{ARGIEF}

KONTEMPLATIEWE GEBED
(samevatting)

 

MOONTLIKE ELEMENTE VAN TYD MET GOD

lectio (lees)
meditatio (laat intrek)
oratio (praat met God)
contemplatio (rus in God)
Dit het drie implikasies:
• Meditasie en kontemplasie is verskillend. In meditasie gaan dit oor stil word met gedagte-inhoud. In kontemplasie gaan dit daaroor dat jou gebed nie hoef op te hou wanneer jy alles vir God gesê het wat jy nou wil sê nie: Daar kan nog ’n tyd wees van net rus in Hom, in die wye ruimtes anderkant woorde en gedagtes. Dit gaan dan nie net oor stilte in die ore nie, maar ook oor stilte in die kop. Deur die eeue het Christene eenvoudige, sagte maniere ontwikkel om terug te staan van die geraas in die kop en te rus in hulle geloof, dws in God. Die doel is nie om ’n gedagteloosheid in die kop te probeer skep nie (al is daar soms klein oomblikkies daarvan), maar om twv gerigheid op God vryer te wees van die gedagtestroom wat gewoonlik deur ons koppe vloei.
• Gesonde kontemplasie loop saam met meditasie en word dus gebou gedagte-inhoud, op die Openbaring.
• Die primêre vorm van gebed is praat met God, versoeke gerig tot God en die ander elemente van gebed.

BELANGRIKHEID

Kontemplatiewe gebed is nie belangriker as die ander elemente van ons godsdiens nie. Ons bied alles vir God aan om daardeur te werk soos Hy wil en vorms van stilword is maar een van die aktiwiteite wat ons kan aanbied.
[God werk soos Hy wil. Hy is aktief hier, hier aktief.]

STILTE IN DIE KOP

Gedagtetreine loop wa aan wa deur ons koppe en ons ervaar almal dat dit goed is wanneer daar soms ’n gaping tussen die waens kom.
Byvoorbeeld: kyk na iets moois met naakte waarneming voor jy daaroor begin dink; doen iets met volle aandag ens ens.

GEBED ANDERKANT GEDAGTES

Vorms hiervan het al in ongesonde mistiek ontaard: versmelting in God; los van die Openbaring; teen-natuurlik. Maar dit kan ook gesond funksioneer. Dis doodnatuurlik dat alles wat ons beleef nie onder gedagtes en woorde gebring kan word nie.

HISTORIESE BRONNE

Eensaamheid in stilte met God vanselfsprekend in die Bybel: Moses in die woestyn en op die berg; Elia in die woestyn; Jesus in die woestyn en biddend op eensame plekke, selfs ’n nag op die berg; Petrus op die dakstoep tot hy honger word.
Woestynvaders; kloosterwese; exercitia spiritualia van Dordt 5,2; Voetius; à Brakel.
Andrew Murray het baie geestelike krag ontvang deur sy blootstelling aan mistieke skrywers en pleit dat ’n mens in die binnekamer “jou gedagtes in Hom verloor”.
Tans kom die Weste agter hoe ’n groot rol stilte in die Oosterse godsdienste speel en dit motiveer ons om ons eie bronne oop te maak.

TEOLOGIESE VERSTAAN

Genade
Die suiwer plek is die leë hande, om niks te hê nie, ophou probeer, om heeltemal van God afhanklik te wees. In kontemplatiewe gebed sit ’n mens met niks, nie eers ’n gedagte nie, slegs jou gerigtheid op God.

Blote bestaan
Alles bestaan slegs omdat God dit met sy aktiewe teenwoordigheid onderhou. Die feit dat ek bestaan, behels reeds kontak met God en my geloof maak my daarvoor oop. Ek hoef kontak met God nie te bereik nie, maar het dit reeds – dit kan ek net glo – en moet ophou om met my pogings in sy pad te kom.

Verhouding
Geloof het gedagte-inhoud wat ons lei na ’n verhouding met God. In elke verhouding, veral ’n verhouding met God, is daar meer as wat onder gedagtes gebring kan word.

Geheimnisvol
Ons verhouding met God behoort op twee bene te loop: Ons weet heelwat van Hom, maar Hy is steeds meer, grootser, as enigiets wat ons kan dink. (Wonderlik dat ons kan glo dat Hy voortdurend aan die werk is, al kan ons baie daarvan nie ervaar of verstaan nie.)