{ARGIEF}

4de Adventverhaal van Hoop – 3 Desember 2008

Marelise Bekker is Queenstown-gemeente se dinamiese jeugwerker. Sy is ‘n ervaringsleer-kundige en lei ook gemeentelike leiers op om die beginsels en praktyk van hierdie benadering toe te pas.

“Ervaringsleer is ‘n praktiese metode om mense deur kreatiewe spel en avontuurlike aktiwiteite te help om waarderend na hulself, na ander en na die lewe te kyk”, vertel Marelise. Daar is soveel negatiwiteit en gebrokenheid in die wêreld. Mense is negatief, en kyk so negatief na hulself en die wêreld rondom hulle, dat hulle al hoe swaarder dra aan hul eie gebrokenheid en die swartgallige laste van die lewe. In so ‘n donker put, word enige ding wat na mense se kant toe kom, dikwels die antwoord. Dit kan misdaad, seks, dwelms, geweld – letterlik enige ding wees. So sit die bose sirkel van gebrokenheid homself voort en stort mense se self- en wêreldbeeld net verder in duie.

Ervaring is ‘n kragtige manier om opnuut na God, na jouself en na ander te leer luister en die goeie dinge van die lewe te ontdek, sê Marelise. Die Bybel is die raamwerk waarbinne haar ervaringsleer-program toegepas word.  Die Skrif en God se bedoelinge vir ons word op die ervaringsleer van toepassing gemaak, met groot impak.

Marelise en haar medewerkers in die gemeente is intensief by ‘n nywerheidskool op die dorp betrokke. Sy vertel op aangrypende wyse hoe die verhaal van Jesus se dood vir ons vir hierdie jongmense ontsluit geraak het. Sy het dikwels ervaring dat die jongmense nie regtig met Jesus kon identifiseer nie. Miskien was Hy binne hulle raamwerk te goed om waar te wees. Totdat ‘n jong seun op ‘n dag die sleutel gee: met Jesus aan die kruis kan ek moeilik identifiseer, het hy op sy manier gesê, maar met die moordenaars aan die kruis baie maklik. Ek en my lewe is soos hulle, het hy gesê. “Maar ek kan doen wat daardie een moordenaar gedoen het, ek kan na Jesus draai.” Daarna het sy haar in vertellings toegespits op die moordenaar – en is talle jong lewens daardeur aangeraak.

Ervaringsleer is terapie. Marelise vertel die verhaal van ‘n 13-jarige sussie en haar 15-jarige boetie. Hulle kom uit ‘n baie onstabiele huis. Albei is verkrag. Albei worstel met nagmerries, met verhoudings by die huis en by die skool. Deur intensiewe ervaringsleer-terapie lig beide hul koppies omhoog en kan hulle nou die wêreld in die oë kyk met ‘n nuwe belewing van eiewaarde – omdat hulle so baie vir God werd is.