{ARGIEF}

Vandag was Lausanne III se afsluiting… En wat `n afsluiting!
Die Bybelstudie was uit Ef 6: 10-24
Die tema van die oggendsessie: Vennootskappe binne die Liggaam van Christus oor die wêreld heen.
Vanmiddag het ek `n wegbreeksessie bygewoon oor die kweek van leierskap en ware dissipelskap binne die plaaslike gemeente. Dit voel werklik vir my of ons soms met `n 1001 dinge besig is, maar soms die heel belangrikste mis.
Een van die ander sessies het gehandel oor `n wêreld wat volop is aan Bybels maar Bybel-armoedig geword het. Mense het Bybels maar lees en ken dit nie meer nie.  Dit laat `n mens diep dink oor baie dele van Suid-Afrika.
Toe was daar die byeenkoms vir die verskillende streke van die wêreld. Ons is deel van Engels- en Portugees-sprekende Afrika. Tydens die byeenkoms het 39 Brasiliane `n getekende dokument oorhandig waarin hulle om vergifnis vra vir die wyse waarop Brasilië Afrika oor die jare uitgebuit het. Die reaksie van Afrika was oorweldigend. So gewonder hoekom dit vir ons so swaar is om te sê ons is jammer…
… en toe vanaand. `n Drie ure nagmaal wat blitsvinnig verbygegaan het. Daar was `n massakoor van ongeveer 200 mense en `n simfonie-orkes wat die hele liturgie met die mooiste musiek denkbaar deurgaans begelei het. Vul dit nou aan met 4500 stemme van die konferensiegangers en jy kry die prentjie. Daar was dansers, `n kort (20 min) boodskap wat die week eintlik saamgevat het en talle gebede… maar die nagmaal. Dit het werklik vir my gevoel of dit `n proeseltjie van die hemel is. Die liefde, eenheid en vreugde van hierdie skare van oor die hele wêreld was net ongelooflik. Jy sal dalk verstaan as ek sê dat dit `n nagmaal is wat ek lank sal onthou.