{ARGIEF}

19de Adventverhaal van Hoop – 18 Desember 2008 
Ester is op die ouderdom van 14 gedwing om te trou en het later weggeloop van die man wat sy nie liefhet nie. Ook sy sou later na ‘n lang siekbed ontdek dat sy MIV-positief is.  Gertrude is MIV-positief en het vier kinders aan die dood afgestaan, voordat sy verstaan het wat aangaan. 

Dit is twee verhale van die vroue van Afrika wat hoop draers is in die moeilikste omstandighede denkbaar.  In ‘n samelewing waarin hulle byna geen regte het nie, en dikwels gedwing word in ‘n huwelik teen hulle wil, of in ‘n samelewing waar gedwonge seks aanvaarbaar is, kan  ’n mense hulle nie anders beskryf as kwesbare mense nie. Dit is juis vanuit hierdie kwesbaarheid dat hulle publieke getuienis so kragtig is. Is dit wat in Lukas 10 bedoel word met “lammers tussen wolwe in”?

Hierdie vroue  verbeeld hierdie kwesbare gestuurheid.  Dit is die teenpool van waar die kerk vanuit ‘n (geinstitusionaliseerde) magsposisie mense oortuig (lees dwing) tot deelname.  Christen vroue in Afrika wat in die slums van die stede woon en MIV-positief is, is in alle opsigte kwesbaar. Ons word gestuur as lammers nie as leeus nie.

Toe Gertrude haar huis vir ons wys, sê sy, sy sal verstaan as ons nie wil ingaan nie, want hulle is maar arm mense, maar as ons wil is ons baie welkom om in te kom. Ons gaan een-een in want die huis is een klein kamertjie.