{ARGIEF}

Die mening van die mall

Neels Jackson

Die mall is ‘n deurmekaar plek. En as ek oor die mening van die mall moet praat, gaan dit seker ook plek-plek deurmekaar raak. Daarvoor vra ek by voorbaat om verskoning.

En terwyl ek by verskonings is: ek praat uit ‘n Pretoriase perspektief – wat malls en kerke betref. Ek was darem al ‘n slag in ‘n Bloemfonteinse kerk en in ‘n Vrystaatse sinode, maar julle malls ken ek glad nie. My verwysingsraamwerk is Menlyn en die Centurion Mall. En dan het ek darem al ‘n slag of wat my weg gesoek in die Kaapse Waterfront en in Johannesburg se Cresta – en dit was net genoeg dat ek uit ervaring kan praat van hoe deurmekaar ‘n mall kan wees as jy hom nie ken nie en hoe maklik jy daarin verdwaal kan raak.

Om net ‘n bietjie by dié punt stil te staan, kom ek vertel julle van die algemene handelaar op Vanzylsrus in die Kalahari. Altans ek dink dit was Vanzylsrus waar ons familie jare gelede ‘n slag gestop het toe ons met vakansie was. Wat ek onthou van die winkel toe ons daar ingestap het, was die boerderytoerusting wat daar gelê het. Maar ons het ook daar koeldrank gekoop en my skoonpa kon ‘n tjek daar wissel, wat hulle het sommer die plaaslike Volkskas-agentskap ook gehad. Dit was koöperasie en kafee en bank en waarskynlik nog ‘n klomp goed ineen. As jy daar vir die winkelier om ‘n mening gevra het, oor die kerk of oor enigiets anders, dan sou jy waarskynlik ‘n duidelike en ondubbelsinnige antwoord kon kry.

Maar nie in Menlyn nie. En dit is die eerste punt wat ek wil maak. In vandag se malls is daar nie net een mening nie. Soos mededingende klerewinkels of eetplekke of banke in vandag se malls langs mekaar sake doen, word daar in die spreekwoordelike mall waarin die kerk hom wil waag, verskillende, uiteenlopende en dikwels botsende idees langs mekaar gesmous. Die wêreld waarin ons leef, het ‘n groot mark van idees geword. En omdat die groot wêreld deur globalisasie so klein geword het het, kry jy nou letterlik die hele wêreld se sieninge langs mekaar en deurmekaar op hierdie mark.

Dis so anders as net 20 jaar gelede, as toe ek ‘n tiener en ‘n student was, toe my denke aanvanklik gevorm is. Toe was ons, in ons wit NG wêreld, almal eenders. Die kerk kon een duidelike boodskap op een manier bring en almal wat hy wou bereik sou verstaan. Soos in die algemene handelaar se winkel op Vanzylsrus, sou die gesprekke redelik eenvoudig wees. Al het ons destyds soms heftig van mekaar verskil en met mekaar baklei oor die meningsverskille, het ons almal verstaan waaroor ons verskil. Nou is dit nie meer so nie. Ons het nie meer een winkel nie, maar ‘n horde winkels van verskilende groottes en soorte langs mekaar. Ons het nie meer een mark nie, maar ‘n klomp verskillende marksegmente, elk met sy eie eienskappe en vereistes. En ons verstaan mekaar dikwels nie meer nie.

Dit lyk my my taak is vandag om as toergids op te tree terwyl ons saam deur die hedendaagse mall gaan stap. En ek doen dit nie omdat ek die mall so goed verstaan nie, maar bloot omdat ek vanuit die posisie wat ek beklee die geleentheid het om dalk meer as party ander mense deur dié mall te beweeg en by die verskillende winkels in te loer. Julle almal ken natuurlik die mall, of dele van die mall, uit jul eie perspektief en hopelik kan julle dit tydens die gespreksgeleenthede ook op die tafel sit dat ons daaroor kan gesels en dat ons almal uiteindelik dié deurmekaar plek wêreld wat ons in die gesprek met die metafoor van die mall beskryf, beter verstaan.

Wat ek van my kant af wil doen, is om oor ‘n klompie winkels in die mall te gesels, oor ‘n klompie van die marksegmente waarmee die kerk vandag moet rekening hou.

1. Diegene wat die kerk vyandig gesind is.

Die eerste plek wat ek wil inloer, laat my aan ‘n tabakwinkeltjie dink. Dis klein, nie baie besig nie, maar dit verkoop gif – en as jy jou te veel aan sy produkte blootstel, maak dit die wêreld net onaangenaam.
 Dis die groepie mense wat openlik vyandig is teenoor die kerk en teenoor godsdiens en geloof in die algemeen. Dis die soort mense wat briewe aan die koerante sal skryf met skuilname soos “Denker” en wat dan vertel hoe gevaarlik godsdiens vir die samelewing is.
 Dié groepie mense is ‘n relatief nuwe verskynsel in ons samelewing. Natuurlik was daar altyd ongelowiges. Soos die armes sal hulle ook altyd met ons wees. Maar die soort anti-godsdienstige aktivisme wat ‘n mens nou elke hier en daar sien uitslaan, het ons nie vroeër geken nie.
 Twintig jaar gelede was omtrent almal in ons samelewingskring minstens nominaal Christene, al was dit dan ook net omdat ‘n mens ‘n getuigskrif van ‘n dominee nodig gehad het as jy aansoek wou doen om werk.
 Nou is daar al meer mense wat hul vryheid van gewete en vryheid van spraak benut en hul openlik van die kerke distansieer en selfs openlik vyandigheid teenoor die kerke probeer monster.
 My raad is om sulke mense bloot te ignoreer. Moenie terugbaklei nie, want dit bevestig net al die stereotipes wat hulle het van die kerk as ‘n vyandige plek wat andersdenkendes vervolg. Maar wees ook versigtig om jou nie by hulle debatte te laat intrek nie. Dit tap net ‘n klomp energie en die kanse dat jy hulle gaan oortuig, is nie goed nie.
 Natuurlik het die kerk ‘n verantwoordelikheid om die evangelie aan alle mense oor te dra. Die kans is egter klein dat ‘n mens dié groep iets nuuts van die evangelie gaan vertel. Hulle ken die boodskap, hulle ken ook al die vrae, al die gewone antwoorde en al die antwoorde daarop.
 Ek dink as ‘n mens vir jouself sê jy wil net die saadjies gaan saai, moet jy weet dis soos om driekwartpad teen ‘n steil berg op te klim en die saadjies dan daar tussen die rotse te gaan saai. Die moeite wat dit verg, is ongelooflik groot en die kans op ‘n oes is skraal.
 Hier en daar in die groot spektrum van mense in die kerk is daar enkelinge wat dit geniet om vriendelike gesprekke met sulke mense aan te knoop. Ek dink ‘n mens moet hulle laat begaan. Jy moenie die kletskerk probeer toemaak nie.
 Vir die meeste gemeentes en dominees en lidmate, sou ek egter wil sê: Moenie in rusies met sulke mense gewikkel raak nie. Moenie toelaat dat hulle julle te veel ontstel nie. Wees altyd vriendelik en geduldig teenoor hulle en leef op ‘n manier wat van Christus getuig. Jou dade sal harder praat as enige woorde wat jy kan sê – en dan laat jy dit verder aan die Heilige Gees oor om daardie harte te oortuig as en wanneer Hy wil.

2. Dié wat na Angus Buchan toe stroom – met ‘n behoefte aan ‘n deurleefde evangelie.

As ons nie in die tabakwinkeltjie wil vashaak en ‘n klomp vrugtelose energie daar wil bestee nie, waarheen gaan ons dan? Waar gaan ons ‘n klomp mense kry wat in terme van die gelykenis van die saaier as “vrugbare grond” sou kon tel?
 Menlyn het ‘n “food court”, ‘n area waar daar ‘n klomp eetplekke bymekaar is en waar jy jou honger kan gaan stil. In die mall van ons lewe is dit waarheen ons moet gaan. Daar sal ons ‘n klomp mense kry by plekke soos “Angus Buchan fast foods”.
 Voor iemand my verkeerd verstaan, ek bedoel dit glad nie of op enige manier neerhalend nie. Dis ‘n plek waar honger mense kos kry, en soos ons die afgelope tyd gesien het, mense stroom daarheen.
 Wat sê die verskynsel vir ons?
Vir my lyk dit die groot boodskap wat ‘n institusionele kerk soos die NG Kerk moet raaksien, is dat daar by duisende mense ‘n geweldige honger is na ‘n deurleefde evangelie – en dat dié honger klaarblyklik nie hul kerke gestil word nie.
 Ek dink daar is ‘n paar redes daarvoor. Die een is dat ‘n getuienis dikwels, gewoonlik, ek wil amper sê altyd, sterker is as ‘n preek. Dis immers een ding as ‘n dominee op die kansel staan en vertel hoe Abraham of Jakob of Josef ‘n ontmoeting met God gehad het.
 Dis iets anders as ‘n mens van vlees en bloed, iemand wat jy dalk ken of van wie jy ten minste weet, iemand wat in dieselfde tyd en dieselfde wêreld as jy woon, opstaan en vertel hoe hy of sy ‘n ervaring met God gehad het.
 Ons tradisie, die gereformeerde tradisie, maak nie eintlik voorsiening vir getuienisse nie. Ons eredienste wentel om ‘n preek, wat dikwels vertel hoe dinge behoort te wees, maar nie regtig hoe dinge is nie. Getuienisse gaan oor iets wat regtig was.
 Daar is ‘n ander leemte in ons tradisie wat hiermee verband hou en dit gaan oor die posisie van ons dominees. Ek kry hulle dikwels jammer. Ek dink nie dis hulle skuld nie en dis natuurlik ook nie met almal in dieselfde mate die geval nie, maar die opset waarin ons dominees werk, bring mee dat hulle in ‘n meerdere of mindere mate wêreldvreemd is.
 Hulle is kenners van die teks, maar die konteks waarin lidmate leef en moet oorleef, is iets wat hulle nie self ervaar nie. Hulle ken die moeilikhede van die daaglikse lewe, veral die daaglikse beroepslewe, dikwels nie so goed soos die lidmate dit ken nie.
 En hierin is Angus Buchan anders. By hom hoor lidmate, en veral boere, nie in die eerste plek teologie nie. Hulle hoor stories uit die lewe van ‘n boer. Hulle hoor nie eeue-oue dogma oor ‘n God nie, hulle hoor verhale van die magtige dade van ‘n lewende God in die hier en die nou van ‘n wêreld vol moeilikheid. En dit gryp hulle aan. Hulle is honger daarvoor en daarom stroom hulle soontoe.
 ‘n Derde aspek van Angus Buchan se bediening wat mense trek, is die eenvoud van die boodskap.
 Eenvoud is die sterkpunt en die swakpunt van enige kitskosplek. Met sy elf kruie en speserye het die kolonel van Kentucky ‘n trefferresep ontwikkel. En oom Angus, soos baie mense hom noem, het ook sy lysie van kruie en speserye waarmee hy sy boodskap geur gee.
 Goed soos die uitroep: “Good people don’t go to heaven, believers go to heaven.” Mense hou daarvan.
 Maar soos met die kolonel se hoender, waarvan ek ‘n groot aanhanger is, kan ‘n mens nie net dit eet nie. Is daar iewers ‘n teksvers wat sê: “ ‘n Mens sal nie van kitskos alleen leef nie”?
 So wat staan die kerk te doen? Ek dink nie die kerk moet met Angus Buchan probeer meeding nie. Hy is nie kompetisie vir die kerk nie. Hy is ‘n bondgenoot.
 Om terme te gebruik wat ek by ‘n vriend van my uit die bemarkingswetenskappe gehoor het: Angus Buchan is net ‘n ander distribusiekanaal vir dieselfde produk as wat die kerk bemark: voedsel vir die siel.
 Wat die kerk wel kan doen, is om Buchan se boodskap aan te vul, om ‘n bietjie nuanses by die spyskaart by te voeg, groente en vrugte as julle wil.
 Die kerk kan help om die prentjie wat Angus vir mense in buitelyne teken, vollediger te maak.
 ‘n Ander ding van kitskos is natuurlik dat dit ongesond kan wees. My vrou is byvoorbeeld bekommerd dat die olie van die kolonel se hoender my cholestrolvlakke nog verder kan opjaag.
 Net so kan ‘n mens kyk of daar ongesonde elemente in die boodskap is wat Buchan preek. Ek wil net twee goed ter oorweging noem.
 Die taal waarin Buchan oor die huwelik praat, oor die man wat die hoof van die huis is, kan vatbaar wees vir ‘n slegte interpretasie. Veral by vroueteoloë hoor ek dat baie vrouens ly onder mans wat hulle juis op sulke taal beroep.
 Ek dink Buchan is taamlik duidelik daaroor dat dit nie sy boodskap is nie, maar kerke kan hul lidmate dalk help om te dink oor die taal wat hulle gebruik as hulle oor die huwelik praat.
 Die tweede aspek van Buchan se boodskap waar die kerk dalk mense kan help om meer genuanseerd te dink, is oor wonderwerke. Vir Buchan is God die Wonderwerker. Hy het dit in sy lewe beleef en hy preek dit in reguit taal.
 God se wonderwerke is natuurlik ‘n moeilike saak om teologies te hanteer. Mense verval so maklik in uiterste standpunte. Aan die een kant dink party dis nonsens. Dit gebeur nie meer in ons dag nie. Ek sou nie graag daardie pad wou stap nie.
 Aan die ander kant is daar egter mense wat as’t ware wonderwerke van God wil afdwing, wat wil glo dat God wonderwerke op aanvraag gee, amper soos daardie masjien in ons kantoor wat iemand ‘n blikgriek gedoop het: Jy gooi jou paar rand in ‘n gleufie, druk die regte knoppie en hy spoeg vir jou ‘n koeldrank uit.
 Ek dink daar is ‘n gevaar dat mense wat na Buchan luister, so oor wonderwerke kan begin dink. Ek dink die kerk kan hulle help tot ‘n meer genuanseerde siening van ‘n moeilike saak.

3. Die soekers

Daar is ‘n ander groepie mense in die mall oor wie ek iets wil sê. Jy sal hulle in ‘n boekwinkel kry. Dis nie ‘n Christelike boekwinkel soos Cum-boeke of Gospel Direct nie. Ek dink dis dalk ‘n Exclusive Books. Maar jy kry die ouens by die rak met godsdienstige boeke.
Dis mense met baie vrae – en vrae wat nie noodwendig langs die lyne van die kategismus loop nie. Hulle is anders as die mense in die tabakwinkel. Dié het reeds vir hulself antwoorde gekry en dis antwoorde wat die godsdiens afskryf.
Diegene wat in Exclusive Books rondhang, wil nie breek met die godsdiens nie, maar dinge is vir hulle ook glad nie so eenvoudig soos vir Angus Buchan nie.
Kom ek gee vir julle twee voorbeelde van die soort vrae waarmee hulle worstel.
Die een is ‘n baie ou vraag. Dis die vraag na hoe ‘n mens God se almag en sy beweerde goedheid versoen met die lyding wat ons sien en ervaar. Dis nie ‘n vraag waarop kitsantwoorde werk nie. Kitsantwoorde is om die waarheid te sê die laaste soort ding waarmee die kerk sulke mense moet probeer help. Miskien is die beste ding wat die kerk vir so iemand kan doen, om by hom of haar te gaan sit, iets van die worsteling te probeer deel en vir hom of haar lief te hê.
‘n Tweede vraag is, dink ek, ‘n nuwer vraag. Dis een wat ek van die Nuwe Hervormers aan die een kant en van die kreasioniste aan die ander kant hoor – en dis een waarop ek die kerk nog nie ‘n goeie antwoord hoor gee het nie.
Op ‘n manier gaan die vraag na die hart van die evangelie soos dit tradisioneel verwoord is. Maar omdat dit ‘n groot vraagstuk met baie kante is, is dit vir my moeilik om dit kort en bondig te verwoord.
Miskien moet ek begin by die vraag hoe God die wêreld geskep het.
Die kreasioniste voel baie sterk dat die skeppingsverhaal in Genesis 1 letterlik gelees moet word. As ‘n mens dit nié doen nie, so redeneer hulle, as ‘n mens aanvaar dat die wêreld soos ons dit ken oor baie, baie  eeue ontstaan het en dat natuurlike seleksie deel was van die ontstaansproses, het dit groot implikasies vir wat die kerk leer.
Dit beteken dat dood deel was van die skeppingsproses en nie die resultaat van die sondeval nie. Dit beteken die dood is deel van God se skeppingsdoel (as jy dan nog God se hand in die ontstaansproses wil sien). As dit deel is van die skeppingsdoel, dan kan dit nie iets wees wat Jesus Christus moes kom oorwin nie. As pyn en lyding en dood deel was van die manier waarop God geskep het, het dit implikasies vir die karakter van die God waaroor ons praat.
Dit maak ook die hele leer van sondeval en verlossing onhoudbaar. Die kreasioniste se oplossing vir dié verstaansprobleem is om die skeppingsverhaal van Genesis 1 letterlik te verstaan.
Dit ondanks die feit dat goeie Bybelwetenskaplikes sê dat dit nie ‘n historiese verslag is wat bedoel was om letterlik te verstaan nie. Dit ook ondanks die groot getuienis van wetenskaplikes dat die lang ontstaangeskiedenis van die wêrreld waarin verskillende lewensvorme oor ‘n lang tyd deur middel van ‘n proses van natuurlike seleksie ontstaan het, die mees aanvaarbare wetenskaplike verstaansmodel is.
Aan die ander kant hoor ek van die Nuwe Hervormers die teenkant van die argument. Hulle aanvaar die lang ontstaansgeskiedenis van die wêreld en die nie-letterlike interpretasie van Genesis 1. Hulle voel soos die kreasioniste die leer van sondeval en verlossing is (onder meer in die lig daarvan) onhoudbaar. Hul o-plossing vir die probleem is om afstand te doen van die leer van sondeval en verlossing.
Nou: die nuwigheid van die Nuwe Hervormers het gekom en gegaan. Hulle is nie meer sulke groot nuus soos ‘n paar jaar gelede nie. Maar hulle vrae bly.
Hierteenoor sien ek al meer tekens daarvan dat die kreasioniste aktief sendingwerk doen vir hul idees. My spesmaas is dat die debat oor die kreasionisme oor ‘n paar jaar ‘n heelwat groter deel van die kerklike toneel gaan wees as nou.
Intussen hang daar reeds in ons mall, by Exclusive Books se rak met godsdienstige boeke, ‘n klompie mense rond met ‘n klomp vrae in die gemoed.
Hulle aanvaar goeie Bybelwetenskaplikes se standpunt dat Genesis 1 nie ‘n letterlike verslag is van die skeppingsgebeure nie. Letterlik gelees bots dit immers op punte met Genesis 2 se skeppingsverhaal.
Hulle aanvaar ook die breë natuurwetenskaplike stroom se getuienis oor die ontstaan van die aarde, evolusie en al.
Hulle sien dat dit die tradisionele interpretasie van sondeval en verlossing in gedrang bring. Ook dat die Bybelse siening van dood ondermyn, en dat dit vrae oor die karakter van God opper. Maar hulle wil nie hulle geloof in God of hul band met die kerk laat vaar nie. Hulle soek egter na ‘n manier om sin te maak van dit alles. Hulle hoop dat die kerk vir hulle antwoorde sal gee.
Op die oomblik, lyk dit my, is daar nog nie veel sulke mense nie. Dalk enkeles in ‘n gemeente. Maar as die kreasioniste ‘n hoër profiel in ons samelewing begin kry soos ek verwag, gaan meer en meer mense oor dié soort vrae begin wonder. En dan moet die kerk reg wees met antwoorde.
Miskien is dit ‘n vraag vir die dogmatici in ons geledere.

4. Diegene wat seer het

As dié soekers na antwoorde ‘n klein groepie mense is, kom ek wys julle ‘n ander en baie groter groep in ons mall. Jy sien hulle eintlik die duidelikste buite die mall. Dalk in die parkeerterrein waar hulle met die swaai van ‘n lap vir jou ‘n parkeerplek aanwys wat jy in elk geval self raakgesien het. Dalk by die uitgang van die parkeerterrein waar hulle by die verkeerslig met ‘n plakkaat staan wat iets sê soos: “Werkloos. Moedeloos. Vrou en drie kindertjies, Help asb. God seën u.”
 Laat hierdie mense vir ons die simbool wees van almal in ons samelewing wat op die een of ander manier seer gekry het, wat die een of ander nood het.
 Ek betrap my elke nou en dan dat ek verstom staan oor hoeveel mense in dié kategorie val. Goeie kerkmense én vreemdelinge daarbuite.
 Soms is die nood ‘n verbrokkelde huwelik. Dikwels is dit werk- en dakloosheid. Miskien is dit ‘n siekte. Dalk ‘n verslawing. Dalk eensaamheid. Of dalk is hulle slagoffers van misdaad. In die praktyk van die bediening kry dominees seker daagliks met sulke gevalle en nog meer te doen.
 Uit hierdie groep kom daar ‘n luide noodkreet wat die kerk moet hoor en waarop die kerk met baie vrug kan reageer.
 Kom ek deel met julle enkele gedagtes oor die manier waarop die kerk op hierdie mense se nood kan reageer.
 Die eerste is dat sulke mense nie in die eerste plek preke nodig het nie, maar liefde wat hulle kan voel.
 Ds. Danie du Toit van Waterkloof het ‘n baie mooi beeld waarmee hy dit verduidelik.
 Hy teken die prentjie van mense wat in ‘n kerkgebou sit. Hulle kyk hoe die lig deur die vensters val en hoe die prentjies van die gebrandskilderde vensters met hule praat. Daar is drie sulke vensters. Van links na regs stel hulle onderskeidelik drie groot konsepte voor: geloof, hoop en liefde. Dis ook hoe die gelowiges binne die kerk dit ervaar. Hulle geloof is hulle anker. Dit bring vir hulle hoop en dit loop uit in die liefde wat hulle uitleef na buite toe.
 In die aand, as die kerkgebou se ligte aan is, loop daar ‘n boemelaar aan die buitekant van die kerk verby. Hy sien hoe die lig deur die vensters val en hoe die drie groot konsepte van 1 Korintiers 13 uitgebeeld word.
 Vir hom is die volgorde van links na regs egter omgekeerd. Eers, liefde, dan hoop en dan geloof. Vir mense soos hy, is dit hoe dit werk. Die eerste wat hulle ervaar as die kerk uitreik na hul nood, is liefde. Dit bring vir hulle hoop. En dié hoop kan uitmond in geloof.
Hoor die boodskap: praktiese liefdesdiens, missionêre diakonaat as jy wil, is dalk vandag die sterkste manier van almal om die evangelie te verkondig.
‘n Tweede gedagte hieroor. Gewone lidmate het dikwels leiding nodig om sinvol uit te reik na die nood daarbuite. Dit gebeur so maklik dat ‘n uitreikaksie hul eie gewetes stil sonder om werklik ‘n verskil aan iemand se lewe te maak.
‘n Mens sien dit veral dikwels met Kerstyd. Dan loop mense oor van welwillendheid en dan wil hulle uitreik na die arme kindertjies in kinderhuise of na die arm gemeenskappe in die weste van Pretoria. Ek weet nie waar bly Bloemfontein se armes nie.
Die tipiese projek wat ontstaan is dat die gemente gevra word om Kersgeskenke te bring (dalk gemerk “seun van 12” of “16-jarige dogter”). Dan word dié Kersgeskenke, dalk saam met ‘n Bybelversie oor God se liefde, aan hulle uitgedeel.
Die bedoeling is goed, maar ek het al te veel gehoor van kinderhuiskinders of arm gemeenskappe wat teen Kersfees heeltemal blasé rak or dié sort geskenke. Dié tyd van die jaar word hulle oorval daarmee en die res van die jaar gebeur daar niks.
Dis baie belangrik om met so ‘n uitreik oorleg te pleeg met die mense wat op die grond werk met die teikengehoor. Gaan hoor by die Kinderhuis se bestuur wat hulle werklik nodig het. Gaan praat met die maatskaplike werkers of kerke wat deurlopend by die arm gemeenskappe betrokke is.
Oorweeg ‘n deurlopende betrokkeneheid op klein skaal pleks van ‘n stortvloed goed nou en niks vir die res van die jaar nie.
En die moeilikste van alles: persoonlike betrokkenheid. As jy regtig ‘n verskil wil maak, moet jy verhoudings bou met die mense wat jy wil help. En dit moet ‘n volgehoue ding wees as jy ‘n getuienis wil oordra. Daardie mense is al so dikwels in die steek gelaat deur die lewe, dat jy dit nie ook moet doen nie. Dit vra baie, maar dit dra die beste moontlikheid van sukses.
Miskien moet ek ter aanvulling van dié gedagte iets sê oor twee soorte godsdiens. In my lewe in die kerk het ek gesien dat daar twee groot maniere is waarop mense godsdienstig is.
Vir die een groep is gehoorsaamheid die sleutel tot hul godsdiens. Hulle bestudeer die Bybel om God se wil te ontdek, om God se reëls vir hul lewe te ontdek. Hulle probeer nougeset daarvolgens leef. Hulle preek daaroor en hulle behandel ander mense daarvolgens. Hulle wys hulle op hul sonde ens en preek bekering. Hulle is dikwels baie opreg in hul bedoelings, maar hul godsdiens is dié van die fariseërs.
Vir die ander groep is die sleutel van hul godsdiens die liefde. Dit lê in verhoudings met ander mense. Dit gaan oor omgee en sorg, oor ondersteun en dra. Hulle verstaan dikwels instinktief wat Jesus bedoel het toe hy gesê het dat sy volgelinge se gehoorsaamheid meer moet inhou as dié van die fariseërs. Hulle verstaan waarom Jesus die wet opgesom het in ‘n verhoudingsterm, die liefde. Hulle verstaan die boodskap van Matt.25.
Dit lyk vir my dat as die kerk wil uitreik na die groot groep mense in nood, dan moet die kerk dalk ‘n bietjie minder gebruik van sy tradisionele taal van sonde, bekering en verlossing en dalk ‘n bietjie meer taal van gebrokenheid en heling moet inspan.

5. Die openbare debat

Terug in die mall, terug in die Exclusive Books of dalk in die CNA, is daar iemand wat ‘n koerant optel en dit lees. Die nuus wat hy lees is nie goed wat direk uit sy lewe kom nie, maar baie daarvan is goed wat ‘n direkte impak maak op sy lewe,
 Omdat die kerk ook in dié openbare domein funksioneer, wil ek iets daaroor sê.
 Kom ek vertel vir julle van twee getuienisse.
 Onlangs kry ek ‘n stuk van prof. Piet Strauss, moderator van die NG Kerk, oor die voorgestelde onteieningswet. Ek skryf ‘n berig daaroor, en dit verskyn iewers op bladsy 9 of 12 van Beeld. Ek wonder by myself hoeveel impak maak dit.
 Hiertenoor reis dr. Braam Hanekom en dr. Allan Boesak, die Kaapse moderators van die NG Kerk en Verenigende Gereformeerde Kerk, vroeër vanjaar na Zimbabwe. Hulle stel ‘n lywige dossier saam van die menseregtevergrype wat midde in die verkiesingsveldtogte daar plaasvind.
 Hulle lê dit aan die Suid-Afrikaanse raad van Kerke voor wat dit aan pres. Thabo Mbeki se kantoor stuur. Die SARK vat dit na die leiers van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap toe en uiteindelik word dit ook na Ban Ki Moon en die Verenigde Nasies geneem. Dit help om die wêreldmening te swaai teen Robert Mugabe en die legitimiteit van enige aanspraak wat hy het om te regeer.
 Vir my het dit net gelyk dat ‘n openbare getuienis wat die NG Kerk op sy eie doen, baie minder krag het as een wat hy en sy familie saam doen. Dis maar een rede waarom kerkeenheid vir die NG Kerk belangrik is.
 Solank die NG Kerk nie verenig met sy gekleurde familie nie, sal hy vir altyd as die apartheidskerk gesien word, sal hy vir altyd ongeloofwaardig bly. Dit mag onbillik wees, maar dis hoe dit is.
 Die eenheidsgesprek is nou in die moeilikheid omdat die terugvoer uit die NG Kerk se gemeentes negatief was oor kerkeenheid en oor die belydenis van Belhar.
Die gemiddelde mens in die mall wat die koerant koop en lees, stel nie vreeslik belang in al die nuanses van die kerkeenheidsgesprek nie. Vir hom of haar is die vraag of dit gebeur of nie. Vir my lyk dit asof dominees in plaaslike gemeente ‘n groot rol kan speel om dit te laat gebeur of nie te laat gebeur nie.

6. Oor modes

Kom ek sê ‘n kort ietsie oor die klerewinkels in die mall. Dis die plek waarheen mense gaan om iets te kry wat in die mode is.
 Vir die kerk, veral in sy erediensstyl, plaas dit nogal voor ‘n interessante uitdaging. Hoe rig die kerk sy byeenkomste in? Ek dink dis belangrik om eietyds te wees. Ek dink dis belangrik om dit in ‘n styl te doen waarin lidmate gemaklik voel.
 Maar dis essensieel dat dit nie maar net nog ‘n byeenkoms moet wees nie. Dis essensieel dat daar steeds ‘n gevoel van verhewenheid behou word. Die erediens is immers ‘n ontmoeting met God en mense moet dit so kan beleef.

7. Oor flieks

Terwyl ons dan by erediens styl is. Let op hoe besig die flieks in die mall is. Sien raak dat daar in die Spur en by ander restaurante TV-stelle is waar die beelde rol terwyl mense kuier en eet. Maak ‘n nota in die agterkop dat die oudiovisuele by uitstek die kommunikasiemedium van ons geslag is. Gaan dink oor hoe julle dit ook in jul eredienste kan inspan. Jesus het in die mondelinge tradisie warin hy geleef het, die kommunikasiemedium van sy tyd gebruik. Hy het stories vertel. Gaan kyk hoe julle die kommunikasiemedium van ons tyd kan benut.

8. Die onderwys

Oor die baie kinders wat in die mall ronddwaal, sou ‘n mens ‘n klomp goed kon sê. Ek wil vir nou net  ‘n pleidooi deurgee wat ek verlede week van mnr. Paul Colditz van Fedsas gehoor het. Hy het by kerke gepleit om weer en meer direk by skole betrokke te raak. En sy pleidooi het drie dele gehad:
 Die eerste gaan oor beheerliggaamverkiesings. Gemeentes kan ouers aanmoedig om daaraan te gaan deelneem. Dis ‘n klein maniertjie om sout van die aarde te wees. Hy mis ook dominees se betrokkenheid by beheerrade.
 Tweedens kan kerke jong mense aanmoedig om in die onderwys te gaan studeer. Daar was in vanoggend se Beeld weer ‘n stewige berig oor die tekort aan spesifiek Afrikaanssprekende onderwysers wat oor ‘n paar jaar gaan ontstaan. En in ander skole lyk dit nog erger. As ons ons mense wil aanmoedig tot ‘n lewe van diensbaarheid, is hierdie ‘n groot geleentheid om dit te doen.
 Derdens het skole dit nodig dat kerke direk betrokke raak ny die morele leiding in skole. Een mooi voorbeeld uit my ervaring: In ons gemeente het ons ‘n goeie klompie opgeleide beraders. Dit, moet ek byvoeg, is danksy een van die nabygeleë gemeentes wat ‘n goeie beradingsentrum het wat beraders oplei wat ver buite hulle grense werk. Maar ons beraders werk nie net in ons gemeente nie. Van hulle is ook betrokke by die beradingsentrum wat by ons plaaslike hoërskool gevestig is. En hulle doen wonderlike werk daar. Ek dink dis die soort ding waarvan Paul Colditz meer sou wou sien.

9. Die veiligheidswagte

Laastens: kom ons kyk net gou hoeveel veiligheidswagte en veiligheidsmaatreëls ons in die mall sien. Dis maar ‘n aanduiding van hoe ‘n groot kwessie misdaad en veiligheid in ons samelewing geword het.
 Nou klink misdaadbestryding dalk nie na iets wat direk op die kerk se terrein val nie. In elk geval nie so direk as die berading van die slagoffers nie. Maar as ons so dink moet ons dalk weer gaan dink wat beteken dit om sout vir die wêreld te wees. In ons gemeenskap het ons kerk en ‘n ander kerkgroep ‘n leidende rol gespeel om ‘n aktiewe gemeenskapspolisiëringsforum op die been te bring. Die vergaderings word in ons kerkgebou gehou. Die afkondigings daarvoor staan tussen ons ander afkondings en en van ons dominees staan in die hart van die organisasie daarvan.
 Die mall het sy veiligheidswagte nodig en ek dink nie daar is enige rede waarom die kerk nie ‘n rol daarin kan speel nie.

Ek kon nie aan ‘n mooi simboliese rede dink waarom ek juis by nege punte moet volstaan nie, maar ek dink ek het nou genoeg gepraat. Die tyd is in elk geval verby.