{ARGIEF}

14de Adventverhaal van Hoop – 13 Desember 2008

Ons was ‘n groep van wit en bruin gemeenteleiers in intense gesprekke vir ‘n derde dag. Soos wat die gesprekke aangaan, ontstaan daar ‘n veilige ruimte waar mense eerlik raak met mekaar oor gevoelens wat ons verborge hou vir mekaar. Ons probeer in mekaar se leefwêrelde inbeweeg deur gefokus na mekaar te luister. Ons doen ‘n rollespel, ‘n bruin leraar leef hom in die wereld en gevoelens van ‘n blanke leraar in en ook anders-om. Hulle beskryf mekaar se emosies met deernis, begrip en veral waardering.

In die gesprek daarna sê die blanke leraar: “Ek is meer as 30 jaar in die bediening.  Dit is die eerste keer dat ‘n swart persoon ‘n waarderende opmerking oor my maak.”

Hy kan nie verder nie – daar loop net stil trane langs sy wange, maar in sy oe is daar ‘n onmiskenbare vlam van hoop, soos iemand wat deur ‘n transformasie is en met onverwagse hoop anderkant uit gekom het.