In Filippense 3:4b-14 getuig Paulus oor sy lewensverandering: die omkeer en herwaardeer van sy lewenswaardes. Hy verduidelik aan Christengelowiges iets oor waardes (en status); hy vertel van die status wat hom vroeër gemotiveer het en dié waardes wat hom nou dryf. Hy was eers fanaties en het die kerk vervolg, maar die heersende polities-godsdienstige en sosiale waardes van sy tyd het vir hom betekenislose drek (mis) geword. Hy het na Damaskus ’n totale omkering van waardes gemaak; ‘n nuwe waardestelsel aanvaar. ’n Mens sou ook van ’n metamorfose (μεταμορφόομαι – Romeine 12:2) kon praat; of van die “evangelie as geboorte van die nuwe lewe” (Heerden van Niekerk).
Dit gaan nie oor ’n paar oppervlakkige gewoontes wat aangeleer word nie, dit gaan oor ’n “hartsvernuwing” (soos Esegiël 36:26 verwoord). Paulus het “dit nie teen Joodsheid en sosiale stand as sodanig nie, maar teen die feit dat hierdie dinge hom verhinder om Christus te ken en te dien. Hier sou ’n mens kreatief besin oor dié dinge wat die gelowige in selfgenoegsame gearriveerdheid laat beland. Baie van die dinge is nie noodwendig verkeerd nie, maar kan beslis groei en die kennis van Christus in die wiele ry. Dorothee Sölle se ‘Death by bread alone’ illustreer hierdie punt treffend – sukses, voorspoed, gemak, eer ensovoorts (‘brood” in sy breedste sin) kan jou verstik. Jy kan nie daarvan alleen leef nie!