{ARGIEF}

1ste Adventverhaal van Hoop – 30 November 2008

Stellenbosch NG Moedergemeente en Stellenbosch VG gemeente het in die tweede helfte van die jaar op besondere wyse ‘n pad van Agape liefde geloop. Dit het begin deur ‘n versoek van die VG-gemeente om ‘n byeenkoms te reël waar ten minste 100 van elk van die NG en VG bymekaarkom om met mekaar te deel en sodoende  mekaar beter te leer ken.  Hierdie behoefte het ontstaan omdat ‘n klein groepie leiers mekaar oor ‘n tyd beter leer ken het, en graag ander leiers in die gemeentes die geleentheid wou gee om mekaar ook beter te leer ken. Ons is ook gelukkig dat ons gemeentes in ‘n Gesamentlike Ring is.

So is ‘n byeenkoms in Cloetesville by die VG gemeente gereël en dit was ‘n rasende sukses. Die byeenkoms is volledig deur die lidmaatleiers van die twee gemeentes gereël, die learaars het wel meegedoen maar hoef geen leiersfunksie te vervul nie. Dit was in besonder ‘n “eerste” ervaring vir baie NG en VG lidmate. Vir baie was dit ‘n verkenningsgesprek en verassend om “gewone” mense te vind wat al die jare saam bly in een dorp. Ons was almal verras met die energie wat ontstaan het uit die ontmoeting met mekaar.

‘n Volgende soortgelyke byeenkoms is later gehou by die NG gemeente se saal. Ons het toe besef die geleenthede moet nou ‘n beweging word. Hieruit is ‘n Agape beweging gevorm wat die volgende behels:

  • Tweeweeklikse gebedsbyeenkomste aan huis van siek mense in beide gemeentes
  • Bywoning van mekaar se nagmaalbyeenkomste
  • Bywoning van mekaar se kerssangdienste
  • Bywoning van ‘n gemeente ete na nagmaal met kooroptrede
  • NG ondersteuning van ‘n gestremde kleinkind van een van die VG lidmate
  • Gebedsbesoek in die hospital van NG lidmaat deur VG lidmate
  • Kersdeelbyeenkoms in Adventtyd

Die ophou van kerklike gesprekke tussen die VG en NG gemeentes het ekstra stimulus gelewer, amper asof lidmate wou sê: Eenheid begin op voetsoolvlak ook.

Beginsels wat deurentyd gestel was is: Moet niks ryp druk nie; wees natuurlik wees jouself; gebruik die energie waar dit na vore kom; wees oop teenoor mekaar met geen agendas nie; ons aksies moet vloei uit ‘n opregte begeerte wees om mekaar beter te leer ken en lief te hê.