{ARGIEF}

Brown - Christianity and Western ThoughtBrown,
C.  Christianity and Western Thought: A
History of Philosophers, Ideas & Movements, Vol 1. IVP. 2000.

Wilkins,
S and Padgett, A.G. Christianity and Western Thought: A History of
Philosophers, Ideas & Movements, Vol 2. IVP. 2000.

Die bedoeling van hierdie tweebandreeks is
om die eeuelange gesprek tussen die Christendom en Westerse filosofiese
bewegings na te spoor.  Almal met `n
bietjie kennis van die teologie weet dat hierdie gesprek `n wesenlike rol
gespeel het nie in die Christelike teologie nie maar ook inbepaalde keuse wat
die kerk gemaak en rigtings wat deur die kerk ingeslaan is. 

 

Terwyl daar `n oorvloed van boeke is wat
vir  ons die twee verhale van Christelike
denke aan die eenkant en filosofiese strominge aan die anderkant vertel, is
daar nie so veel publikasies wat die verhaal van die interaksie tussen die twee
strominge vertel nie.  Die redakteurs het
ons `n groot guns gedoen met die publikasie. 

 

Die eerste volume is geskryf deur die
bekende Colin Brown wat vir baie jare Sistematiese Teologie by Fuller gegee
het.  Hy begin die verhaal by die
filosowe van die antieke wêreld (Sokrates, Plato, Aristoteles ea) en eindig sy
deel by Kant.  Na die deel oor die
antieke filosowe handel die tweede deel oor die Kerkvaders en die Middeleeuse
Skolastiek (met goeie aandag aan Augustinus, Boetius en Aquinas) en die derde
deel oor die Reformasie en Verligting. 
Hier kry al die groot name aandag: Descartes, Spinoza, Liebnitz, Hobbes,
Pascal, Locke, Berkeley, Hume, Reid, Voltaire, Rousseau, Lessing en Kant. 

 

Die tweede volume, geskryf deur Wilkens en
Padgett, fokus op die negentiende eeuse geloof en rede gesprek.  Hy begin met die Amerikaanse
Transendentaliste soos Emerson, kyk dan na die Romantiek, die Idealiste.  Hulle gee heelwat aandag aan die reaksie op
Hegel – deur teoloe soos Strauss, Baur ea en ook Marx.  Daarna kom die Positiwisme (Comte ea), die
Amerikaanse Pragmatisme.  Hulle gee ook
aandag aan die deurwerking van hierdie gedagtes in die teologie van sekere
konfessionaliste en die liberale teologie. 
Aan die einde kom hulle ook by Darwin
en ontwikkeling in die sosiale wetenskappe uit.

 

`n Mens sal seker meer betroubare en
vollediger behandelings van bg filofowe se denke kry, maar die wins van die
twee volumes is dat daar sterk gefokus word op die verhouding van die denkers
se idees met die kerk, godsdiens en die Christelike geloof spesifiek.