{ARGIEF}

NG Moedergemeente, se Jaarlikse tee-uitreik vir al ons huiswerkers. Dit was weer tyd vir ons gebruiklike tee vir ons huiswerkers
– alombekend as Madam and Eve.
APRIL interaksie
Ons het hierdie jaar besluit om vir die dames ‘n regte “High Tea” te gee by Basil, ‘n plaaslike “Coffee shop”. Baie van hierdie vroue was nog nooit by een gewees nie en hierdie funksie is regtig ‘n hoogtepunt op hul kalender en ons s’n. Daar word selfs nuwe klere aangeskaf vir hierdie geleentheid!
Dit is by hierdie geleentheid dat ons vir die dames kan wys hoe ongelooflik belangrik hulle vir ons is en hoe ons hulle waardeer. Ons wil hulle herinner dat vroue universeel is en daarom het ons hulle bedien.Vir sommige was dit moeilik om te verstaan.
Ons het dan ook altyd ‘n geestelike program vir die dames. Hierdie jaar het ons die ongelooflike Eva se Gebed met hulle gedeel. Zola, ons tolk, het vir hulle die gebed in isiXhosa voorgelees. Elkeen het ‘n kopie van die gedig in hulle hand gehad. Daar was ook dames van Zimbabwe en vir hulle het ons ‘n engelse weergawe gegee. Weereens is dit bewys dat taal nie ‘n verskil kan maak oor hoe ons as dames voel en leef nie. Nadat die gedig voorgelees is, kon die dames twee-twee met mekaar hulle ervaring en dit wat vir hulle treffend was in die gedig, deel. Hulle het rondom hierdie gedig gekuier
soos wat net dames kan kuier. Om hierdie opgewonde gesigte dop te hou, het boekdele gespreek. Al kon ons nie altyd verstaan wat hulle sê nie, het die gesigte en oë die storie vertel.
Hierdie jaar was ons dan ook bevoorreg genoeg om genoeg fondse bymekaar te hê sodat ons vir elkeen sy eie bybel in sy eie taal kon gee. Die opgewondenheid het trane in my oë gebring. Ons besef nie altyd hoe bevoorreg ons is nie. Ons kan kies uit watter vertaling of selfs taal ons wil lees vanaand. Vir sommige is hierdie hul eerste eie bybel. Wat ‘n verskil het ons nie gemaak vir die res van hulle lewens nie? Daar is ook sommige
wat gesê het: “Nou kan my kleinkinders ook uit die Bybel lees.”