van die Koninkryk van God in jou hande te hou omdat sy aan JOU toevertrou is!
2. Dink elke dag aan drie dinge waarvoor jy dankbaar is. Waarom doen julle dit nie as gesin rondom die eettafel nie? Ander mense kry vir hulle ‘n “buddy” en dan vertel hulle elke dag vir daardie persoon waaroor hulle dankbaar is. Toe een van my kollegas deur ‘n moeilike tyd gegaan het, het hy elke dag vir my die drie dinge per epos gestuur waaroor hy daardie dag dankbaar was. Verander jou drie dinge na drie weke sodat jy nie daaraan gewoond word nie. Dink bv. oor jou gesin, na 3 weke oor jou werk, ens.
3. Dankbaarheid, selfs in die moeilikste omstandighede, help jou die stres en trauma beter hanteer, al is dit ook hoe moeilik!
4. Mense wat ‘n dankbare lewe lei, help ander ook meer. Soos jy weet, hoe meer jy gee hoe meer ontvang jy. Jou gevoel van geluk skiet die hoogte in.
Wees dus elke dag op die uitkyk hoe jy ander kan help wat nie het wat jy het nie. Dit kan soms net wees om in die gietende reën vir die koerantverkoper ‘n ou reënjas te gaan gee of vir die motorwag, wat in die verseggende hitte staan, ‘n koeldrank uit die winkel saam te bring in plaas van hom uit te jou dat hy bedel.
5. Dit is goed om dankbaarheid direk aan iemand te betuig, hetsy oor die foon, of in ‘n gesprek of per epos. Dink tog daaraan om dit soms vir jou predikant ook te sê as hy ‘n besondere boodskap, wat jou hart geroer het, gelewer het.
Volgende keer geluksaktiwiteit no 2!