{ARGIEF}

24ste Adventverhaal van Hoop – 22 Desember 2008
Ons was nie voorbereid op die intensiteit van die konflik in die gemeente nie; eintlik was niemand nie, maar toe ons begin om te praat het die sweer oopgebars. Later is van die leiers gevra om uit te gaan, sodat daar nog eerliker en openliker gepraat kon word. Daar was ‘n angstigheid om net weer gemeenskap van die gelowiges te ervaar, maar vir  meer as drie ure was dit die verdeeldheid wat na vore gekom het. Die situasie het aan desperaatheid gegrens.

Aan die einde van die gesprek vra ek, wat sal ons eerste stappe wees vorentoe. Die reaksie het my laat besef watter kwaliteit mense hierdie is. Ons gaan ons eie skuld hieraan bely voor die Here en aan die leiers met wie ons so in konflik is, erkenning gee vir wie hulle is, en wat hulle ook vir die gemeente beteken. Ons het dit terstond gedoen, net daar en dan.

Die konflik is nie opgelos nie, nog lank nie, maar hoop het vir ‘n oomblik deurgebreek toe een na die ander gemeentelede opstaan en hulle voor die Here verootmoedig en aan mekaar erkenning en respek betoon.

Vir ‘n oomblik was dit vrede op aarde.