{ARGIEF}

Behoort, Beleef en Bely

(Atrikel is onlangs in Beeld gepubliseer)

Ek het grootgeword in ‘n kerk waar die skema oor lidmaatskap werk met drie B’s: Bely, Beleef en Behoort.

Jou geloofsreis begin met Bely.

’n Mens moet die waarhede van die Bybel in stellings of belydenisse kan omsit en dan verstandelik saamstem met die spesifieke manier van bely.  So het Martin Luther se nuwe geloofsreis met 95 stellings op die kerkdeur van Wittenberg weggespring.  Baie lidmate onthou nog hulle “aanneming”, waar hulle voor die hele gemeente belydenis van hulle geloof afgelê het.   Mens verstaan dus hoekom belydenisse vir baie kerke belangrik is.  Ek dink dit is ook hoekom die NG Kerk en die VG Kerk se eenheidsproses vasval oor die kwessie van die Belydenis van Belhar.  Dit is hoekom daar so baie kerke gegroei het uit die protestantse Reformasie.  As ’n kerk die spesifieke manier hoe geloof in stellings geformuleer word kosbaar ag, moet mens verwag dat daar baie verskillende stellings oor geloof gemaak kan word.   En dat daar baie kerke hieruit sal groei.

Die volgende belangrike saak op die geloofsreis is dat lidmate wat hulle geloof bely, hulle geloof sal Beleef.

Die boodskap van kerke is iets soos: “Noudat jy glo soos ons glo, sal ons jou leer om te leef soos ons leef.”  Die fokus is om mense te kry om volgens die verwagtings van ’n spesifieke kerk te leef.  Dit is meestal sulke swart-wit reëls wat duidelik praat oor die verwagtings wat kerkmense met mekaar deel.

Wanneer die bely en beleef in plek is, kom die Behoort agterna.

Noudat jy glo soos ons glo en doen soos ons doen, kan jy lid word en behoort aan ons kerk.   Nou sal ons moeite doen om ook ’n positiewe ervaring te skep van ons kerkwees… met sterk klem op lojaliteit.

Hierdie skema van bely en beleef en behoort is netjies voorspelbaar en het vir lank goed gewerk.  Natuurlik kan mens dit nie heeltemal presies uit die Bybel aflees nie en is daar nie bewyse dat dit in die oorspronklike grondwet van die kerk ingeskryf is nie.

Maar is dit regtig die beste manier van werk?

My indruk is dat daar al meer en meer mense is wat ontuis voel in hierdie skema.    In ’n gesprek met Ron Martoia in Wittenberg het hy my help insien dat die kerk sukkel  om hierdie skema “verkoop” te kry aan hedendaagse mense wat op een of ander manier nie lede van ’n kerk is nie, maar wat tog baie in Jesus van Nasaret of in  geloof belangstel.   Juis die soort mense na wie die einste Jesus van Nasaret sy volgelinge uitgestuur het.

Al meer en meer mense stel heel eerste belang in behoort.

Mense wil aanvaar word net soos hulle is.  Hulle stel belang in wat die kerk die “gemeenskap” van gelowiges noem.  Mense stel belang om die liefde van Jesus van Nasaret in aksie te sien.  Baie predikante en pastore vertel my hulle sien hierdie tendens raak – mense kom na hulle kerke toe en kyk dinge eers uit.  Hulle wil eers sien of hulle aanvaar word.  Hulle grootste behoefte is gemeenskap.  Jesus sou nie te ongemaklik gewees het met hulle benadering nie!  Het het beslis nie bely – en beleef- voorvereistes gestel of ’n klomp stellings wat eers verstaan moes word voorgehou nie.

Ons leef doodgewoon in tye waar mense nie meer die lus of stamina het om die lang bely, beleef en behoort pad te loop nie.  Hulle kla dat hulle met hope inligting oor bely en beleef oorval word – en dat alles bitter min te doen het met die eise van die alledaagse lewe.  Hedendaagse mense stel meer in geestelike vorming as inligting belang.

Vandag se mense wil tuiskom en behoort.

Hulle is op soek na innige verhoudings en ware gemeenskap.  Wanneer hulle dit ontdek, is hulle nogal baie gemaklik om nuut te leer leef saam met daardie gemeenskap.  Hulle hoor ander se stories in egte verhoudings en ontdek dat hulle maar net sulke doodgewone, gebroke mense vol foute is.  Maar hulle ontdek ook dat daar iets anders in die ander se stories is – almal het iets te vertel oor God wat hulle stories begin herskryf het.  Daar is ’n soomlose oorgang van behoort na beleef.

Op hierdie soort geloofsreis breek die punt aan waar mense vrae begin vra oor geloof en God en die sin van alles.  Dan word bely ’n manier waarop hulle hulle reis verstaan en die verandering wat Jesus gebring het, verwoord.  Dit klink vir my na ’n reis van egte geloofsvorming.  
Die uitdaging wat aan ons gestel word, is om die volgorde te verander en te werk met ’n reis van behoort en beleef en bely.  Wanneer ons veilige ruimtes waar mense werklik kan “behoort” skep, is ’n lewe wat meer en meer in die voetspore van Jesus is en ’n vars belydenis van geloof, nie ver agter nie.