{ARGIEF}

15de Adventverhaal van Hoop – 14 Desember 2008
Calitzdorp is ‘n dorp waar daar ‘n groot behoefte aan ontwikkeling is. Sedert ’94 het die hulp van regeringskant ons dorp verby gegaan. Beloftes is gemaak, maar daar het dadels van gekom. Afgevaardigdes  van die kerkrade van die plaaslike NG Kerk en VG Kerk het ‘n dinkskrum gehou en  woningnood as prioriteit geïdentifiseer.  R50 000 is deur GO bewillig en ‘n verdere R30 000 is deur ‘n plaaslike donateur geskenk.    ‘n Komitee bestaande uit lede van die 2 kerke het daarop 7 huise gekies waar die woningnood die grootste is en is besluit om vir  elkeen ‘n ruim ekstra vertrek aan te bou.

Na gesprekke met die huiseienaars is besluit dat elke Saterdagoggend gebou sal word en dat al 7 huiseienaars telkens ‘n werker beskikbaar moet stel.  Die werkspan bestaan verder uit vrywillige lidmate van die 2 kerke en wissel tussen 10 en 25 persone elke Saterdag.  Die werk vorder stadig, want daar is heelwat meer handlangers as opgeleide bouers en vorder die werk stadig.  Na die eerste 14 Saterdae is al 7 kamers se fondamente voltooi en vloere gegooi en is 3 kamers reeds dakhoogte gebou.  Ons hoop om voor Kersfees die 3 kamers van dakke te voorsien en dan in die nuwe jaar die ander 4 te voltooi.

Groter nog as die voordeel van 7 ekstra kamers om woningnood te verlig, is die boodskap wat in die woonbuurt uitgedra word deur die saamsweet van die lidmate van die 2 kerke en die nuwe vriendskappe wat gesluit word. Hoewel daar groeipyne is, wil ons graag glo dat hierdie projek ‘n uitlewing is van die uitdaging wat Dr. Nelis Niemand aan die sinode gerig het, nl. dat die kerk betrokke moet wees by die nood in die wêreld rondom ons.