{ARGIEF}

 Die reis na Binne – ‘n Groei in Bewussyn [VBO 16]

Kontak Chrisna van der Merwe by: 021-808 3624; cmer@sun.ac.za

Laai inskrywingsvorm af

 

Aanbieders: Mimi Saayman, Carel Anthonissen (Sentrum vir Christelike Spiritualiteit, www.christianspirit.co.za)
Datum: 13–15 September 2010
Plek: St Raphaels Retreat-sentrum

Tema en doel:
Dis bekend dat ons moderne kultuur ons lewens nie alleen dol en gedrewe gemaak het nie, maar daardeur op vele vlakke ook vervreem het van onsself,  ons medemens, die omgewing en uiteindelik God. Die dieper tragedie is dat ons, ook as gelowiges, dit nie eers aldag besef nie.
Die kursus die “Die reis na binne” wil ‘n ruimte skep waarbinne ons ‘n dieper bewussyn van hierdie probleem en veral die maniere om dit te oorkom, kan kweek. Die uitgangspunt van die kursus is dat die Christelike lewe ‘n reis is – een waarop ons voortdurend uitgenooi word om dieper betrokke te raak by die misterie van God se liefde vir mense. Aangeraak deur dié liefde, kan dit nie anders nie: daar begin in ons ‘n nuwe bewuswording van onsself, die ander, die natuur en ook van die konteks waarin ons leef, groei.
Met behulp van die verhale van die Bybel, kontemplatiewe musiek en gebede, geestelike oefeninge en veral stilte wil ons hierdie weg opnuut verken. Soos iemand aangrypend skryf: “Stilte is die eerste taal van God. Dit is ook die groeipunt van liefde”

Inhoud:
In die verskillende sessies van die kursus word die verskillende vlakke van bewussyn waarop ons lewe beweeg en wat ons spiritualiteit uitmaak, verken en verdiep. Hierdie vlakke is:

Eerste sessie – Bewus van myself
Tweede sessie – Bewus van die ander
Derde sessie – Bewus van God
Vierde sessie – Bewus van die natuur
Vyfde sessie – Bewus van ons konteks

Wat die kursus opwindend maak, is dat dit ‘n kombinasie is van vars teologiese perspektiewe en praktiese oefeninge – oefeninge wat hierdie waarhede of perspektiewe ook na ‘n nuwe ervaringsvlak neem. Vir dié doel word ‘n werkboek voorsien met ‘n verskeidenheid van meditasies, gebede, aanhalings en oefeninge wat ons kan help om dieper, maar terselfdertyd meer lewenseg te gaan leef.

Uitkomste
Na die kursus behoort die deelnemers die volgende te ervaar:

  • ‘n Gevoel van dieper gemeenskap met mekaar binne ‘n retreat-opset – Dit is noodsaaklik dat deelnemers sal oorbly vir die regte ervaring van die retreat.
  • ‘n Dieper gewaarwording en ervaring van God se onvoorwaardelike liefde en deernis vir hulle en vir alle mense.
  • ‘n Skerper oog vir die gawe wat ons vir die vreemdeling kan wees.
  • ‘n Nuwe waardering en verantwoordelikheid vir die rykdom van ons omgewing.
  • ‘n Waarde van ‘n werkboek met ‘n verskeidenheid van oefeninge, meditasies en gebede wat hulle kan help om meer ontspanne, voluit  en eg te leef.
  • Stilte as ‘n onmisbare gawe en nie as ‘n bedreiging.
  • ‘n Verskerpte sin vir die waarde van die estetika in God se bemoeienis met ons.
  • ‘n Vars omgang met die verhale van die Bybel.