{ARGIEF}

7de Adventverhaal van Hoop – 6 Desember 2008

Kerkraadslede van Murray (NGK De Doorns), Omdraaistraat, Sandhills en VGK De Doorns, het die afgelope naweek saam gekom vir ʼn versoeningskamp . Niemand het mooi geweet wat om te verwag nie. Ons het almal maar so wonder-wonder by Kranskloof aangekom. Mercy Ministries, het ons van Vrydagaand tot Sondagmiddag deur ʼn ervaring van Skrifontdekking, selfontdekking en mekaar-ontdekking geneem.

Aangrypend was die oomblik toe ons die seer en pyn van die verlede op ʼn briefie kon skryf en aan ʼn houtkruis vasspyker. Buite het ons dit verbrand as teken van volkome vergifnis. Vir baie was dit ʼn ervaring wat bevryding gebring het van lang opgekropte en onverwerkte pyn uit die verlede.

Sondag sal niemand van ons ooit vergeet nie. Een na die ander het mense opgestaan en verskoning gemaak en vergifnis gevra vir onreg uit die verlede en dinge wat seer gemaak het. Dis aandoenlik as een die ander se voete was en hy hoor deur snikke deur: “Ek vergewe jou.”

Die wat nie daar was nie mag dalk dink: “Wat se sentimentele ‘nonsens’ is dit!” Die wat  die versoeningsproses deurleef het, weet dit was nie ‘nonsens’  nie. Dit was eg. Dis ʼn geleentheid wat God ons gegee het om ʼn fondament te lê waarop gesinne, ons kerke en die Vallei hoop vir die toekoms kan bou.

Versoening is ʼn proses. Ons het met die proses begin. Ons het nuwe geloofsenergie en nuwe hoop gekry.

Chris Erasmus