Johan van der Merwe het op sy Facebook hierdie artikel van prof Jonker geplaas wat ons gerus uit die argiewe kan haal- Oorspreonklik is die artikel geplaas in die Kerkbode van 21 Aug 1974
Hierdie is die tweede aflewering van prof. Jonker se artikel oor selfliefde en selfhandhawing en [daarteenoor] selfverloëning. Die eerste aflewering van sy artikel het ek opgeneem in my FB Nota Omhels jouself / verloën jouself. [1]
SELFLIEFDE EN SELFHANDHAWING – DEEL 2
PROF. WILLIE JONKER
Die Kerkbode, 21 Augustus 1974
IN ONS VORIGE artikel het ons op voetspoor van Calvyn daarop gewys dat die gebod om ons naaste lief te hê soos onsself nie geïnterpreteer mag word as dat dit implisiet óók ‘n gebod tot selfliefde bevat nie. Ons het daarop gewys dat die idee van selfliefde in stryd is met die Bybelse begrip van liefde en dit onderstreep deur te wys op die Bybelse oproep tot selfverloëning. Ons het daarop gewys dat nie die selfliefde en die selfhandhawing nie, maar die verloor van ons eie lewe om Christus ontwil die wet van die Koninkryk is. Ons het afgesluit met die Bybelse waarheid dat alleen die mens wat homself verloën en sy lewe op Jesus en die naaste rig, homself werklik kan vind.
Ook die Naaste
Ons wil op hierdie laaste punt nog ‘n bietjie nader ingaan. Die selfverloëning wat die Bybel van ons vra, geld nie net teenoor God of teenoor Christus nie, maar óók teenoor ons naaste. Calvyn het daar verruklike dinge oor geskrywe, weer eens vanweë sy diepe insig in die Skrif. Dit is die wese van die Christelike liefde dat ‘n mens nie jou eie belang moet soek nie, maar moet omsien na die belange van die naaste. Wat dit konkreet beteken, het Christus nie net in sy duidelike uitsprake in die Bergrede aan ons bekend gemaak nie, maar ook op ander plekke in die Evangelies, soos met name in die gelykenis van die Barmhartige Samaritaan (Luk. 10) en in sy ontmoeting met die Ryk Jongman (Luk. 18).
Sowel in die gelykenis van die Barmhartige Samaritaan as in die gesprek met die Ryk Jongman word dit duidelik dat liefde tot die naaste nie iets is wat begin waar ek eers in my selfliefde vir myself gesorg het en myself gehandhaaf het nie. Wie dit wil doen, gaan soos die priester en die Leviet “anderkant verby” as hulle ‘n verwonde mens langs die pad sien lê. Ongetwyfeld sou hulle albei goeie redes kon aanvoer waarom dit nie moontlik of verstandig vir hulle sou gewees het om aan die arme ellendeling hulp te verleen nie. Dit kon gevaarlik gewees het of dit sou hulle moontlik in ‘n hele klomp beslommernis en onaangenaamheid kon betrek het. Feit bly egter dat hulle nie die selfverloëning van die naasteliefde betrag het nie. Dit het die Samaritaan nou juis wél gedoen.
Liefde tot die naaste is dit dat die Samaritaan homself en sy belange vergeet en homself volkome met die belange van die gewonde man langs die pad besig hou, ongeag van wat dit hom sou kos of die moontlike tydsverlies en gevare wat daarmee gepaard sou gaan.
Net so het die Ryk Jongman ongetwyfeld goeie redenasies gehad waarom hy bedroef van Jesus moes weggaan. Hoe kon Jesus hom vra om sy sekuriteit prys te gee? Is rykdom dan nie ook ‘n gawe van God nie? Tog het die naasteliefde in sy geval duidelik net één ding beteken, en dit was dat hy al sy goed moes verkoop en dit aan die armes moes gee, sonder om te vra waarvan hyself dan verder moet lewe. Hy wou dit egter nie doen nie, omdat hy sy lewe wou behou. Daarmee het hy egter juis sy lewe in die ware sin van die woord verspeel.
Jesus en die ryk jongman [Heinrich Hofmann].
Dieselfde liefde
Ook al is dit duidelik dat die Here nie van ons almal vra presies wat Hy van die Ryk Jongman gevra het nie, dan is dit nog ‘n opvallende illustrasie, net soos die gelykenis van die Barmhartige Samaritaan, van wat liefde tot die naaste in werklikheid beteken. Deur die ware betekenis van die liefde op hierdie wyse sigbaar te maak, het Christus maar net in die konkrete lewe van gewone mense toegepas wat die boodskap van Sy hele lewe en optrede was.
In en aan Christus word dit openbaar wat die ware liefde en die ware selfverloëning is. Paulus spel dit in die brief aan die Filippense in ronde terme uit dat Christus, wat in die gestalte van God was, dit geen roof geag het om aan God gelyk te wees nie, maar homself ontledig het deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk te word. En in die gedaante gevind as ‘n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis (Fil. 2: 6-8).
Christus het Homself nie gehandhaaf nie, Hy het nie sy eie belang gesoek nie. Die merkwaardige is dat dit alles van Christus gesê word, wat tog sonder enige sonde was. Daaruit kan ons leer dat selfverloëning nie net iets is wat aan die sondige mens voorgehou word, terwyl selfliefde dan goed sou wees in die sondelose nie.
Dit is die wese van die Christe-
like liefde dat dit homself ter wille
van die ander ontledig en weggee.
“Ek het vir julle ‘n voorbeeld gestel, en soos ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen.” [Joh. 13:15]
Dit is nou juis in hierdie liefde van Hom dat Christus aan ons as ons Voorbeeld voorgehou word. Die navolging van Christus bestaan nie in allerlei dinge nie, maar in die feit dat ons van dieselfde gesindheid as Hy moet wees (Fil. 2: 5). Ook Petrus roep die gelowiges daartoe op om, Christus na te volg in Sy selfverloënende liefde. Toe Hy uitgeskel is, het Hy nie teruggeskel nie; toe Hy gely het, het Hy nie gedreig nie (1 Petr. 2: 21-24). Hierdie boodskap kom egter die duidelikste na vore in die geskiedenis van die voetwassing. In dié simboliese gebaar vat Christus die hele geheimenis van die vleeswording en Sy aardse omwandeling en kruisdood saam as één magtige daad van selfontlediging, selfvernedering en diens in die reinste selfloosheid. Die merkwaardige is nou dat Christus juis in hierdie verband aan Sy dissipels sê: “‘n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê”. (Joh. 13: 34).
Ons skuld die naaste dieselfde liefde wat Jesus aan ons geskenk het. In hierdie liefde is daar geen plek vir selfliefde en selfhandhawing nie. Verre dus daarvandaan dat die selfliefde die norm of maatstaf vir ons liefde tot die naaste sou wees, stel die Bybel dit baie duidelik dat die liefde van Christus die maatstaf en norm van ons naasteliefde moet wees. Dit is duidelike taal waarby niemand wat die Skrif eerbiedig, verby kan kom nie.