{ARGIEF}

OPSOMMING VAN `N PRAATJIE DEUR PROF HENTIE BOSHOFF, KENNER OP DIE GEBIED VAN TOEKOMSSTUDIES

Die titel van die praatjie was: “Christen-gemeente-kerkwees in `n tyd van verandering en diversiteit.”

Boshoff sê verandering, onsekerheid, kompleksiteit en diversiteit kenmerk ons leefwêreld.  Hy wys dan ook op veranderinge in die samelewing wat hierdie toedrag van sake nog verder versterk.  Sommige van hierdie strukturele samelewings-veranderinge is:

  • dat ons wêreld `n wêreld sonder grense geword het (“global village”);
  • dat daar `n groeiende moraliteits- en normekrisis is (terwyl die kerk sy hekwagterrol verloor);
  • dat daar ook op die gebied van godsdiens vandag groot diversiteit en vermenging is (vgl. postmodernisme se bevraagtekening van die absolute waarhede van die Christelike geloof en die uniekheid van Christus)(Boshoff wys ook op die hedendaagse neiging tot `n godsdiens met `n selfgerigte styl en inhoud);
  • dat daar groot demografiese veranderinge plaasvind (vgl. ontvolking van platteland en verstedeliking – veral swart verstedeliking en swart dominasie in getalle en politiek);
  • dat ons `n tyd van politieke herstrukturering beleef  (en volgens Boshoff bring dít druk op die kerk mee om konkreet by sosiale transformasie en bemagtiging betrokke te wees via versoening, sosiale geregtigheid en maatskaplike opheffing);
  • dat ekonomiese herprioritisering aan die gang is (en hier is die uitdaging vir die kerk, volgens Boshoff, om armoede te bekamp en met werkskepping te help via selfhelp/entrepeneurskap en institusionele hulp).

Volgens Boshoff is die kernprobleem vir die kerk in so `n leefwêreld: Hoe gaan die kerk reformeer om in die nuwe konteks van verandering en diversiteit steeds lidmaatrelevant, tydgerig en dus sout en lig vir die samelewing te wees (veranderlik) maar steeds die sentraliteit van die Woord vanuit die gereformeerde raamwerk te behou en te versterk (onveranderlik)?

Boshoff se navorsing wys baie belangrike diversiteit ten opsigte van waardes in ons samelewing uit (As bron gebruik hy die resultate van die 1999 Sociomonitor opname van AC Nielsen MRA).  Die uitgangspunt is dat mense nie net objektief/feitelik na `n produk kyk nie maar dit deur die filter/bril van hulle waardesisteme en persepsies waarneem.  Dit geld ook vir hulle waarneming van samelewingsveranderinge en hulle godsdiensreaksie daarop.  Die Sociomonitor opnames dek 99% van die volwasse bevolking van Suid-Afrika oor kleurgrense heen en die basis van die stelsel wat Boshoff gebruik, is `n polêre waarderaamwerk (vgl. ook die tabel wat aan die einde van die opsomming aangeheg is: “Value map total SA population 1999”):

    “external, roots”

“risk, novelty,
individuality”   
      “caution, group,
      community” 
 
 

    “internals, future”
Die skets hierbo toon hoe mense se waardes kan verskil.  Sommige wil bv. meer waag en ander minder.  Sommige neig meer om vas te hou aan die waardes van `n groep en ander is weer meer individualisties, ens.

Op die “Value map” (sien aan die einde van die opsomming) word 5 groepe mense o.g.v. hulle waardes onderskei:
Yesteryears (24,3% van NG Kerk – 17% van breë bevolking) – vir hulle is geen verandering goed of aanvaarbaar nie.  Hulle oriënteer hulleself aan die verlede en klou daaraan vas.  Hulle voel bedreig.  Hierdie groep is hoofsaaklik middeljarig of ouer.  Hulle opleiding is oor die algemeen nie baie hoog nie. 
Todayers (15,6% van NG Kerk – 25% van breë bevolking) – hulle leef net vir vandag en leef dus “liberaal” t.o.v. waardes.  Hulle is swak opgelei en ervaar vrees.
Belongers (22,3% van NG Kerk – 21% van breë bevolking) – by hulle heers daar `n sterk groepsgevoel.  Hulle is `n stabiele groep mense en sterk plattelands.
Achievers (19,9% van NG Kerk – 18% van breë bevolking) – hulle soek uitdagings en groei.  Weerstand teen gesag (veral die “top-down” soort gesag) kom by hierdie groep voor.  Hulle het oor die algemeen universiteitsopleiding en woon in stede.  Is onder 30 jaar oud.
Enhancers (17,9% van NG Kerk – 19% van breë bevolking) – hulle is individualiste en vra: Wat is daarin vir my?  Hulle is goed opgelei en soek selfontwikkeling.  Hierdie groep is die “Yuppies.”  Hulle soek nuwe strukture in godsdiens.  Is onder 30 jaar oud.

Boshoff maak uit die navorsing die volgende gevolgtrekkings wat die kerk raak:

  • Groot diversiteit t.o.v. waardes bestaan in die breë Suid-Afrikaanse samelewing en spesifiek ook onder Afrikaanssprekendes en kerkmense.
    • Lidmate van kerke met `n meer gereformeerde leer en wat fokus op gemeente en samelewing groepeer meer na die “caution, group, community” pool op die waardekaart, terwyl die charismatiese kerke met fokus op individuele ervaring meer na die “risk, novelty, individuality” pool groepeer.  Laasgenoemde is veral ook kenmerkend van die nie-institusionele gelowiges (m.a.w. mense wat hulleself as gelowiges beskou maar buite `n kerkorganisasie wil bly staan).
    • By die gereformeerde kerklidmate is die konvensionele godsdiensbenadering en dus “roots” belangrik.  Die waarde “conventional religion” (een van die 43 waardes waarmee daar in die ondersoek gewerk is) is egter baie laag by die “Todayers.”
    • Die ondersoek wys die diversiteit binne dieselfde kerk ook uit.  `n Rigiede gemeentemodel kan dus tot weerstand lei; `n diversiteitsmodel kan weer tot “`n gemeente binne `n gemeente” lei.
    • Die hoë voorkoms van individualisme en selfontwikkeling (as waardes) by “Enhancers” en weerstand teen gesag by “Achievers” (albei belangrike groepe in die NG Kerk) is betekenisvol.  Die gesagsweerstand spruit veral uit ontgogeling met die gesagstrukture en -figure van die ou orde eerder as teen gesag as sodanig.  Lidmate soek toenemend na strukture waarmee hulle as individue kan identifiseer en waarbinne hulle as lidmate kan groei.
    • Onrusbarend is die hoë persentasie “Yesteryears” in die breë NG Kerk.  Dit is selfs hoër as by die Gereformeerde Kerk, maar veel laer as by die Hervormde Kerk.  By hierdie groep tref jy godsdiensfundamentalisme aan.  Die behoefte aan rasseharmonie by hierdie groep is swak.  Veral die blankes verwerp gesag en nasionale identiteit omdat daar tans `n swart regering is en hulle daarom nie juis met die nuwe orde identifiseer nie.
    • Verblydend is die belangrikheid wat `n groot deel van die NG en VGK lidmate op rasseharmonie, emosionele empatie met ander en nasionale identeit as waardes plaas.  Hulle het vrede gemaak met die nuwe orde en wil dit vir hulleself en hulle kinders maak werk.

Boshoff gee die volgende riglyne vir gereformeerde kerk wees in die nuwe orde:
1. Versterk die verbintenis aan God as “Ek is.”  Lidmate het `n onveranderlike geloofsbasis nodig.  Die korporatiewe identiteit van die kerk moet baie aandag ontvang.  Dit gaan oor dit wat ononderhandelbaar in die kerk is.  Dit gaan oor die vrae: Waarheen is ons op pad?  Wat is ons gedeelde waardes?  Die “non-negotiables” dra ons saam deur verandering.  Boshoff beklemtoon dat vastigheid te midde van verandering nodig is, anders is daar te veel onsekerheid by mense.  Hy praat van “verankerde verandering” wat nodig is.  Verandering moenie beteken dat letterlik enigiets in die gemeente nou kan verander nie; dan kry jy `n “back lash” en chaos. Volgens Boshoff het die erediens `n baie belangrike rol om te speel i.t.v. die opbou van die korporatiewe identiteit van die kerk.
2. Die groter diversiteit in die kerk moet hanteer word binne die raamwerk van die korporatiewe identiteit (sien punt 1 net hierbo) van die kerk.  Die voorsiening vir diversiteit en vir lidmate se verskillende behoeftes moet volgens Boshoff veral op die vlak van die verskillende programme in die kerk gemaak word.  `n Mens moet nie te veel van hierdie “verantwoordelikheid” (om diversiteit te hanteer) net op die “skouers” van die erediens laai nie.  Hou die erediens vir die korporatiewe en werk diversiteit by die programme in.
• Hoofstroom waardes vra groter informaliteit (nie oppervlakkigheid nie), meer uit oortuiging as reëls, minder hiërargie en meer deelnemend, minder groep en meer individu, meer aktuele diepteprediking, integrasie van verstand en geestelike belewenis.
• Konkrete Bybelgebaseerde missie en waardes moet dien as saambindende krag; akkommodasie van diversiteit via werkgroep gerigte programme en aksies.  Direkte koppeling tusssen missie, programme en waardes.
• Minder resepmatige en voorskriftelike “ek sê” prediking oor etiese en samelewingsprobleme, sonder verlies van klem op vaste waarhede/beginsels, maar aangevul met deelnemende Bybelstudie en gesprekgroepe.
3. Betrokkenheid in die samelewing/werkplek as barmhartigheidsgestalte van die kerk.  Werkgroepe van intergemeentelike, interkerklike, kerk-besigheids-aard.  Fokus: fundeer inhoud van nuwe orde, versoening, armoede/werkskep, moraliteitsprobleme.  Ek kan/moet as Christen `n verskil maak en daardeur ook geestelike groei ervaar.
4. Lidmaatbetrokkenheid.  Lidmate moet in transformasie begelei word via omgee, kontak, huisbesoek as koinonia; moet betrokke wees in probleemgerigte werkgroepe.  Selfgroei is nodig.
5. Moet in proses van behoeftegerigtheid nie te veel klem lê op akkommodasie van die fundamentalistiese of charismatiese drukgroepe nie, hoewel hulle baie aggressief kan wees.  Die gevaar is dat jy die kreatiewe hoofstroom kan vervreem. (By die praatjie het Boshoff gesê dat `n mens moet oppas om te veel aandag aan “Yesteryears” en “Todayers” in die NG Kerk te gee.  Hy wys daarop dat 60% van die NG Kerk aan die ander 3 groepe behoort.)
6. Prosesmatige beplanning en bestuur.
• Besigheidsbeplanning is altyd tydsgerig, kerklike beplanning is ten dele vas en ten dele tydsgerig.
• Strukture in die kerk moet voortvloei uit die strategie (“structure follows form”), tensy daar `n Bybelse opdrag tot die teendeel is.
• Klem op mensdimensie.
• Visieskepping met konkrete doelwitte i.p.v. dat probleme die proses dryf.
• Doelwitte moet herleibaar wees na meetbare projekplan en begroting.
• Deelnemende, pro-aktiewe, toekomsskeppende beplanningsproses.