{ARGIEF}

met die sleuteltekste van die Leesrooster as basis

Eerste week in Lydenstyd
18 Februarie
1Petrus 3:18-22
Ek ly omdat ek goed doen
Ysbreker
Hoe het jy al in jou lewe die uitdrukking “stank vir dank” ervaar? Hoe het dit jou laat voel?
 
Lof en aanbidding
Dit is nou Lydenstyd. Gewoonlik sing ons in hierdie tyd liedere met ‘n stadiger tempo, soos die Taizé-liedere. Julle kan dit sing, of daarna luister. Steek ‘n kers aan en plaas dit in die middel van die groep om die lig van die Here se teenwoordigheid te simboliseer. Raak dan stil en dink na oor die Here se teenwoordigheid die afgelope week in jou lewe. Dink aan oomblikke toe jy gevoel het dit gaan met jou goed, en jy gelukkig was. Waar was jou Here in dié oomblikke? Was daar oomblikke toe jy swaargekry het, dalk omdat jy goed gedoen het? Het die Here toe ver gevoel? Waar was Hy in die oomblikke? Praat met Hom daaroor. Iemand lees Psalm 25:1-10, en die res beaam die woorde in hulle hart. Fluister saggies die woorde “Dink aan my in u trou, Here, omdat U goed is” 3 maal.
 
Woord
1Pet.3:18-22

  1. Lees eers die gedeelte saggies, biddend met jou hart. Let op die woorde wat vir jou uitstaan en herhaal hulle in jou hart, totdat jy sien hoe jou lewe verander om soos die woorde te lyk.
  2. Hoe troos vers 18 jou in jou eie lyding? Wat is die doel van Christus se lyding?
  3. Wat is die uiteinde van Christus se lyding en opstanding? (Verse 19-20)
  4. Watter ander betekenis word aan jou doop gegee in vers 22?
  5. Wat beteken vers 22 vandag vir jou?
  6. Raak nou weer stil by die Here. Dink na oor die gedeelte wat gelees is. Dank Hom vir jou doop en sy lewens-veranderende teenwoordigheid op daardie oomblik.

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Gesels saam oor julle lyding en hoe sien julle vir Christus in julle swaarkry? Bemoedig mekaar en bid dan vir mekaar.
 
Uitsending
Na watter een persoon in julle omgewing, wat in hierdie tyd swaarkry, gaan die groep uitreik?
 
Tweede week in Lydenstyd
25 Februarie
Romeine 4:13-25
Oorgelewer… opgewek… vrygespreek
Ysbreker
Hoe voel jy oor reëls, bv. Huis-reëls, skool-reëls, gemeente-reëls, sport-reëls, ens?
 
Lof en aanbidding
Kom tot rus by die Here en dink aan sy betrokkenheid in elke klein deeltjie van jou lewe. Sing vir Hom liedere waarmee julle Hom loof en aanbid. Raak dan stil en dink aan Hom wat met liefde en genade na jou kyk. Stap saam met Hom deur die afgelope week in jou lewe. Waarvoor wil jy dankie sê? Wat maak jou hart onrustig? Noem dit vir Hom. Iemand lees dan Psalm 22:23-32 terwyl die res die woorde in hulle harte saambid.
 
Woord
Rom.4:13-25

  1. Lees die gedeelte in stilte met jou hart. Watter woorde in die gedeelte raak jou aan? Herhaal hulle en laat hulle diep afsak tot in jou hart.
  2. Hoe ontvang Abraham God se belofte? (Verse 13-16) Wat beteken dit?
  3. Hoe kry ons deel aan die belofte aan Abraham? (Vers 17)
  4. Wat is besonder aan Abraham se geloof? (Verse 18-22) Wat leer ons uit sy geloof?
  5. Hoe bemoedig die woorde “ter wille van ons” jou? (Verse 23-25)
  6. Raak nou weer stil by die Here. Vertel Hom van jou geloof in Hom. Sien reeds hoe Hy jou verander sodat jy ook oortuig is dat “God mag het om te doen wat Hy beloof het”

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Gesels met mekaar oor oomblikke wanneer julle sukkel met julle geloof. Bid dan vir mekaar.
 
Uitsending
In wie se lewe gaan die groep die komende week saam met die Here ‘n geloofs-versterkende rol speel?
 
Derde week in Lydenstyd
4 Maart
Johannes 2:13-22
Jesus se vreemde optrede
Ysbreker
Hoe maak jy gewoonlik wanneer jy baie sterk voel oor sake wat verkeerd is?
 
Lof en aanbidding
Kom ons dink nou aan ons Here. Sing vir Hom liedere wat Hom loof en aanbid. Beleef Hom wat deel is van die groep. Raak nou stil diep in jou binneste. Sien Hom wat met liefde by jou is ter wille van jou en elkeen rondom jou. Sien Hom as’t ware in jou “tempel”. Wat gebeur wanneer jy Hom daar sien? Iemand lees nou Psalm 19:8-11 en die res beaam dit in hulle harte.
 
Woord
Joh.2:13-22

  1. Lees die gedeelte eers in stilte en beleef wat hier gebeur. Jy kan een van die dissipels wees wat alles sien en hoor. Wat gebeur in jou binneste wanneer dit vir jou lyk of Jesus kwaad is en geweld gebruik? Bring sy woorde jou tot rus?
  2. Waarom tree Jesus so vreemd op? (Verse 13-15) Wanneer jy dink aan vandag, is daar nie ook tye wanneer jy wil hê Hy moet so kwaad word en ‘n sweep gebruik nie?
  3. Hoe verduidelik Jesus sy optrede en waaraan dink die dissipels? (Verse 16-17)
  4. Hoe sou ons gesprek met Jesus geklink het in vergelyking met die Jode s’n (Verse 18-20)
  5. Ons weet tog nou al dat geen gebou (selfs die kerkgebou) nie meer die tempel van die Here is nie. Hoe werk dit nou? (1Kor.6:19-20; 12:13,27)
  6. Wat het Jesus bedoel, verstaan sy dissipels dit? Verstaan jy? (Verse 21-22)
  7. Iemand kan hierdie gebed hardop lees terwyl die ander dit in hulle harte beaam: As ek dink aan die een lewe wat U my gegee het, U liefde vir my en al U drome en goeie bedoelings met my lewe, is ek so jammer oor die kere wat ek dit bederf het. Verander my lewe volkome volgens U wil, Here. (AH)

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Sê vir mekaar watter dinge julle in mekaar waardeer. Bid dan vir mekaar se behoeftes.
 
Uitsending
Hoe kan ons die boodskap van hierdie gedeelte gaan oordra aan die mense in ons omgewing?
 
Vierde week in Lydenstyd
11 Maart
Johannes 3:14-21
Jesus, my lewe, Jesus, my lig
Ysbreker
Wat maak jy gewoonlik as iemand die lig aansit wanneer jy slaap?
 
Lof en Aanbidding
Pas aan by die Lydenstyd met aanbiddingsliedere (gebruik Taizé-liedere). Aanbid die Here tot julle Sy teenwoordigheid aanvoel. Kom dan tot rus en dink aan die Here, jou verlosser. Dink daaraan dat Hy jou so liefhet, dat Hy Homself vir jou gee. Rus in sy liefde. Iemand lees Psalm 107:1-3, 17-22. Die res bid die woorde saam. Fluister in jou hart: Here, ek loof U vir u troue liefde.
 
Woord
Joh.3:14-21

  1. Lees die gedeelte in stilte en hoor Jesus se stem. Dink daaraan dat God se liefde Hom laat gee. Wat gebeur in jou binneste wanneer jy daaraan dink?
  2. Lees nou eers Num.21:4-9 en sê in julle eie woorde wat hier gebeur.
  3. Hoe pas Jesus dit toe op Homself? (Verse 14-15)
  4. Lees nou verse 16-18 en vertel wat die verse vir jou persoonlik beteken. Wie is Jesus vir jou?
  5. Watter treurige verhaal lees ons in verse 19-20? Hoe handel jy volgens die waarheid? (Vers 21)
  6. Raak nou weer stil. Dink weer na oor hierdie ou-ou tyding. Hoe verander die Here deur hierdie tyding jou lewe? Praat met Hom daaroor.

 
Bedien mekaar
Deel nou julle eie lyding met mekaar en bid vir mekaar. Moenie vergeet om die Here te dank vir jou redding nie!
 
Uitsending
Met watter een persoon gaan jy die liefdevolle Here in jou hierdie week deel?
 
Vyfde week in Lydenstyd
18 Maart
Johannes 12:20-33
Ek wil U dien, Here!
Ysbreker
As jou huis aan die brand is, en jy het die kans om net één iets te red uit die vlamme, wat sal dit wees? Hoekom?
 
Lof en Aanbidding
Raak nou eers stil en begin deur te fokus op die Here. Probeer Jesus sien op Sy pad van lyding. Sing dan aanbiddingsliedere vir Hom. Dink dan aan Jesus in jou afgelope week. Wanneer het jy Hom regtig naby aan jou beleef? Was daar oomblikke toe dit vir jou gevoel het Hy is ver? Wat het gebeur en waar was Hy toe? Praat met Hom daaroor. Iemand lees dan Psalm 119:9-16 terwyl die res hulle aan die Here toewy.
 
Woord
Joh.12:20-33

  1. Raak eers stil met die Woord oop voor jou. Lees die gedeelte en soos jy dit lees, antwoord jy die Here op sy Woord. Hoor Jesus se woorde, sien ook sy diep ontsteltenis. Beleef die stem uit die hemel “om julle ontwil”.
  2. Wat wil die Grieke graag doen en hoekom? (vers 21)
  3. Wat antwoord Jesus? (Verse 25,26) Wat beteken dit?
  4. Watter wonderlike belofte hou dit in? (vers 26)
  5. Wat wys Jesus vir ons in verse 27-28? Het dit gevolge vir almal wat Jesus volg en dien?
  6. Wat is die betekenis van die stem uit die hemel? (Verse 29-33)
  7. Raak nou weer stil by die Here. Lees nou veral die woorde wat jou geraak het. Sien hoe die woorde jou lewe verander. Dink daaraan dat die Vader jou eer.

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Dank eers die Here vir die groot waarde van jou broer/suster in jou lewe en bid dan vir mekaar.
 
Uitsending
Ons ken mense wat graag vir Jesus wil ontmoet. Wie is hulle en hoe gaan die groep sorg vir hierdie ontmoeting?
 
Sesde Week in Lydenstyd (Palmsondag
24 Maart
Markus 11:1-11
Prys Hom in die hoogste hemel!
[Ek is bewus daarvan dat die fokusteks vir hierdie week Markus 15:1-39 is. Die groep is welkom om gedeeltes daaruit te neem en by hulle byeenkoms in die Groot Lydensweek daaruit te lees en dit in stilte te oordink, of na elke gedeelte iemand die geleentheid te gee om te bid – stil-gebed sal eintlik meer gepas wees, of na elke gedeelte ʼn Taizé-lied (bv. VONKK 22 [Bly by My en waak met My] of Liedboek 384 [Jesus, o dink aan my] baie saggies te sing. Die groep kan ook ʼn klompie kerse aansteek en dit na elke Skrifgedeelte doodblaas, tot die laaste een dan met Jesus in die graf doodgeblaas word. Die groep kan op hierdie manier die lydensweg van Jesus saam met Hom loop. Hierdie is baie gewyde oomblikke en as die groep gewoond is daaraan om na die byeenkoms iets saam te drink, sal dit beter wees om dit liewer voor die tyd te doen, sodat die groep na die laaste kers doodgeblaas is, so 3 minute stil sit, en mekaar dan groet en in stilte vertrek.
In ons Gemeente gaan ons stilstaan by Jesus se intog in Jerusalem. Ek werk dus materiaal daaroor uit.]
Ysbreker
As die skeidsregter ʼn verkeerde beslissing neem wat jou span benadeel en die skare begin hom uitjou, doen jy dit gewoonlik saam met almal rondom jou?
 
Lof en aanbidding
Dit is die begin van Groot Lydensweg. Sing liedere waarmee julle fokus op Jesus se laaste dae tot met sy kruisdood op aarde. Liedboek 399 (Aan die tafel met die Paasmaal) is ʼn baie treffende lied wat die hele Groot Lydensweek besing en ook met kitaar begelei kan word. (Indien iemand die musiek van Karl Jenkins het, kan dit gespeel word. Die lied “The armed Man: A mass for Peace – Benedictus” is baie ideaal vir hierdie byeenkoms en is juis die woorde wat gebruik word deur die skare wanneer Jesus op die donkie inry in Jerusalem). Raak dan stil en dink aan Jesus se weg van lyding in sy laaste week. Beleef dit saam met Hom. Beleef hoe Hy in jou lyding saam met jou is. Iemand kan dan die oomblikke van stilte afsluit met hierdie gebed:
Gebed vir Palmsondag
Here, op hierdie Palmsondag dink ek terug
Aan die Sondag eeue gelede
Ek sien myself in ʼn skare wat saamdrom
En U ry as Koning Jerusalem binne
Op ʼn donkie met ʼn kruis op sy rug
Die mense gooi palmtakke voor U neer
Ek hoor die skare sing, ek probeer hoor wat hulle sing
Ek sien die blydskap, die geluk en liefde uit hulle straal
“Prys Hom! Loof Hom! Hosanna!” hoor ek
En ek sing die eenvoudige loflied saam…
ʼn Paar dae later dink ek weer
Aan die Vrydag eeue gelede
Ek sien myself in ʼn skare wat saamdrom
U strompel as veroordeelde Jerusalem uit
Met ʼn kruis op U rug
Die mense spoeg op U en slaan U met die vuis
Ek hoor die skare skreeu, ek probeer hoor wat hulle skreeu
Ek sien die woede, die ongeluk, die haat op hulle gesigte
“Kruisig Hom! Kruisig Hom!” hoor ek
En ek skreeu die verskriklike woorde saam…
ʼn Paar uur later sien ek myself in die skare wat saamdrom
U is vasgespyker aan die kruis
Ek hoor U woorde en probeer hoor wat U sê
“Vader, vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie”
En ek raak stil…
(AH)
 
Woord
Mark.11:1-11

  1. Lees weer die gedeelte in stilte met jou hart. Beleef die oomblikke saam met Jesus. Jy kan selfs een van die dissipels wees wat die donkie moet gaan soek en hom dan vind net soos Jesus gesê het. Sien die opgewondenheid van die mense wanneer Jesus aankom op die donkie, die klere wat hulle uittrek en voor Hom in die pad gooi, die takke… hoor die lied wat die mense voor en agter Jesus sing.
  2. Hoe kry Jesus die donkie waarop Hy Jerusalem inry in die hande? Wat dink julle hiervan? (Verse 1-6)
  3. Die manier waarop die skare Jesus ontvang herinner aan die ontvangs van ʼn oorwinnaar-koning. (Verse 6-10). Dink julle die klere, takke, die lied (Ps.118:26) was werklik ʼn koninklike ontvangs?
  4. Sê dit vir jou enigiets dat die Koning op ʼn donkie ry? Wat sou jy verwag het?
  5. Raak nou weer stil by die Here. Lees weer die gedeelte deur en let op die dinge wat vir jou uitstaan. Laat dit insink tot diep in jou hart. Sien hoe die Here deur hierdie ontmoeting met Hom, jou lewe verander.

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Terwyl ons saam met Jesus in sy lyding is, is Hy ook saam met ons in ons s’n. Hy gebruik ons om mekaar te help dra aan die swaar dinge. Deel nou julle behoeftes met mekaar en bid vir mekaar.
 
Uitsending
Hoe kan ons as groep die nederige koningskap van Jesus gaan lewe in die week wat voorlê? Beplan saam aan konkrete aksies hoe julle saam met mense in hulle lyding kan wees en die Groot Lydensweek ook vir hulle anders kan gaan maak. Laat die Gees julle lei.
 
Adriaan Haasbroek, Lambertsbaai, a3aanh@telkomsa.net