{ARGIEF}

18de Adventverhaal van Hoop – 17 Desember 2008
 “Ook in ons gemeenskap”, vertel Lizeth Taljaardt, predikantsvrou van Colesberg, “was die probleem dat ons gemeenskappe so ver verwyderd van mekaar is. Mense uit die verskillende gemeenskappe vrees mekaar, haat mekaar, het vooropgestelde idees oor mekaar, skeer mekaar oor dieselfde kam.”

Oor die afgelope paar jaar het Mercy Ministries, ‘n bediening wat groepe bymekaar bring, gereeld op Colesberg in verskillende gemeentes byeenkomste gehou. “Die verandering by mense wat dit bygewoon het, was merkwaardig”, gaan Lizeth voort. “Waar daar openhartige gesprek in ‘n veilige omgewing gevoer word, word brûe gebou. Persepsies wat verdeel, en vrees inboesem, word afgebreek.” Aangesien die NG Kerkfamilie in ‘n herenigingsproses betrokke is, en ons op ons dorp eerste, bemoedigende tekens van versoening het, het al die kerkrade vanjaar besluit om Pinkster ‘n tyd van versoening te maak. Weer Lizeth: “As ek daarop terugkyk, besef ek hoe belangrik die voorbereidende pad is wat ons gemeenskap oor die afgelope jare gekom het. En dan moet mens nie die rol van gebed – waarvan daar baie was, gesamentlik oor grense heen – onderskat nie”.

Die program oor die afgelope Pinkstertyd het ‘n versoeningsproses tussen die Xhosasprekende gemeentes van die VGK en die NGKA ingesluit. “Die gemeentes het weer God se Vaderhart ontdek, kommunikasiekanale is herstel, harte is teenoor mekaar uitgepraat oor dinge wat spanning en verwonding veroorsaak het”.

Hierna is twee Pinksterreekse met dieselfde tema in die VGK en NGK gehou, en afgesluit met ‘n gesamentlike nagmaal in die NG Kerkgebou. Volgens ds Ben Kock van die VGK was dit die eerste keer in 151 jaar dat die twee gemeentes in dieselfde kerk gesamentlik nagmaal gevier het. Die boodskap het oor vergifnis gegaan. Na die preek is geleentheid tot belydenis en vergifnis tussen die kerk gebied. Die voorganger, ds Els, het namens die blankes en die NGK om verskoning gevra vir die manier waarop die VGK-gemeente en ook mense van kleur behandel is. Hierdie deurbraak is opgevolg met nog ‘n groot oomblik toe die hoof van die verkeersdepartement, mnr Malgas, spontaan opgestaan het en die blankes en die NGK namens mense van kleur vergewe het, en ook om vergifnis gevra het omdat hulle die blankes so gehaat het. Trane van bevryding het vrylik gevloei.

Ds Japie Taljaardt van die NG Kerk het die nagmaal bedien, waarna ds Kock van die VGK die gemeente voorgegaan het in gebede vir Suid-Afrika, Afrika en die wêreld.Die erediens is met ‘n hoogtepunt afgesluit toe die gemeente spontaan hulle hande na bo gehef het met die sing van die Oorwinningslied.

Hoe sien die gemeentelike leiers die gebeure? Lizeth beklemtoon dat daar vooraf eenstemmigheid oor die plan was by al die kerkrade. Daar was ‘n voorbereidingsproses. Daar was volgehoue gebede. Daarom is daar ook net positiewe terugvoer ontvang, wat die leierskappe bemoedig. Derhalwe word die gebeure as die begin van ‘n proses gesien, eerder as die afronding van ‘n taak. 
“Ons weet dit is die begin van ‘n nuwe proses van die bou van verhoudinge tussen Christene in ons gemeenskap”.

Foto’s op Flickr – Oos-Kaapland

 

 {loadposition dummy}