{ARGIEF}

Die Gereformeerde siening van belydenis?

Enkele algemene gedagtes – Dirkie Smit -13-06-2006

  1. Heidelberg in DuitslandDie Gereformeerde tradisie is ‘n belydenistradisie. Geloofsbelydenisse en belydenisskrifte het van die begin af ‘n sleutelrol gespeel in die manier waarop dié tradisie homself verstaan en teenoor andere verstaanbaar gemaak het. Belydenisdokumente was van beslissende belang in Gereformeerde kerke se pogings om telkens weer uitdrukking te gee aan hul eie verstaan van die één evangelie van die Drieënige God vir hulle spesifieke tyd en omstandighede. Sulke Gereformeerde belydenisdokumente is altyd openbare getuienisse van wat dié kerke en gelowiges glo aangaande die waarheid van die evangelie en hoe hulle hulself telkens in hul eie tydsgewrig en omgewing gebonde sien aan die vroeë kerk se oer-belydenis dat Jesus die Here is.
  2. In ‘n sekere sin deel die Gereformeerde tradisie dié karaktertrekke met die breër Protestantisme. Met reg beskryf Jonker gevolglik belydenisskrifte as “tipies Protestantse verskynsels”. Ander kerklike tradisies – soos die Katolieke Kerk en die Ortodokse Kerke – het nie werklik belydenisskrifte in die Protestantse sin van die woord nie, aangesien hulle ander institusionele maniere en strukture het om die soort funksies wat Protestantse belydenisskrifte vervul, te hanteer
  3. In talle opsigte hang die mees wesenlike verskille tussen die groot tradisies juis met hierdie onderskeide saam – oor die aard van die waarheid, die lokus, aard en rol van gesag binne die kerk, die funksie van kerklike en teologiese besluite en formuleringe, die medium van kontinuïteit en trou aan die tradisie, die aard van geloof en persoonlike verbondenheid aan die evangelie. Vir die Protestantisme is dié sake almal aan die belydenis van die kerk gekoppel.
  4. Selfs binne die Protestantse geledere self is dit egter ook nodig om fyner te onderskei. Só gebruik alle tradisies en geloofsgemeenskappe binne die Protestantisme natuurlik nie almal uitdruklik die term “geloofsbelydenisse” nie. Dis immers nie ‘n tegniese term nie. Dit slaan nie net op spesifieke soort dokumente, wat volgens sekere generiese voorskrifte opgestel is en aan sekere algemene kriteria voldoen, sodat dit byna meganies moontlik is om te oordeel of sekere dokumente wel belydenisskrifte is, of dalk nie aan die kriteria voldoen nie. Enige sodanige benadering berus op formalistiese misverstande oor die aard van belydenisgeskrifte.

Laai die hele dokument hier af.