{ARGIEF}

13de Adventverhaal van Hoop – 12 Desember 2008

Ons sit in ‘n restaurant en praat oor hoe gemeentes kan saamwerk om uitdagings aan te spreek in ‘n snel ontwikkelende deel van die groeiende stad. Ons praat al byna ‘n jaar. Sommige is ongeduldig, ander rem en sê die kerkrade moet ons voorstelle eers punt vir punt goedkeur.  Daar kom ‘n lamte oor my, hier kom ons nooit uit nie.

‘n Baie wyse gemeenteleier wat ek oor jare leer ken het as iemand wat kan onderskei, stop die gesprek en sê: “Ek het geleer as ons nie by Christus begin en eers praat oor hoe ons Hom moet navolg nie, gaan ons nooit begin nie.”

Vir ‘n oomblik is dit doodstil, soos wanneer die waarheid helder gesê is en die onsin vir die vorige halfuur ontbloot is, en toe begin ons planne maak, vinnig helder op die punt af en doenbaar. Ons gaan almal met hoop en energie huis toe – al is dit die einde van die jaar.

Toe ek wegry en terugdink oor die gesprek, ontdek ek dit, die draaipunt in die gesprek het gekom toe ons op Christus begin fokus het. Kan dit so eenvoudig wees?