{ARGIEF}

16de Adventverhaal van Hoop – 15 Desember 2008
Nicolene is die kinderleidster van die gemeente se uitreikgroep na ‘n woonbuurt naby ons stad.  Ongeveer ‘n maand gelede neem sy drie vrouens van ‘n ander gemeente om te gaan kyk na die werk wat sy doen.  Om een of ander rede (soos sy op daardie stadium gedink het) nooi sy nie die drie vrouens om saam met haar te ry nie en hulle ry gevolglik agter haar aan na die plek waar sy werk (ongeveer 10 km van die gemeente af).

Nicolene beland in ‘n motorongeluk in die nywerheidsgebied waar vroue selde ry vanweë die misdaad in die area en doen ernstige harsingskudding op.  Die laaste ding wat sy onthou, is die swerm voëls wat op die pad gesit en saad vreet het wat waarskynlik van ‘n vragmotor afgeval het.

Nicolene worstel met vrae, soos: hoekom laat God dit met my gebeur terwyl ek op pad was om Sy werk te gaan doen?  Hoekom kan ek nie die gebeure onthou nie?  Dit voel asof ek vir ‘n paar ure in my lewe nie beheer gehad het nie – hoekom? Dit is  regtig vir my ‘n laagtepunt in my lewe en ek verstaan nie God se plan hiermee nie.

‘n Week later vertel sy  My laagtepunt het my hoogtepunt geword. Ek vra haar om te vertel.  Sy vertel hoedat sy ontdek het dat die drie vreemde vroue (waarvan sy die name nou nog nie eers ken nie) soos engele was by die ongelukstoneel in die vreemde.  Sy ontdek hoedat die beeld van die voëls wat deur die Here versorg word deur kos in die straat te kry, haar herinner aan die bergpredikasie waar Jesus ons verseker van sy versorging.  Sy vertel hoedat haar verlies van beheer eintlik ‘n ontdekking word hoedat God in beheer is al het ek geen beheer nie.  Sy vertel hoedat sy vir die arm kinders opnuut kan vertel hoedat God regtig op onverklaarbare maniere sorg en in beheer is.