{ARGIEF}

Ons loop nog op die wolke na Kix se opwindende Kinderkonferensie op 11 en 12 September 2018. Baie Kix-leiers en ander kinderbediening-leiers uit alle denominasies is “Toegerus vir die Toekoms”. Ons is die Here baie dankbaar vir al die Kix-leiers wat getroue kinders van Jesus is en beter toegerus is vir hul bediening.
Videogrepe van die hoofsprekers se aanbiedings asook van ‘n paar werkswinkels wat aangebied is, sal binnekort op hierdie webtuiste beskikbaar wees.
Ons het ‘n baie bedrywige en geseënde jaar by Kix agter die rug! Vanjaar het die eerste Engelse vertalings van die Kix-ontmoetings die lig gesien. (Dit is op hierdie webtuiste beskikbaar.) Die “Jesus vir Japan”-projek het gesorg vir wonderlike kreatiewe ontmoetings en fondsinsamelings asook verdiepte verhoudings met ons vennote by Missie Japan.
Mag jy die laaste kwartaal van 2018 ook soos Paulus in 1 Timoteus 1:12 getuig: “Teenoor Christus Jesus ons Here is ek dankbaar: Hy het my krag gegee en my betroubaar geag om my in sy diens te stel.”
Ons verwelkom Maryke Fourie in die Jeugkantoor. As ‘n jong oud-onderwyseres en langafstandatleet is ons seker sy het oorgenoeg kreatiwiteit, ervaring en energie vir die Jeugkantoor. Maryke, ons bid vir jou ‘n geseënde tyd toe in jou nuwe werksomgewing.
Waarna sien ons uit in 2019? ‘n Splinternuwe projek word aangepak, naamlik Kix na Kenia. Ontmoetings in Afrikaans en Engels word op die oomblik geskryf oor die dissipels, oor Petrus se lewe en oor Jesus se gelykenisse en wonderwerke. Ons visie is dat al hoe meer gemeentes en individue Kix.Kom sal gebruik om kinders in kerke, skole, nasorgsentrums en gemeenskapsale te bereik vir Jesus!
Vriendelike groete, Anriëtte de Ridder

Dokumente

[listyofiles folder=”Dokumente/KIX_pdfs/2018-4de-kwartaal”]

Foto’s van die konferensie