{ARGIEF}

Dennison, C. The Artist’s Way of PreachingDenison,
C. The Artist’s Way of Preaching. WJK. 2006

Charles Denison is `n rare soort
Presbiteriaan.  Ek het hom drie jaar
gelede ontmoet in Louisville
waar hy tans leiding neem met die PCUSA se poging om `n klomp nuwe kerke te
plant. Hy is iemand wat self `n geseende bediening gehad het en wat in die
Midweste `n sterk nuwe gemeente begin het.

 

Die boekie oor die prediking was `n
verrassing in die sin dat ek nie van die belangstelling geweet het nie.  Tog is dit heeltemal in lyn met Denison se
werk en benadering.  Jy sal moeilik `n
sterk gemeente kan plant as jy nie aandag gee en dink oor jou prediking nie –
en die boek dra dieselfde onkonvensionele stempel as die res van Denison se
werk.

 

Die krag van die boekie is dat dit eintlik
net een punt wil uitlig en dit is wat Denison noem “the artist’s way”.  Daarmee bedoel hy dat ons nie net aandag moet
gee aan die rasionele elemente van die teks en kommunikasieproses nie, maar
meer bewus  moet wees van mense, hulle
stories en hulle emosies.  Hy meen dat
verbeelding (imagination) `n belangrike sleutel is wat ons toegang gee tot
hierdie wêreld. 

 

Denison het nie `n groot nuwe homiletiese
teorie nie en `n mens sal wat hy bied skaars `n 
homiletiek kan noem    `n Groot
deel van die boek wil predikante eintlik net help om hulle eie verbeelding te
begin gebruik.  Hy gee aandag aan
verskillende kante van verbeelding en gee ook aan die einde van elke
hoofstukkie oefeninge om lesers prakties te help met die ontwikkeling van hul
verbeelding.

 

Die meeste van ons dominees sal heelwat
leer uit die boek.  Ons is ook sterker
geskool in rasionele kommunikasie en verstaan nie altyd die taal van die hart
en die gemoed goed nie.  Die lees van die
boekie kan vir lesers die begin wees van `n
totaal nuwe manier van dink oor wat in die prediking kan gebeur.