{ARGIEF}

* Die Leesrooster vir Lidmate sluit by die NG Kerk se seisoen van luister aan. Dis ’n poging om lidmate te help om ’n metode van luisterende lees te ontwikkel.
* Die redaksie het lesers se terugvoer gebruik om die boek betekenisvol vir persoonlike en groepsgebruik te maak. Ons probeer doelbewus om ’n daaglikse leeshulp te ontwikkel wat ’n verdieping kan teweegbring in die omgang met God en sy Woord. Die onderskeie weke is aan 12 verskillende medewerkers toegeken, wat elkeen sy/haar eie styl het. Dit kan vir sommige mense steurend wees, maar ons glo dit bied afwisseling en vier die diversiteit in die kerk van Christus. Geniet dus elke medewerker se styl en poging om jou te bedien.
* Die Riglyne vir Kategese is weer deel van die Leesrooster vir Lidmate. Ons het wel by Sondag ’n aanpassing gemaak teenoor die vorige jaar. Op Sondae val die klem op stilword en fokus op God. Die riglyn vir kleingroepe of kategese word verskuif na die einde van die week se daaglikse riglyne. Ons dink die aanbieding is dan minder direktief. Mense wat nie vir groepe of kategese voorberei nie kan slegs die daaglikse riglyne gebruik. Bylaag 3 (Die Bybel in die kategese) en Bylaag 4 (Gereformeerde Belydenisskrifte) agter in die boek, kan met vrug in beide klein- en kategese groepe gebruik word.
* Die metode van luisterende lees is ’n belangrike benadering tot Bybellees. Beide groepe en individue kan dit gebruik. Die luistersiklus kan in elke situasie gebruik word, en volgens die situasie aangepas word.
* Die luistersiklus se metode van luisterende lees bied ’n model waarvolgens gelowiges verantwoordelik en gekonsentreerd met die Bybelteks besig is. Hopelik kweek dit ’n vaardigheid wat lesers help om langer met die Bybelteks self te werk en meer vrae te vra oor dieselfde teks.
* Die luistersiklus behandel elke week ’n ander teks. Dit fokus elke dag vanuit ’n ander hoek daarop. Dit ontwikkel die besef dat verskillende perspektiewe op die teks verskillende vrae ontlok, om uiteindelik verskillende insigte en antwoorde te bied. Bylaag 1 agter in die boek bevat ’n artikel oor die vraag hoe ons die Bybel kan lees sodat ons dit beter kan verstaan. Bylaag 3 is ’n artikel oor die Bybel se gebruik in kategese.
* Volgens ons terugvoer wil lesers meer tekste hanteer. Ons het dus plek-plek in die leeshulpe aangedui dat lesers ook die ander RCL-tekste (wat boaan ’n week se riglyne verskyn) kan lees. Ons moedig lesers aan om die ander tekste self te lees, al fokus die leeshulp op ’n spesifieke teks. Gebruik die RCL-tekste vir gebed en stilword aan die begin van ’n sessie, of Dinsdae vir die luister na mekaar as bykomende perspektief uit die Woord. Soms word dit so in die leeshulp aangedui.
* Stilword by en fokus op God is ’n belangrike deel van elke dag se oefening. Soms word die leser gehelp om hom/haar voor te berei op God se teenwoordigheid. Waar daar nie ’n riglyn is nie, kan lesers hul eie praktyke gebruik of ontwikkel. Ons maak maar net voorstelle. Wees gerus kreatief in hoe jy die oefening aanpak.