{ARGIEF}

8ste Adventverhaal van Hoop – 7 Desember 2008

By ons gemeente was die koster altyd soos ‘n deurwag wat gesorg het dat vreemdelinge nie maar net hier inkom en maak wat hulle wil nie.  Dit het sonder dat ons geweet het ons gestrem om ‘n gestuurde en gasvrye gemeente te wees.

Vir byna vier jaar het ons as gemeente ter vergeefs probeer om ‘n brug te bou na die swart gemeenskap in Doornpoort.  Talle belowende gesprekke het ongelukkig telkens na niks konkreet gelei nie. 

Twee maande terug bel my een kollega my egter opgewonde om te hoor of ek iets weet van die Engelse diens wat Sondag in ons kerk sou plaasvind.  Die diens was vir my, soos vir hom, nuus gewees.  Tog was die goeie nuus waar gewees – daar was wel so ‘n diens vir byna 100 Swart mense in ons saal! 

 

Hoe het dit gebeur?  Soos met die eerste Advent het die Here dit deur twee vroue tot stand laat kom.  Die eerste is ‘n merkwaardige swart vrou wat in haar motorhuis begin het om dienste vir jongmense te hou, en reggekry het wat niemand gedink het moontlik is nie – sy maak meer as 100 jongmense bymekaar wat gereeld na ander uitreik met die Evangelie.  Die tweede is ons koster, wat toe past. Maureen by die kerk instap om te hoor of sy dalk ‘n lokaal kon huur, haar onmiddellik verwelkom het. 

 

Verwelkom het omdat sy geglo het dat wat ons vanuit ons gestuurdheid bely, waar is – naamlik dat ons nie ‘n gemeente is wat ter wille van onsself bestaan nie.  Ons wil immers eerder die kerk weggee aan ander.  Só reël hulle toe die Engelstalige erediens wat niemand ooit gedink het ‘n werklikheid sou word nie. 

 

As kosters nie meer hekwagters is nie, en kerkrade, pastore en predikante deur die Gees kan waag om mekaar te vertrou dan word die onmoontlike moontlik en word iets van God se Adventsvrede in ons midde sigbaar.