{ARGIEF}

Ons voorsitter gesels – Antoinette Muller
Die graad 1 KIX’s klas sit voor my. Die grootste uitdaging is om hulle rugstig en stil te kry! Ons gaan sit op die vloer, rug aan rug teen mekaar en begin luister hoe ons maatjies asemhaal. In afwagting wag ons op die Here. Ek vertel vir hulle die storie van die Emmaus-gangers en saam begin ons wonder oor die volgende: Van watter deel van die storie het ons die meeste gehou? Wat is die belangrikste in die storie en hoe sou dit voel om aan Jesus te raak? Kinderlik-opgewonde vertel hulle, dat dit baie mooi is om te hoor dat Jesus self stories vertel, dat Jesus broodjies breek en dit self uitdeel. Dat dit lekker sal wees om aan Jesus te vat, sommer net omdat dit Jesus is en dat Hy baie lekker sag sal wees. Dit bly lekker om saam met kinders te droom oor Jesus. 
Met ons geloofsreis, Vroue met Vlerke, raak ons bewus van God deur na mekaar se stories te luister. Ons begin God raaksien in mekaar se  lewens. Ons raak ook opgewonde soos kinders. Ons raak ook in die luister bewus van elkeen se seer. Ek huil saam met my gelowige vriendinne as ek hoor hoe hulle hulself in die kerk moet verdedig. Hoe hulle onderdanig moet wees aan lidmate wat in mags-posisies sit en sodoende hul vreugde wegneem.   antoinette
Gelowige vriendinne wat bang is vir die risiko om saam met God op reis te gaan, want die strukture hou hul veilig en hulle hoef nie te verander deur nuut te dink oor God nie. Jong, gelowige vroue sukkel omdat hulle juis anders begin dink oor God. Dit word vir my al duideliker dat die Here ons deur sy Gees ontwrig. Hy is besig om die vroue te roep, te stuur en te vorm.
Hierdie ontwrigting is ook besig om in my eie lewe plaas te vind. Om op God te vertrou hou nuwe uit-dagings in en dit is baie maklik, maar eintlik verskriklik moeilik, want ek moet toelaat dat God totaal beheer oor my lewe moet neem. In my reis met God het ek my plek en posisie aanvaar waar God my geplaas het. Dit was ontwrigtend, moeilik en het tyd geneem. Terwyl ek op God wag en na Hom luister beteken nie dat ek niks doen nie. In die wagproses het ek bewus geword van gelowige vriendinne en vriende wat op my pad ge-stuur is, om my te help. Dat ek kan deel wees van God se plan, dat Hy my voorberei vir iets groters as myself is ‘n heerlike ontdekking en wonderlike reis saam met God.
Ek is bly ons kon hierdie kwartaal ‘n paar vroue uitnooi om deel te wees van ons begeleierspan en hulle oplei as begeleiers vir Vroue met Vlerke – alles onderleiding van dr Nico Simpson. Ons is stadig maar seker besig om meer en meer te word. ‘n Geloofsreis is ook nie iets wat mens eenkeer doen nie, maar oor en oor. Ons doen dit dus saam met geloofsvriendinne en daarom nooi ons voortdurend vroue uit om saam met ons hierdie reis te onderneem. Saam ontdek ons dat God die Hoofkarakter is en dat Hy ons deelmaak van sy groter prentjie.
Ons het ‘n gebruikersvriendelike brosjure wat as gids (padkaart) dien om ons in gemeentes te help om die geloofsreis aan te bied. Die gemeentes wat ons reeds besoek het, is saam met ons opgewonde. Ek dink aan ‘n gemeente waar ons die geloofsreis vir mans, vroue, oud, jonk en met kultuurverskille aange-bied het. Ek was verwonderd om te sien hoe die Gees mense voorberei en toelaat dat God hulle vorm en stuur.
Baie dankie aan die gemeentes wat ons innooi met die geloofsreis. Daar wag ‘n hele paar besoeke in die nuwe kwartaal. Ons kuier graag saam met julle en dit is lekker om te sien hoe julle vlerke weer bruikbaar word in God se koninkryk.

Ek het Kol 1:9-11 ontvang en gee dit weer aan vir julle: “Mag julle groei in julle Christenskap. Mag die Heilige Gees julle duidelik wys hoe julle moet leef. Dan behoort julle nie te twyfel oor wat presies God van julle wil hê nie. Mag alles wat julle doen vir julle goeie vrugte dra en julle meer van God se plan vir julle lewe laat verstaan. God is die Een wat oor Goddelike mag beskik. Mag sy krag júlle krag word sodat julle glad nie ongeduldig word en begin moed verloor nie.”