{ARGIEF}

 Sondag 13 September 2009

“WIE Sê JY IS EK?” HET INDERDAAD IMPLIKASIES “Ons leef in ’n wonderlike tyd. Daar is ’n nuwe entoesiasme vir geestelike diepte in die Christelike geloof. ’n Eietydse, verantwoordelike manier van glo, vernuwing en gestuurdheid is aan die ontwikkel” (PvN in Christenleiers, Bybelmedia).

Sondag se teks help die boodskapper om kreatief Jesus se intiem persoonlike vraag “Wie sê jy is Ek?” te belig. Jesus is in die eerste plek nie geïnteresseer wat ander mense van Hom dink nie, maar wat sy volgelinge oor Hom sê. Jesus wil weet hoe sien en beleef ek en jy Hom?

Sakkie Spangenberg antwoord Jesus in Jesus van Nasaret (Griffel Media, 2009) deur verskillende mense se antwoorde op ’n sensitiewe manier weer te gee. Sy eie antwoord is aan die meeste van ons bekend, maar hy pleit vir die begrip en aanvaarding van ander s’n.

Indien daar tans Christene is wat by enige van die ander perspektiewe aanklank vind wat ons óf in die Nuwe Testament, óf in die vroeë Christendom vind, behoort hulle as deelgenote van die lang en ryk tradisie wat rondom Jesus van Nasaret ontstaan het, gereken te word. Hulle is nie ketters of afgedwaaldes wat hulle moet bekeer nie.

Johann Boshoff skryf “Spangenberg se opregtheid, eerlikheid en integriteit daag my beslis uit om sonder selfbedrog opreg, eerlik en met integriteit te besin oor wie Jesus vir mý is, wetende dat Jesus nie dieselfde vir enige twee navolgers van Hom is nie. Geen twee verhoudings is immers identies dieselfde nie. En Jesus het dit volgens die betrokke vraag se implikasie geweet.” (Sien Boshoff se resensie op Spangenberg se boek in www.kerkbode.co.za)

Christus se vraag word eerste deur Petrus as woordvoerder van die eerste volgelinge beantwoord: “U is die Christus!” Hierop reageer Jesus op ‘n raaiselagtige manier, Hy bevestig of korrigeer nie Petrus se antwoord (as’t ware ‘n belydenis) nie. Jesus belet Petrus-hulle om die inhoud van die gesprek met ander te deel! Ek wonder of Jesus nie daarmee wou sê hulle moet liefs nie hul perspektief van Hom met ander deel nie, want hulle besef nie die volle implikasies daarvan nie. Petrus se reaksie ‘n paar verse later illustreer juis die punt!

Jesus is baie huiwerig om na Homself as “die Christus” (Messias) soos Petrus bely, te verwys. Volgens die Evangelies praat Hy die graagste van Homself as Seun van die mens (soos vers 31). Dit is veral in sy lydensaankondigings dat Jesus na die Seun van die mens wat gaan ly, verwys. N.a.v. Dan.7:13 beteken die Seun van die mens ‘n heerlikheidsfiguur wat sou kom om te oordeel en te regeer, maar Jesus koppel dit aan die Dienaar [met die implikasies van vernedering en lyding] wat vernedering en lyding beteken (sien o.a. Adrio König, Die helfte is my nooit oor Jesus vertel nie). Petrus het dadelik met sy lippe bely, maar hy het dit eers later met sy lewe reggekry. Wie jy sê Jesus is, wys in en deur jou lewe! Wat jy bely het implikasies. Ter wille van Jesus, so lyk dit vir my volgens die teks, word my eie belange opsy geskuif. Deur jou optrede bewys jy jy glo Jesus het werklik opgestaan en lewe. Dít vra ’n prys. En dit verg van jou en my die begrip en aanvaarding of op die minste, ernstige oorweging van ander se antwoord op Jesus se vraag.

Terloops, as die ou hieronder vir jou vra wie hy is, wat sal jy hom antwoord? Bow down

 

 

Are You Prepared To Bow Down Before This 5′ 1″ Man As Your Lord? http://www.dadsdayoff.net/Jesus-real-face.html

Pieter van Niekerk

Seisoen van Luister Powerpoint

Verdere Preekriglyn – slegs Markus 8:31-38